ALKOHOLMISBRUIK DINSDAG 27 AUGUSTUS 2024
JOHANNES 2:7-10 “En toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: Hulle het geen wyn nie…..”

Jesus se eerste wonderwerk was toe Hy water in wyn verander het tydens ‘n troue in Kana. Hierdie gebeurtenis is merkwaardig, want dit toon Jesus se bereidheid om Gesondheid, vreugde en seën te bring in die alledaagse oomblikke van die lewe. Gesondheid want die water was nie altyd drinkbaar nie, maar wyn wel as gevolg van die fermentasie prossese. Wyn, in hierdie konteks, word ook gesien as ‘n simbool van vreugde en viering, en Jesus se betrokkenheid hier wys dat die gebruik van alkohol nie inherent sondig is nie. Daar was seker nie ’n oom wat die troue onsmaaklik gemaak het, toe hy dronk was… Dit is eerder die misbruik daarvan wat gevaarlik en sondig kan wees. Jesus het wyn gemaak en gedrink, en het dit selfs gebruik tydens die instelling van die Nagmaal. Die sleutel is dus nie die verbruik van alkohol nie, maar die beheer daaroor en die bedoeling waarmee dit gedoen word.
Terwyl die Bybel nie die gebruik van alkohol verbied nie, waarsku dit herhaaldelik teen dronkenskap en die gevare daarvan. Dit is die oormatige gebruik en die verlies van selfbeheersing wat lei tot sondige gedrag en die vernietiging van verhoudings. Naderhand kry jy elke dag om iets te vier … Die skade wat deur alkoholmisbruik veroorsaak word, is duidelik in die samelewing – gebroke gesinne, verwoeste huwelike, en verlore lewens. Dit is noodsaaklik vir elke Christen om hulle eie gebruik van alkohol te oorweeg en te vra of dit op ‘n wyse gebruik word wat God eer. As alkohol vir jou ‘n stryd of versoeking geword het, is dit tyd om ernstig daaroor na te dink en moontlik hulp te soek.
Jesus se wonderwerk van water in wyn verander, sê vir ons dat God goeie dinge vir ons wil gee, maar ons moet dit met wysheid en selfbeheersing gebruik. Hy gee ons die vreugde en vryheid om die lewe te geniet, maar met verantwoordelikheid en bewussyn van die invloed wat ons keuses op onsself en ander het. Mag ons altyd streef om God te eer in alles wat ons doen, insluitend die keuses wat ons maak rondom alkoholgebruik. Met die huidige hoë persentasie alkohol (baie hoër as Bybelse tyd) is dit miskien raadsaam om sober fees te vier!

GEBED Here, ons kom voor U en vra vir U wysheid en leiding in ons lewens, veral wanneer dit kom by die gebruik van alkohol. U het vir ons goeie dinge gegee om te geniet, maar help ons om dit met selfbeheersing en wysheid te gebruik. Behoed ons van die gevare van oormatige gebruik en help ons om in alle dinge U Naam te verheerlik. Here, vir diegene wat verslaaf is en diegene wat alkoholmisbruik, bid ons dat U hulle sal vrymaak en hulle die krag sal gee om beheer oor hul lewens te herwin. Lei ons elke dag, sodat ons lewe ’n sober getuienis kan wees van U genade en liefde. In Jesus se Naam bid ons. AMEN