DAG 5 – 31 JAN 2025 GLADDE MOND
Spreuke 26:28 “‘n Valse tong haat dié wat dit verpletter, en ‘n gladde mond werk verwoesting.”

Woorde is magtig – hulle kan opbou of afbreek. ’n Gladde mond gebruik vleiende en bedrieglike woorde om mense te manipuleer, dikwels met skade as einddoel. Hierdie vers herinner ons aan die gevare van sulke woorde en nooi ons om waarheid en opregtheid te leef en te spreek.
Die beeld van ’n “gladde mond” beskryf iemand wat woorde gebruik om te vleien of te mislei, maar wat eintlik kwaadwillige bedoelings het. Hierdie soort skynheilige vleiery is dikwels meer verraderlik as openlike vyandskap, want dit skep ’n vals gevoel van vertroue voordat dit vernietig. Spreuke 26:28 maak dit duidelik dat hierdie tipe woorde verwoesting saai – nie net vir die persoon wat dit spreek nie, maar ook vir diegene wat die slagoffers daarvan word.
’n Voorbeeld van uit Nederland. Die bedrieër gee voor aan veral bejaardes dat hy/sy van ‘n betroubare organisasie kom, soos die bank, die polisie, of selfs die energiemaatskappy. Hulle sê dat daar ‘n “probleem” is met die rekening, soos ongewone aktiwiteit, en dui dat hulle wil help. Die bejaarde ontvang ‘n telefoonoproep of ‘n e-pos waarin hulle meegedeel word dat hulle bankrekening in gevaar is. Die persoon klink professioneel en kan selfs data hê wat die bejaarde oortuig dat die oproep eg is. Hulle gebruik taktieke soos druk en paniek: “Jou rekening is gehack” of “Iemand probeer geld van jou rekening steel.” Die bedrieër sê dikwels: “Jy moet nou optree, anders verloor jy jou geld.” Hulle vra die bejaarde om hul bankkaart aan ‘n “koerier” oor te gee wat hulle na die huis stuur. Hulle vra ook vir die PIN-kode, of vra die persoon om hul PIN oor die telefoon te gee. ’n Persoon verskyn by die deur om die kaart op te laai, wat die bejaarde se vertroue versterk. Sodra hulle die kaart en PIN het, word die rekening leeggetrek.

As Christene moet ons waak teen sulke woorde – beide as sprekers en ontvangers. Jesus het ons geroep tot waarheid en opregtheid. Deur gebed en selfondersoek kan ons seker maak dat ons woorde ander bou en nie skade bring nie. Wysheid en onderskeidingsvermoë van die Heilige Gees help ons om valsheid in ander te herken en onsself van sulke praktyke te weerhou.
Introspeksievrae
- Gebruik ek soms vleiende of misleidende woorde om mense te manipuleer?
- Hoe kan ek wysheid van God vra om valsheid in ander se woorde te herken?
- Hoe kan ek seker maak dat my woorde opbouend en eerlik is?
GEBED Liewe Here, U ken die waarheid van ons harte en woorde. Help my om nooit valse of manipulerende woorde te gebruik nie. Gee my die wysheid om opregtheid te leef en die waarheid in liefde te spreek. Lei my om U in my woorde en dade te eer. AMEN.