VUL JOU EIE NAAM MAAR IN

Home » blog » VUL JOU EIE NAAM MAAR IN

40 DAE PAAS NA HEMELVAART

JESAJA 43: 1 “ … Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!”

My liefde is sterker as jou sondige verlede.

Paaefees is ‘n tyd van herlewing, ‘n tyd waarin die lewende Jesus na jou toe kom en jou by jou naam roep. Maria, Wilma, Mirjam, Griet, Oubaas, Ivor…. Vul jou eie naam maar in. Hy ken jou verlede. Hy ken jou pyn en hartseer. Hy ken jou wonde en jou sondes. En hoe diep jy daardeur terneergedruk word. Kyk na My, sê Jesus, kyk na die leë graf. Ek is die lewende. Ek het die dood oorwin. My liefde is sterker as jou sondige verlede. My bloed is vergewende bloed. My troos genees jou hartseer.

Paasnaweek het God ‘n nuwe dag in jou lewe laat aanbreek. Hy bevry jou van ‘n verlede wat jou gevangene hou. Die liefde wat jy nooit werklik geproe het nie. Woorde wat tot jou gespreek het. Die verlede wat jou agternasit. Sondes wat jou altyd vergesel. Dinge wat stukkend gegaan het. Die evangelie van Paasnaweek is dat Jesus advies wil gee. Daardie verlede van ons het Hy vasgenael aan die kruis. En dit het saam met Hom aan die kruis dood vergaan. En nou, met Sy opstanding, is die mag en vloek daarvan gebreek; ‘n nuwe dag het vir ons aangebreek; ‘n nuwe begin.

GEBED: Liefdevolle Vader, dankie vir die wonder van Paas naweek, waarin U ons bevry van ons verlede en ons ‘n nuwe begin gee. Help ons om na U op te kyk, en te glo in U krag om ons te lei uit duisternis na lig. Mag ons, soos Maria, die vreugde en dankbaarheid van U opstanding ten volle ervaar, en mag ons bereid wees om die goeie nuus van U liefde en genade met ander te deel. In die naam van Jesus bid ons, AMEN.