VISSIE OP DIE KOLE

Home » blog » VISSIE OP DIE KOLE

40 DAE PAASSONDAG TOT HEMELVAART

WOENSDAG 18 APRIL 2024

Die verhaal van die wonderbaarlike visvangs in Johannes 21 is ’n aangrypende voorbeeld van Jesus se voortdurende teenwoordigheid en voorsiening vir Sy dissipels. Eers is daar geen vis, maar dan, deur die eenvoudige instruksies van ‘n ‘vreemdeling’ op die strand, is daar opeens ‘n oorvloed van vis.  “Gooi die net oor stuurboord .. “ skreeu Jesus en siedaar 153 visse! Hierdie vreemdeling, wat later as Jesus geïdentifiseer word, is nie net ‘n toeskouer nie, maar ‘n aktiewe deelnemer aan die lewens van sy volgelinge. Sy instruksies bring vrugte voort en openbaar sy sorg en voorsiening vir hulle behoeftes.

Die reaksie van die dissipels, veral Johannes en Petrus, is opvallend. Johannes herken Jesus en Petrus spring dadelik in die water om by Hom te kom. Dit toon ‘n hartstogtelike liefde en begeerte om naby Jesus te wees, ‘n verlangende reaksie op sy teenwoordigheid. Jesus is toe reeds besig om op die gloeiende kole vis te braai op die strand. Hy nodig hulle uit om deel te neem aan die maaltyd, ‘n toonbeeld van sy onvoorwaardelike gemeenskap en deelname aan hulle lewens. Laat ons leer uit hierdie verhaal om met groot verwagting na Jesus te kyk, ons harte oop te stel vir sy instruksies en aanwesigheid, en dankbaar te wees vir sy voortdurende sorg en voorsiening in ons lewens.

GEBED: Here Jesus, ons dank U vir u voortdurende sorg en teenwoordigheid in ons lewens. Help ons om met verwagting na U te kyk en ons harte oop te stel vir u leiding en instruksies. Mag ons liefde vir U ons motiveer om U na te volg en ons gemeenskap met U en mekaar te koester. AMEN