BLOGARTIKEL: VERGIFNIS-TEENVOETER VAN KRINGLOOP GEWELD
In ’n wêreld waar konflik toenemend eskaleer en geweld endeloos voortduur, word die antieke beginsel van “oog vir oog, tand vir tand” nie net herroep nie, maar letterlik herleef. Van bende-oorloë in die Kaapse Vlakte en Europese stede tot bloedige wraak in die strate van die Midde-Ooste, oor en weer drones en missiele in Oos Europa – vergelding het weer die morele grondslag geword vir baie van die wêreld se konflikgedrewe ideologieë. En tog, soos geskiedenis en Skrif ons leer, is dié pad een sonder ’n uitkoms. Dit is tyd dat ons weer ernstig nadink oor ’n teenvoeter: vergifnis.

Die nuwe gesig van ou geweld
Die bende oorloë in Kaapstad, is ’n duidelike voorbeeld van hoe die vergeldingsbeginsel – “oog vir oog” – sigself in ’n moderne konteks herhaal. Jong mans, vasgevang in die onderwêreld van dwelms, eer en wraak, skiet en martel in ’n eindelose dors na bloed. Elke aanval roep ’n teenaanval op, elke moord ’n vergeldingsdaad. Daar bestaan geen ruimte vir versoening of gesprek nie – net stilte of dood.
En hierdie patroon herhaal hom wêreldwyd. Dieselfde dinamiek is tans te sien in die konflik in die Midde-Ooste. Israel en Palestina, gevangenes van ’n lang geskiedenis van seer, leef vasgevang in ’n logika van wederkerige straf. Jy dood ’n duisend van my mense en ek dood 50 000 van joune. Een raket en ‘drone’ van Oekraïne word beantwoord met 50 raket en 300 drones van Rusland. Een aanval roep ’n vergelding op. Die sirkel het nie ’n einde die mallemeule draai maar weer en weer.
Die probleem met “oog vir oog”
Die oorspronklike wet van “oog vir oog” het nie ontstaan om wraak te bevorder nie, maar om dit te beperk. In ’n tyd van oormatige straf, het die ius talionis (wet van vergelding) die beginsel van proporsionaliteit gevestig: jy mag net doen wat aan jou gedoen is – nie meer nie.
Maar Jesus in Matteus 5 breek met selfs dié gereguleerde vergelding: “Julle het gehoor… ‘oog vir oog’, maar Ek sê: Keer ook die ander wang.” Nie omdat geregtigheid nie belangrik is nie, maar omdat geweld nie deur nog geweld genees kan word nie.
In praktyk beteken dit: as jy aanhou met terugslaan, word jy nie vryer nie – jy word net ’n nuwe dader. Bendes, milisies, regerings en selfs gewone mense leef vandag met hierdie dilemma: ek het reg om terug te slaan, maar teen watter prys?
Waarom vergifnis nou meer nodig is as ooit
Vergifnis is nie passief nie. Dit vra nie dat onreg geïgnoreer word nie. Maar dit kies om die kringloop van geweld te onderbreek. Dit vra nie vir vergete nie – dit vra vir moed. “Oog vir oog hou geweldsdinamiek in stand.” Dié dinamiek verg meer as net strateë en militêre planne – dit vra ’n morele omswaai.
Hoe kan ons dit prakties begin toepas? Dit begin by taal, by die media, by leiers wat bereid is om vrede bó trots te kies. Dit begin by gemeenskappe wat vergifnis as sterker as mag en wraak begin sien. Dit begin by ouers wat hul kinders leer om nie altyd terug te slaan nie, maar om op te staan met waardigheid en insig.
Watter toekoms kies ons?
’n Toekoms geslyp deur wraak, lyk soos die stryd tussen rivaliserende bendes: wreed, onpersoonlik, onherstelbaar. ’n Toekoms gevorm deur vergifnis lyk soos vrede wat stadig deurbrake maak – broos, maar kragtig.
Vergifnis is nie die afwesigheid van geregtigheid nie – dit is die wysheid om te weet dat geregtigheid sonder liefde ’n nuwe onreg word. Dis tyd dat die wêreld, en ons as individue, weer glo dat vergifnis nie net vir gelowiges of dromers is nie, maar vir enigiemand wat ’n ander pad wil kies as dié van vernietiging.
Slotgedagte
“’n Oog vir ’n oog laat die hele wêreld blind,” het Gandhi gesê. Dis tyd dat ons die bril van wraak afhaal – en leer om met die oë van vergifnis te sien. Nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit die enigste pad is na werkbare vrede.
2 thoughts on “TIT vir TAT – OOG VIR OOG, MAAK DIE WÊRELD BLIND”
Dankie Ds Obe Phillips.
An absolutely good read.
Dankie Ds Obe.
Comments are closed.