NUWE DAGSTUKKIE REEKS – “VERGEWING!” (9 JUNIE – 15 JUNIE 2025)

PERSOONLIKE MOTIVERING VIR MEDITASIE: ’n WEG NA VRYHEID
Sedert ek my beroertes gehad het, het ek ’n ‘onverklaarbare’ drang ontwikkel om vergifnis te verstaan – dalk omdat ek besef het hoe skielik lewe tot ’n einde kan kom. Ek kyk terug na my lewe en weet ek het baie mense gelukkig gemaak, veral laat lag – dit laat my glimlag. Maar dit is nie net dié nostalgie wat my besig hou nie. Dit is die mense wat ek teleurgestel, seergemaak of kwaai geskel het. Hulle bly in my kop, hul gesigte staan vas in my hart.
Daarom wy ek hierdie week aan vergifnis – nie net aan die wat wil vergewe nie, maar spesifiek aan jou, wat dalk ’n las dra van skuld, of stil hoop iemand sal jou vergewe. Ek het opreg geen probleem om te vergewe nie. Miskien, net miskien, kan dit jou ook help. Miskien kan jy my of iemand anders ook vergewe?
Wat Sê Die Bybel ?
Die Bybel sê in Efesiërs 4 Vers 32: “Wees vriendelik en vol deernis teenoor mekaar, en vergewe mekaar, soos God julle in Christus vergewe het.” En in Kolossense 3 Vers 13 lees ons: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.” Hierdie is nie slegs mooi woorde nie – dit is ’n radikale weg na vrede.
“VERGEWE – DIE VERGETE DEUGD”
Dagstukke Reeks: 9 – 15 Junie 2025
Hierdie week ondersoek ek die kragtige, maar dikwels vergete deug: vergifnis. Ons ondersoek nie net wat vergifnis is nie, maar ook die verwarring, die weerstand, en uiteindelik, die bevryding wat daarmee gepaard gaan.
OORSIG VAN DIE WEEK:
Maandag 9 Junie: Wat is vergifnis regtig?
Ons begin deur die definisie skoon te maak: Vergifnis beteken nie verskoning of vergeet nie. Dit beteken nie versoening nie. Dit is eerder ’n innerlike besluit om die pyn nie meer jou lewe te laat beheer nie.
Dinsdag 10 Junie: Die Goue Deug – Morele Krag
Vergifnis is ’n morele deug, net soos geregtigheid, geduld en liefde. Dit is om goed te wees teenoor iemand wat jóú seergemaak het. Dis nie swakheid nie – dit is krag in sy suiwerste vorm.
Woensdag 11 Junie: Woede en Wrok – Die Stil Vergiftiging
Ons ondersoek hoe woede kan verander in wrok, en hoe dit juis óns vergiftig. Soos Mandela gesê het: “Wrok is soos gif drink en hoop die ander persoon word siek.” Hoe keer ons dit?
Donderdag 12 Junie: Vergifnis is ’n AKSIE, nie reaksie nie
Vergifnis is nie passief nie. Jy doen wat reg is, jy praat, jy verdedig, maar jy beweeg aan. Jy laat toe dat geregtigheid se wiel draai sonder om jouself vas te brand in woede.
Vrydag 13 Junie: Jy het nie hul verskoning nodig nie
’n Groot wanbegrip is dat vergifnis wag op ’n “ek is jammer.” Nie waar nie. Vergifnis gebeur sonder erkenning van skuld, sonder vergelding. Dis ’n vryheid wat jy jouself gee, nie ’n reaksie op iemand anders se woorde nie.
Saterdag 14 Junie: Die Wet van Karma – Of Newton
Of jy nou glo aan Karma of aan Newton se derde wet: elke aksie het ’n reaksie. Jy hoef nie self die straf te administreer nie. Laat die wêreld of God of die natuur sy werk doen. Jy hoef nie te ly vir hulle dade nie.
Sondag 15 Junie: Preektema: Hoe vergewe mens werklik?
Ons sluit die week af met ’n diep ondersoek na hoe om regtig te vergewe. Wat beteken dit om jouself te bevry, nie net die ander nie? Wat is die pad van innerlike vryheid wat jy kies wanneer jy besluit: Ek hou nie langer aan pyn vas nie.
HOEKOM VERGEWE?
Jy vergewe nie omdat die ander dit verdien nie, of verskoning gevra het nie – jy vergewe omdat jy verdien om nie meer daaraan vasgeketting te wees nie. Jy vergewe omdat jy glo dat geregtigheid sy eie pad sal loop, en dat jy vry kan wees van die las van bitterheid. Vergifnis is nie vergeet nie, dis nie goedpraat nie – dit is ‘n besluit om jou innerlike vrede nie langer uit te huur aan iemand anders se dade nie.
UITNODIGING
Sluit by ons aan hierdie week vir hierdie pad van genesing, selfkennis en geestelike groei. Hierdie is nie net ‘n reeks vir dié wat seergemaak is nie – dit is ook vir dié wat self skade aangerig het, en nou ‘n nuwe pad wil loop. Die pad van vergifnis. Deel dit asseblief! Ons moedig jou aan om hierdie dagstukkie reeks te deel met: Jou gemeente kerkraad en pastorale kommissies; Jou familie en vriende en Jou sosiale media-groepe en netwerk.
MAG JY VREDE VIND IN DIE KRAG VAN VERGEWE.
“Die wat vergewe, floreer. Nie omdat hulle vergeet nie, maar omdat hulle vry kies om nie meer gevangenes te wees van gister nie.”#Vergifnis #DagstukkieReeks #InnerlikeVrede #GeestelikeGroei #VergeweEnLeef