WITTE DONDERDAG
Skriflesing “Hy vat water in ’n wasskottel en begin om die voete van die studentevolgelinge te was en af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.” Johannes 13 vers 5

Op Donderdag herdenk ons die spesiale oomblik toe Jesus sy dissipels se voete gewas het. Hierdie daad van nederigheid en diensbaarheid is nie net ‘n voorbeeld van Jesus se liefde vir sy volgelinge nie, maar ook ‘n voorbode van sy komende offer aan die kruis. Terwyl Jesus tydens die maaltyd opstaan, simboliseer die uittrek van sy bokleed sy gewilligheid om sy lewe vir die mensdom af te lê. Deur die voorskoot van ‘n slaaf te neem en die voete van sy dissipels te was, toon dit die grensloosheid van sy liefde en sy gewilligheid om selfs die nederigste take te verrig.
Destyds is voete was as ’n gebaar van hoflikheid en gasvryheid beskou, maar dit is ook met dood en onreinheid geassosieer. Jode het vermy om self hul voete te was om te verhoed dat hulle in aanraking kom met die stof van die aarde, wat die verganklikheid van lewe en die onreinheid van die dood gesimboliseer het. Dit was ‘n taak wat dikwels aan heidense slawe oorgelaat is, aangesien hulle reeds as onrein beskou is. Maar dit was juis hierdie taak wat Jesus vrywillig opgeneem het, uit liefde vir sy volk en as teken van sy solidariteit met diegene wat as onreine verwerptes beskou was.
Wanneer Jesus sy volgelinge roep om sy voorbeeld te volg, gaan dit verder as blote diens aan ander. Dit beteken ook bereidwilligheid om te ly en selfs te sterf vir die beginsels van die Koninkryk van God. Jesus se volgelinge het later weens hulle geloof vervolging, marteling en selfs die dood in die gesig gestaar. Petrus, wat aanvanklik weerstand gebied het, het uiteindelik dieselfde dood as Jesus gesterf, hy het letterlik sy lewe gegee om die Evangelie te versprei.

Laat ons op hierdie Witte Donderdag nie net die nederigheid en liefde van Jesus onthou nie, maar laat ons ook sy voorbeeld volg in ons gewilligheid om te dien en ons lewens vir die Koninkryk van God te gee. Mag hierdie oomblik van nadenke ons lei tot ‘n dieper begrip van Jesus se opoffering en ons inspireer om sy liefde en genade met ander te deel.
Gebed: Vader, ons dank U vir die liefdevolle voorbeeld wat Jesus ons gegee het deur Sy nederige diensbaarheid. Hy, die Verlosser van die wêreld, het nie geskroom om die werk van ‘n slaaf te verrig nie, om ons voete te was en ons te wys op die grootmoedigheid van u koninkryk. Ons bid dat U ons harte mag reinig van alle trots en hoogmoed, en dat ons die ware betekenis van diensbaarheid mag verstaan. Leer ons om nie net te ontvang nie, maar ook om te gee, om nederig ons broers en susters te dien in liefde en nederigheid. AMEN