OORDENKINGREEKS: MEDEDEELSAAMHEID (5)
VRYDAG 31 MEI 2024
2 KORINTIËRS 9 “En God is by magte om aan julle ALLES IN OORVLOED te skenk, sodat julle in alle opsigte ALTYD VAN ALLES GENOEG kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; HY BLY ALTYD VRYGEWIG.” God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook AAN JULLE SAAD GEE en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.’

Gee God werklik wat ons nodig het? Beslis! Paulus se woorde is kragtig en duidelik! Drie keer “al” na mekaar: in alles, altyd, al die nodige. Dit wil Hy gee, sodat ons kan deel. Sal die Here werklik alles gee wat nodig is? Kyk maar na die slotvers: “Ja, God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe” (15). Sy onuitspreeklike gawe: wie anders as ons Here, Jesus Christus? Is Hy nie die saad wat gesaai is, wat ter helle neergedaal het, om vrug te dra nie? Ons gee is maar net ‘n swak weerspieëling van Sy onuitspreeklike gawe.
In Jesus gee God alles, ja, Hy gee Homself. En dit is nie net gee nie; Hy deel. God is nie iemand wat vanuit die verre hemel vir ons sorg nie – dit is nie net eenrigtingverkeer nie. Nee, Hy deel. En dit is die grootste wonder. God het mens geword – Jesus, een van ons. Hy het gedeel in ons bestaan, in ons menswees met al sy swakhede en bekommernisse. Hy het gedeel in ons skuld, Hy het gedeel in die lyding en die dood. Hy gee nie net nie – Hy deel met ons! En dit is wederkerig. Jesus het gedeel in ons bestaan, maar Hy laat ons ook deel in Sy bestaan. In ‘n ewige, hemelse, volmaakte lewe! Hy laat ons deel in Homself, in Sy groot liefde en genade. Deel raak van dié groot bron, wat onuitputlik is!

GEBED: Hemelse Vader, ons dank U vir U oorvloedige genade en U onuitspreeklike gawe, Jesus Christus. Dankie dat U nie net gee nie, maar ook deel. Help ons om hierdie voorbeeld te volg en ons lewens, ons hulpbronne, ons tyd en ons liefde met ander te deel. Gee ons die moed om soos Jesus te wees, om in ander se lewens te deel en hulle laste saam met hulle te dra. Mag ons altyd besef dat ons aangeskakel is op U onuitputlike bron en dat ons deur te deel, nog meer geseën word. In die naam van Jesus bid ons. AMEN.