NUWE REEKS DAGSTUKKIES – “IN SAK EN AS SIT”

Ek nooi jou uit om deel te wees van ’n week van refleksie en hernuwing, waar ons elke dag gaan nadink oor wat dit beteken om “in sak en as te sit”. Hierdie uitdrukking, wat te vind is in die Bybelse tradisie, vertel ons dat ons in tye van wanhoop en hartseer nie alleen is nie. Soos Mordegai in Ester 4 sy pyn openlik erken het, word ons ook genooi om ons emosies eerlik te konfronteer en dit voor God te bring.
Hierdie reeks oordenkings fokus op die belangrikheid van erkenning van pyn, berou, geloof en die hoop op ’n nuwe begin. Elke dag sal ’n kort oordenking, ’n gebed en praktiese raad bevat om jou te help om deur moeilike tye te help.
Die uitdrukking in sak en as sit beteken dat iemand hom in erge wanhoop of hartseer bevind, voel dat alles verlore is, of geen uitweg meer sien nie. Hierdie uitdrukking kom uit die Bybel, waar sak en as gebruik word om intense rou, berou en hopeloosheid uit te beeld.
Die uitdrukking “in sak en as sit” het sy oorsprong in die Bybelse tradisie en beteken om diep bedroef, moedeloos of in wanhoop te wees. Hierdie beeld kom uit Oosterse rougebruike soos beskryf in die Bybel, waar sak en as simboliese elemente van rou, berou en nietigheid is. Die as stel die verganklikheid van die mens voor, en sak (afkomstig van die Hebreeuse woord saq) was ’n roukleed van growwe materiaal, sonder moue, wat gewoonlik oor die liggaam gedra is tydens tye van intense hartseer.
Volgens die Bybelse wêreldbeskouing is die mens in wese stof en as—een van die oorsake waarom die Jode hulself met as bestrooi het as ’n teken van diepe rou oor ’n oorledene of groot rampe. Hierdie gebruik word duidelik beskryf in die Bybelboek Ester: “Toe Mordegai weet al wat gebeur het, het hy sy klere geskeur en ’n sak aangetrek met as.” (Ester 4:1)
Die sak (’n growwe kleed) en die as was nie net uiterlike tekens van wanhoop nie, maar ook ’n simboliese uitdrukking van die mens se nietigheid voor God. Dit was ’n daad van nederigheid en rou wat erkenning gegee het aan pyn en verlies.
In moderne taal word hierdie Bybelse metafoor gebruik om te wys dat iemand deur ’n donker tyd gaan en hoop verloor het. Tog vertel die oorsprong van die uitdrukking ons, dat ons wanhoop nie die einde is nie. Dit roep ons op tot refleksie, berou en hoop op herstel, net soos Mordegai bly glo het dat ’n ommekeer moontlik is, selfs in die mees desperate omstandighede.
So bly in sak en as sit ’n simbool van intense hartseer én die hoop op ’n nuwe begin.
Sluit by my blog aan van 10 tot 16 Februarie 2025 vir ’n week van inspirasie, bemoediging en hoop. Laat ons saam oordenk, want elke einde bring altyd die moontlikheid van ’n nuwe begin.
Deel gerus met vriende wat erge lyding ervaar ….