ROUVERWERKING: DIE TRANEKRUIKIE

In my bediening (Eersterivier, Vaalrivier en konsulentskappe) het ek dikwels langs die sterfbed van gelowiges gestaan en ek het gesien hoe geloof in God ‘n bron van krag en troos is in daardie moeilike oomblikke. JESAJA 41:10 is dikwels voorgelees om die hartsversterkende boodskap te bring: “Moenie bang wees nie, Ek is met jou; moenie ontsteld wees nie, Ek is jou God. Ek sal jou versterk, Ek sal jou help, Ek sal jou ondersteun met my regterhand van geregtigheid.” Hierdie woorde het keer op keer die vrees en die twyfel verdryf en ‘n belydenis van geloof en vertroue gebring.
HEBREËRS 11:1 was ‘n ander versekering wat ek aan die roubeklaagde gegee uit onkunde wat werklik gebeur met ons na die dood: “Geloof is die vaste vertroue in wat ons hoop, die oortuiging oor wat ons nie sien nie.”
Die tema van my pastorale brief is “𝐓𝐫𝐚𝐧𝐞𝐤𝐫𝐮𝐢𝐤,” geïnspireer deur Psalm 56. Hierdie Psalm herinner ons daaraan dat God ons trane sien, dat Hy ons verdriet ken en ons pyn deel. Die kruikie herinner ons daaraan dat ons Hom mag vertrou met ons trane en dat Hy hulle bewaar as ‘n kosbare skat. Jou hartseer oor die groot teleurstelling waarin jy jouself bevind, is ook in God se aandag. Ek wil jou ook herinner aan die beeld van die Tranekruikie om jou te versterk.
In die bybelse tyd het vroue dikwels met ‘n swaar hart agtergebly terwyl hul mans na die voorlinies vertrek het. Hulle het ‘n Tranekruik gehad. As hulle gehuil het vanweë die gemis van hul mans, het hulle daardie trane in ’n hermeties (volkome dig) afsluitbare kruikie bewaar. Dit het dikwels ‘n aansienlike laag trane opgelewer. Wanneer die mans dan teruggekeer het van die front, lewend en wel, het hul vroue hulle ontmoet en hulle daardie Tranekruikie gewys. Dan het hulle gesê: “Kyk hoe het ek jou gemis!” en nog meer: “Kyk hoeveel ek van jou hou!” As sy doodstyding kom het botteltjie voller geword … Die inhoud van daardie botteltjie, daardie treurwater van die siel, was ‘n uiting van liefde, ‘n uiting van hartverskeurende, intense troue liefde.
Dit is ‘n herinnering dat jou liefde vir diegene wat jy verloor het, nooit verlore gaan nie. Jou trane getuig van die liefde, die herinneringe en die band wat julle gedeel het. Laat jou trane nie slegs ‘n uiting van verdriet wees nie, maar ook ‘n uiting van die liefde en trouheid wat jy vir jou geliefdes koester. Dit is ‘n herinnering dat jou liefde bly voortbestaan, selfs in jou trane.
Laat PSALM 56:9 jou troos en bemoedig as dit sê: “ Ú het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” God neem kennis van jou trane en Hy waardeer jou liefde vir jou geliefdes. Hy is jou Vader in die hemel wat jou vertroos en nabyskap bied. Hierdie trane is kosbaar vir God, en Hy sien hulle, versamel hulle, en bewaar hulle as Tranekruik vol van ons emosies, herinneringe, en liefde. Die beeld van die Tranekruikie herinner ons daaraan dat God ons hartseer en pyn nie onopgemerk laat nie. Hy het ‘n onmeetbare liefde vir ons en Hy is naby, selfs in ons donkerste ure.
Ek hoop hierdie pastoralebriefie gaan jou hart verlig en jou die rus gee wat jy nodig het te midde van jou verdriet. Mag jou liefde en jou trane ‘n getuigskrif wees van jou diepste emosies en van God se onpeilbare liefde vir jou.

Gebed – Troos aan Bedroefdes: Hemelse Vader, Ons nader U met swaar harte en gevulde gees. Here, net soos hierdie vroue, het ons vandag ook ons tranekruikies. Ons harte is gevul met herinneringe en liefde vir diegene wat ons verloor het. Ons dra ons pyn en verdriet aan U op, wetende dat U elke traan sien en elke sug hoor. Die Psalm digter herinner ons daaraan dat U ons ellende raakgesien het en dat U ons trane in U bottel bewaar. Hierdie beeld is vir ons ‘n troos, ‘n teken dat ons nie alleen is in ons pyn nie. Ons trane is kosbaar vir U, en U versamel hulle met ‘n Vader se liefde en sorg. Ons bid dat U ons sal vertroos in ons hartseer, net soos U die vroue van ouds getroos het. Help ons om die liefde en herinneringe van ons geliefdes te koester, selfs in ons trane. Mag ons verdriet ‘n uiting wees van die innige liefde en trou wat ons vir hulle gehad het, en mag ons troos vind in die wete dat U naby is. Here, ons bid vir almal wat tans deur die donker vallei van rou gaan. Mag hulle U nabyheid en vrede ervaar. Mag hulle vind dat U die enige is wat werklik kan troos in die diepte van hul verlies. Ons vra dit in die naam van Jesus Christus, ons Trooster en Verlosser. AMEN