AANKONDIGING! NUWE OORDENKING REEKS

Home » blog » AANKONDIGING! NUWE OORDENKING REEKS

DIE PRIESTERLIKE SEËNBEDE

MAANDAG 17 JUNIE 2024 TOT SONDAG 24 JUNIE 2024

In elk van die drie sinne van die seënbede staan die naam van die Here sentraal. Hy is die God van die verbond, die Ewige, die Barmhartige, die God wat getrou is. Hierdie God is aan die woord in hierdie seën. Hy is die God wat sy volk nooit loslaat nie. Jahwe is sy naam en so is Hy ook: ‘n God wat saam met sy volk gaan, ‘n God wat heeltemal daar is vir sy kinders. In voorspoed en in teëspoed, in sorg en siekte, in blydskap en verdriet, in lewe en dood. God laat sy kinders nie los nie, want Hy is Jahwe.

Die drie sinne van die seën van Jahwe is elk in twee dele verdeel. Die tweede deel vorm telkens ‘n uitleg, ‘n verdere invulling van wat in die eerste deel gesê word:

  • Die Here seën jou ….. en beskerm jou.
  • Die Here laat sy aangesig oor jou skyn …..  en is jou genadig.
  • Die Here rig sy aangesig na jou toe en …. gee jou vrede.

Ek nooi julle almal uit om saam met my hierdie reis te onderneem, waar ons miskien beter, miskien ander insigte en verstaan van God se liefde en trou sal ontdek. Hierdie seënbede is ‘n herinnering aan die voortdurende teenwoordigheid en sorg van ons Here, en ons hoop dat hierdie reeks vir julle ‘n bron van inspirasie en versterking sal wees.

GEBED: Liewe Hemelse Vader, Ons kom vandag voor U in nederigheid en dankbaarheid. U is die Ewige, die Barmhartige, die God van die verbond, en ons erken U as die Een wat getrou is en ons nooit loslaat nie. Here, ons vra U seën oor die nuwe blog oordenking reeks oor die Priesterlike Seënbede. Ons bid dat hierdie reeks ‘n instrument sal wees om U liefde, genade en vrede aan elke leser oor te dra. Mag elke woord wat geskryf en gelees word, ‘n weerspieëling wees van U waarheid en U hart vir U kinders. Ons bid dat U ons sal seën en ons sal beskerm. Laat U aangesig oor ons skyn en wees ons genadig. Rig U aangesig na ons toe en gee ons U vrede. Here help dat hierdie reeks mense nader aan U bring, hulle geloof versterk, en hulle herinner aan U voortdurende teenwoordigheid in voorspoed en teëspoed, in sorg en siekte, in blydskap en verdriet, in lewe en dood. U is die God wat met ons meegaan, en ons vertrou op U getrouheid. Ons dra hierdie oordenking reeks aan U op en bid dat U daarmee U naam sal verheerlik en U koninkryk sal uitbou. Dankie dat ons kan vertrou dat U U kinders nooit loslaat nie. In die Naam van Jesus Christus bid ons dit, AMEN