PREEK 19/10/25 – DOODGEBORE DROME BEGIN SKIELIK ASEMHAAL
2 KONINGS 4 Verse 8 tot 37 “… Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dit is ‘n heilige man van God wat gereeld hier by ons aankom. Kom ons bou ‘n klein bovertrekkie en sit vir hom ‘n bed, ‘n tafel, ‘n stoel en ‘n lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek. …”

GEBED VOOR SKRIFLESING
Here ons God, U is die God wat praat en dit gebeur, wat beloof en getrou vervul. Maak ons harte vandag stil en ontvanklik. Troos die bedroefdes, versterk die moedeslose, en leer ons om U stem te herken tussen ons vrese. Mag ons U Woord hoor en dit nie net met ons ore nie, maar met ons hele wese ontvang. Berei ons voor om in die geskiedenis van Elisa en die Sunamitiese vrou U onwrikbare trou te ontdek. Spreek, Here, want U diensknegte luister. AMEN
INLEIDING
Die verhaal begin eenvoudig: ’n welgestelde Sunemitiese vrou erken die profeet Elisa, nooi hom vir ete, en bou uiteindelik ’n klein, gemeubileerde kamer op die dak—bed, tafel, stoel en lamp. Dit is gasvryheid met ‘n bedoeling: ruimte vir God se dienaar, en so ruimte vir God se werk. Let op hoe genade dikwels by die voordeur van ‘n eenvoudige gehoorsame daad instap: ’n sny brood, ’n oop tafel, ’n stil kamer. In dié ruimte word God se woord gehoor en bewaar.
Wanneer Elisa uit dankbaarheid vra wat hy vir haar kan doen, vra sy niks. Sy “woon onder haar eie mense.” Tog sien God die onvervulde pyn agter haar waardige stilte. Deur sy profeet spreek God ’n ongelooflike ondenkbare belofte: “Volgende jaar, hierdie tyd, sal jy ’n seun vashou.” Sy skrik bang vir vals hoop—hoeveel keer het die verwagting gekom en later tussen al die hopelose drome begrawe? Maar God se woord vat grond, en uit die onmoontlike groei lewe. So leer die dak-kamer ons ’n ritme van geloof: die kreatiwiteit van God; Hy vul dit met sy teenwoordigheid. Bou ’n denkbeeldige “stiltetyd kamer”—’n plek van gebed, Skrif en Still meditasie—en verwag dat God daar sal praat en jou verras.
LEWE NÁ DIE ONMOONTLIKE
‘n Kind word gebore “soos Elisa gesê het.” Met die sleutelrefrein: soos God gesê het. Die Bybel leer dat God se beloftes nie mooi woorde is om ons tydelik te vertroos nie; dit is skeppingswoorde wat ’n nuwe werklikheid tevoorskyn roep. Soos by Abraham en Sara, Simeon en Elizabeth waar doodgebore drome skielik begin asemhaal, kom die Here hier ook deur sy woord die onvrugbaarheid van die verlede teë.
Hier is pastorale goud vir mense wat moeg is om te hoop: God se getrouheid rus nie op ons vermoë om te glo nie, maar op sy vasberadenheid om te praat en te doen. Hy is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie; Hy is die Here wat sy woord waak om dit te volbring. Prakties beteken dit: plak jou lewe vas aan God se “so sê die Here”—tekste wat jy kan vasgryp wanneer gevoelens wankel. Skryf die belofte neer, bid dit terug, sing dit oor jou huis. Elke keer wanneer die Sunemitiese vrou haar seun vashou, hou sy in werklikheid God se belofte vas. Laat ons dit ook doen: vashou, al skud die wêreld. Want waar God praat, begin onmoontlikheid wankel. Hierdie les is baie belangrik en relevant, want in ‘n wêreld vol onsekerheid, kan ons vashou aan die feit dat, net soos Hy die onmoontlike in Sunem moontlik gemaak het, Hy steeds in staat is om lewe, hoop en sin te gee, al sê ons omstandighede die teendeel. God se Woord is die anker wat nie breek nie.
’n KIND STERF IN MOEDER’s SKOOT
Maar toe tref die tragedie. Die seun wat so wonderbaarlik geskenk is, die kind van die belofte, word skielik siek op die land. Hy sê: “My Kop, my Kop!” en sterf later op sy moeder se skoot. Dit is die donkerste uur in die verhaal, ‘n verlies wat die wonder van sy geboorte oorskadu. Watter sin het dit? Om ‘n geskenk van God te ontvang, net om dit op so ‘n wrede manier te verloor? O Die Pyngedagte!!!! Dit is die mees smartvolle, mees onbegryplike nood wat ‘n mens kan ervaar. Alle aardse troos is nou tevergeefs.

Die moeder se reaksie is egter merkwaardig en vol ysingwekkende kalmte. Sy dra haar Lewelose kind op na die boonste kamer, die vertrek van die profeet, en lê hom neer op Elisa se bed. Sy sluit die deur. Sy sê vir haar man sy gaan na die man van God. En dan kom die sleutelfrase, die fokus van ons prediking: Toe Gehasi haar teëkom en vra: “Gaan dit goed met u, met u man en met die kind?”, antwoord sy: “Dit gaan goed.” Haar antwoord is nie ‘n leuen van ontkenning nie; dit is ‘n geloofsdaad te midde van die onmoontlike. Sy sê: “Dit gaan goed” omdat sy presies weet waar sy op pad is en wat God in staat is om te doen. Die dood het nie die laaste woord nie, solank sy by die Bron van die belofte kan uitkom.
Ons moet intussen aanhou om om ons nood na die kamer van die Woord te dra—na gebed, na gemeente, na die tafel van die Here. Om ons grootste bekommernis te “lê” in God se teenwoordigheid is nie ontvlugting nie; dis gehoorsaamheid in donker.
Onwrikbare vertroue — hou God aan Sy Woord, van Karmel tot Sunem
Die vrou ry met die donkie kar teen ’n Grand Prix spoed na Elisa by die berg Karmel, waar Elisa en Elia so dikwels God se mag gedemonstreer het. Toe sy uiteindelik by Elisa se voete neerval, sê sy: “Het ek van u ‘n seun gevra, my heer? Het ek nie gesê: Moenie vir my valse hoop gee nie?” Sy konfronteer God nie met haar verdriet nie, maar met Sy eie Woord. Sy hou God aanspreeklik vir die belofte wat Hy gemaak het. Sy glo dat die God wat kan gee waar niks was nie, ook kan teruggee waar alles verloor is.
Sy weier om huis toe te gaan sonder Elisa, en dring aan: “So waar as die Here leef en so waar as u leef, ek sal u nie verlaat nie.” Hierdie is nie opdringerige oormoed nie, maar puur, wanhopige geloof. Sy verteenwoordig die mens wat, wanneer alle aardse hoop verval, vasgryp aan die betroubaarheid van God. Elisa gaan saam. In daardie boonste kamer, nadat Gehasi se poging met die staf misluk het, bid Elisa in totale afhanklikheid. Hy strek hom oor die kind uit, en deur die krag van God, en ter bevestiging van Sy oorspronklike Woord, kry die seun weer lewe. Die God wat belowe, is die God wat sy belofte uitvoer, selfs as dit die dood moet oorwin.
God werk deur mense en middele—profete, staf, aanraking, gebed. Hy is vry om te genees, te troos, of ons deur die dal te dra. Ons taak is om van Karmel tot Sunem te bly roep: “Here, kom self.” Wanneer antwoorde uitbly, bly op jou knieë. As die staf nie werk nie, wag op die Here se nabye-koms. Hy is nie traag nie; Hy is wys.
SAMEVATTING
Geliefdes, hierdie verhaal is nie ’n waarborg dat God elke kind hier en nou sal opwek nie. Selfs in die Bybel is sulke wonders tekens, nie reëls nie. Maar dit ís ’n waarborg van iets besonders: God bevestig sy woord, juis te midde van ons diepste nood. Die groot opwekking—die einde van alle begrafnisse—kom in Christus se wederkoms. Intussen bly sy beloftes ’n anker: Hy is met ons; sy genade is genoeg; niks skei ons van sy liefde nie; wie in Hom glo, sal lewe al het hy gesterf.
Ongelooflike dinge is moontlik: ’n hart kan weer hoop; ’n huwelik kan genees; ’n verslaafde kan vry word; ’n gemeente kan wakker word; ’n huilende siel kan rus vind…. Begin waar die Sunemitiese vrou begin het: maak ’n kamer vir Woord en Gebed; leef gasvry teenoor God en mens; hou God aan sy belofte; bring jou pyn na die plek van gebed; volhard wanneer antwoorde stadig kom. Vandag roep die Here jou om die deur van daardie dak-kamer weer oop te sluit: “Here, kom in.” En as jy net ’n sug kan bid, is dit genoeg. Hy ken die taal van sugte. Sy Woord sal nie leeg terugkeer nie. AMEN
Gebed na Skriflesing
Here, U ken ons dak-kamer altaars en ons leë arms. Dankie dat U Woord lewe bring waar ons net puin sien. Ons bring ons verliese, vrese en vrae na U toe—sluit ons toe in U nabyheid. Maak ons volhardend in gebed, sag in pyn, vas aan beloftes. Troos diegene wat treur; versterk diegene wat moeg is; wek nuwe hoop diegene wie moedeloos is. En waar U wil, Here, doen wonders; waar U anders wil, dra ons deur. Laat U Woord vandag wortel skiet en vrug dra. Bevestig U Woord in ons harte, sodat ons ook in ons diepste nood kan antwoord: “Dit gaan goed.” In Jesus se Naam. AMEN
Seënbede
Mag die God van hoop julle vervul met alle blydskap en vrede in die geloof; mag julle oorvloedig wees in hoop deur die krag van die Heilige Gees. En die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle. AMEN
2 thoughts on “PREEK SONDAG 19 OKTOBER 2025 – DOODGEBORE DROME BEGIN SKIELIK ASEMHAAL”
Sjoe ds Obe. Jy het my nou behoorlik vas gevang in die preek. Gaan so voort en hou aan God se belofte vas.
Dankie vir jou diensbaarheid op hierdie manier.
Groetnis
Cecil Saal
Baie dankie vir die kosbare woord ds. God bless🙌