PREEK SONDAG 3 AUGUSTUS 2025 – KOM GERUS NA DIE TROON VAN DIE GENADIGE

Home » blog » Preke » PREEK SONDAG 3 AUGUSTUS 2025 – KOM GERUS NA DIE TROON VAN DIE GENADIGE

PREEK 3/8/2025 : KOM GERUS NA DIE TROON VAN DIE GENADIGE

HEBREËRS 4:14–5:10 “… Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan ontvang en genade vind om op die regte tyd gehelp te word…..”

GEBED voor die Skriflesing

Heer, ons Vader in die hemel, U is die heilige en genadige God. Wanneer ons nou U Woord oopmaak, bid ons dat U ons harte sag sal maak en ons oë sal oopmaak. Laat ons sien wie U is en wie ons is, en veral: wie Christus is, ons Groot Hoëpriester. Spreek U, Heer – deur U Gees – sodat ons U kan hoor, verstaan en met vertroue nader.
In Jesus se Naam. AMEN

INLEIDING

Wat is dit tog ’n verligting wanneer iemand jou regtig verstaan. Wanneer jy voel: ek hoef nie alles te verduidelik nie – die ander een wéét, hy voel saam met my. As jy byvoorbeeld na jou pa gaan met jou skool rapport en hy sê vir jou: “Weet jy, ek het op jou ouderdom nog minder persentasie punte behaal, daardie punt het my motiveer ek hoop dit gaan jou ook positief motiveer.” Skielik voel jy: ek is nie alleen nie. My pa is ook maar mens.

Of wanneer iemand bely: “Ek het ook gesukkel om my bestuurslisensie te kry.” Dan lag jy dalk saam, en jy voel minder skaam. Jy hoef nie jouself te bewys nie. Jy mag maar mens wees. So sê die Hebreërskrywer ook van die priesters van die Ou Testament. Wanneer iemand gesondig het – nie met opset nie, maar tog verkeerd – dan moes hy na die priester toe gaan en sy sonde bely. En die priester moes vir hom offer, sodat daar vergifnis kon wees. Maar om so iets te bely, om jou hart oop te maak – dit is nie maklik nie.

Dit, Geiefdes, is wat die brief aan die Hebreërs vir ons sê: Ons Hoëpriester, Jesus Christus, verstaan ons. Hy voel saam. En Hy nooi ons: “Kom gerus na die troon van die Genadige.”

 AS DIE KERKMENSE MY NET WIL VERSTAAN

Kom ons wees eerlik – ons almal het dit al gevoel: As die kerkmense my net wil verstaan. Jy sit Sondagoggend in die kerk, met ’n hart vol skuld of seer, en jy voel: As hulle maar geweet het… As hulle verstaan het hoe ek worstel. Die Ou Testamentiese priester het self ook swakhede gehad. Hy het ook foute gemaak. En juis daarom kon hy empatie hê met ander mense. Dis wat Hebreërs 5:2 sê: “Hy kan medelye hê met dié wat onwetend en dwalend is, omdat hy self aan swakheid onderhewig is.” Netso ook ons Dominees vandag..!

Wanneer iemand wat self mens is na jou luister – sonder veroordeling, maar met begrip – dan durf jy nader kom. Dan raak dit nie net godsdiens nie, maar ’n ontmoeting. Jy voel: ek is nie die enigste een nie. Ek mag maar nader kom, al het ek geval. So werk dit ook met Christus. Die skrywer van Hebreërs vergelyk die Ou Testamentiese priester met Jesus, en wys: daar is ooreenkomste. Ja, Christus is anders – Hy is heilig, sondeloos – maar tog is daar iets dieselfde: ook Hý kan saamvoel.

Jesus Christus is nie ’n afstandelike Hoëpriester nie. Hy is nie iemand wat koud en ver bo ons staan nie. Hy is iemand wat die pad van menswees saam met ons geloop het. Hy ken swakheid – nie deur self te sondig nie, maar deur in ons gebroke wêreld te leef.

So, as jy vandag hier sit en voel: Ek sukkel so… ek val telkens weer… – weet dit: Christus kyk nie met veroordeling na jou nie, maar met ontferming. Hy roep jou: “Kom, ek verstaan. Ek is nie ’n priester wat onbetrokke is nie. Ek voel saam. Kom na My toe.”

 Christus was ook swak

Hebreërs 5 leer vir ons iets belangriks: Jesus Christus was nie net God nie – Hy was ook werklik mens. En as mens het Hy swakheid ervaar.  Vers 7 sê: “In die dae van sy vlees het Hy gebede en smekinge onder sterk geroep en trane aan Hom gebring wat Hom uit die dood kon red…” Dink net daaraan: Jesus het gehuil. Hy het geroep. Hy was bang. Hy het swaar gekry.

Jesus was nie ’n robot nie. Nie ’n mens met ‘superkrag’ wat niks deurgemaak het nie. Nee – Hy het geleer wat dit is om mens te wees. Hy het selfs gehoorsaamheid geleer deur lyding, sê vers 8. Dit beteken nie Hy was eers ongehoorsaam nie – maar dat Hy deur lyding in die praktyk moes leer wat dit beteken om aan God gehoorsaam te bly, selfs al kos dit jou alles.

Hierdie lyding – hierdie swakheid – maak dat Hy ons volkome verstaan. Wanneer jy huil, het Hy ook gehuil. Wanneer jy bang is, was Hy ook bang. Wanneer jy worstel om aan God getrou te bly, weet Hy presies hoe dit voel.

En tog het Hy nie gesondig nie. Vers 15 van hoofstuk 4 sê dit duidelik: “Ons Hoëpriester is nie een wat nie met ons swakhede meegevoel kan hê nie – inteendeel, Hy is in elke opsig net soos ons versoek, maar sonder sonde.”

Hy weet dus presies hoe sterk die aantrekkingskrag van sonde is. Hy weet hoe dit voel as jy moeg is, oorlaai, versoek. Maar Hy het nie toegegee nie. En nou sê Hy vir jou: Ek verstaan. Kom maar nader.

Dit beteken: jy hoef nie weg te kruip nie. Jy hoef nie te probeer om jouself eers reg te kry voor jy na God gaan nie. Christus self het swakheid geken – en Hy nooi jou uit om met jou swakheid na Hom te kom.

 CHRISTUS BEGRYP DIT AS JY SO SWAK IS

Jy hoef nie skaam te wees omdat jy swak is nie. Jy hoef nie voor te gee jy is sterk as jy dit nie is nie. Want Christus verstaan jou swakheid – nie net omdat Hy alles weet nie, maar omdat Hy dit gevoel het.

Jy mag voor God kom met jou hele menswees: jou sonde, jou onsekerheid, jou twyfel. Of jy nou gebuk gaan onder skuld, of dat jy net geestelik moeg is – Jesus sê: Kom. Hy het self ervaar hoe dit is om alleen te wees. In Getsemane bid Hy in angs. Aan die kruis roep Hy: “My God, waarom het U My verlaat?” Hy weet wat geestelike donkerte is. Hy weet hoe dit voel as jy nie God se teenwoordigheid ervaar nie.

Nie net as jy sonde gedoen het nie, maar ook as jy vol vrae is. As jy seergemaak is. As jy voel jy kan nie vergewe nie. As jy gebroke is. Christus verstaan. Jou swakheid is vir Hom nie ’n struikelblok nie – dis juis wat jou na Hom toe bring.

Samevatting

Liewe gemeente, laat ons dus sonder vrees na die troon van genade kom. Wat ’n wonderlike beeld: ’n troon – God is Koning – maar dit is die troon van die Genadige. Hy is heilig, maar ook ontfermend. Hy is regverdig, maar ook vol barmhartigheid.

Jy mag kom – nie omdat jy sterk is nie, maar juis omdat jy swak is. Jy mag genade kom haal – omdat Christus weet hoe jy voel. Hy sê nie dat jou sonde nie erg is nie. Maar Hy sê: Ek het daarvoor gesterf. Ek het jou lief.

Kom vandag, selfs al voel jy nie waardig nie. Kom na die Avondmaal, kom na God se teenwoordigheid. Kom met ’n oop hart – Hy wag op jou. Hy gee genade. Hy verstaan jou. En Hy gee jou wat jy die nodigste het: barmhartigheid. Liefde. Genade. Kom dus – sonder skroom – na die troon van die Genadige! AMEN

GEBED

Heer Jesus Christus, Dankie dat U ons Hoëpriester is. Nie ver en koud nie, maar naby. U ken ons harte. U verstaan ons stryd. U voel met ons mee. Dankie dat ons altyd weer mag kom – na U troon van genade. Gee dat ons U nie sal vrees nie, maar U sal vertrou. Vul ons met die wete dat U liefde groter is as ons sonde, en U krag sterker as ons swakheid. Bring ons nader aan U, en leer ons om mekaar ook met dieselfde barmhartigheid te behandel.  In U Naam bid ons dit, o Heer van genade. AMEN

Seënbede:

Die genade van ons Here Jesus Christus, wat jou swakheid verstaan en met jou meevoel,
die liefde van God die Vader, wat jou altyd weer nader trek na Sy genadetroon,
en die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees, wat jou versterk in jou stryd en jou lei op die pad van gehoorsaamheid,
sal met julle wees – vandag en elke dag. AMEN

1 thought on “PREEK SONDAG 3 AUGUSTUS 2025 – KOM GERUS NA DIE TROON VAN DIE GENADIGE”

Comments are closed.