22/03/26 PREEK PASTORALE BRIEF AAN BEDROEFDES
Liewe Bedroefde,
Ek skryf vandag vir jou as ’n mede-mens en as ’n bedienaar van die evangelie. Ek skryf hierdie brief bowenal net as iemand wat omgee.
Ná ’n nabye sterfgeval voel dit soms of jou geliefde oral saam met jou loop—al is hulle nie meer hier nie. Amper soos ’n geamputeerde voet, dit jeuk al is dit nie meer daar nie! Jy hoor hulle stem in jou kop, jy onthou hul klein gewoontes, jy kyk op sekere tye nog outomaties na die plek waar hulle sou sit. Dis asof jou hele lyf en hart nog op hulle ingestel is. En tog is daar hierdie groot leegte wat niks kan vul nie. Jy kan tussen mense wees en steeds alleen voel.

Dis rou se vreemde waarheid: iemand kan weg wees, maar hulle bly so naby in jou binneste dat dit amper voel soos ’n teenwoordigheid. Daarom voel jy dalk deurmekaar—jy mis hulle, jy soek hulle, jy onthou, en dan tref die werklikheid jou weer. As jy so voel, is jy nie vreemd nie. Dit is net liefde wat nou pyn geword het.
Die lewe het dalk ’n doolhof geword. Die rigtingwysers wat vroeër jou dae geanker het—’n stem, ’n gesig, ’n hand, ’n roetine—het weggeval. En smart kan uit enige hoek jou oorval: ’n leë stoel, ’n liedjie, ’n datum op die kalender, ’n reuk, selfs ’n mooi lentedag wat jy graag sou deel. Dan voel dit amper wreed dat die wêreld aangaan, terwyl jou wêreld in stukke lê.
Ek wil vir jou sê: jy word nie gehelp deur maklike sinne soos “jy moet maar aangaan” of “onthou die mooi jare” nie. Daardie woorde bedoel soms goed, maar dit voel asof jou pyn afgeskakel kan word. Maar dit kan nie. Die gemis word nie outomaties ligter met tyd nie. Soms raak dit later selfs swaarder wanneer die werklikheid eers ten volle deurdring—wanneer die skok se verdowing wegtrek en die hart skielik besef: “Hy/sy kom regtig nie terug nie.” Dan kan daar ’n nuwe vrees kom: “Wat as ek vergeet? Wat as die herinneringe vervaag? Wat as mense ophou vra?” Dit is hoekom rou so eensaam kan raak ná die eerste weke, wanneer die wêreld se aandag verskuif en jy voel asof jy van die rou in ’n donker spelonk beland.
Jy is nie vreemd as jy weer en weer oorval word nie. Baie mense verstaan nie dat rou nie ’n reguit pad is nie. Hulle dink dit moet “beter word” soos ’n wond wat mettertyd heel. Maar rou werk soos golwe. Party dae kan jy asemhaal; ander dae spoel dit soos ’n emmer water oor jou. Ja, soms kom dit onverwags: jy dink jy’s reg, en dan tref dit jou weer, skerp en rou. Dit maak jou moeg. Rou-Arbeid is harde werk—kop, hart, liggaam, siel. Dit kan selfs uitkom as woede, prikkelbaarheid, of ’n kort lont teenoor die mense wat die naaste aan jou is. Dis nie omdat jy sleg is nie; dis omdat jy seer is, jy dra ’n rou wond. Emosioneel gekwes met ongeneeslike wonde. Soms wil jy net alleen wees!!!!
Onthou asseblief: verdriet is nie ’n siekte wat “genees” kan word nie; dit is die keersy van liefde. As jy kon liefhê, is dit normaal dat jy seer kry wanneer daardie liefde ’n wond toegedien word. Jy hoef jou geliefde nie los te laat nie, ook nie na die dood nie. Die roeping is eerder om anders vas te hou: in jou hart, in jou herinnering, in die stories wat jy veilig bewaar. Wie sterf, verhuis van die sigbare buitewêreld na die gevoelige binnekant van jou hart & siel. Jy dra nou ’n band wat nie meer met hande en stemme werk nie, maar met liefde en herinnering.
Die Bybel boek 2 Konings neem ons na ’n toneel vol vuur én stilte, hemel én aarde, afskeid én roeping: die wegneem van Elia en die agterbly van Elisa. Elia word op ’n unieke manier weggeneem—’n strydwa van vuur, perde van vuur, en ’n warrelwind wat hom oplig. Elisa sien dit. Hy verstaan: ’n hoofstuk sluit. En let op wat Elisa eerste doen. Die Bybel sê: “Hy (Elisa) het sy klere geskeur” (2 Konings 2 vers 12). Hy maak nie ’n plan nie. Hy hou nie ’n toespraak nie. Hy speel nie sterk nie. Hy rou. Dit was ’n manier om te sê: “Wat binne my breek, het nou ook buite gebreek.” Vandag skeur ons selde klere. Ons dra dalk swart, of ons word stil, of ons hou ons trane terug. Maar die behoefte bly dieselfde: verlies moet ’n plek kry, anders sal dit later plek ín jou vat—soos ’n groot klip wat jy in jou bors dra.
Hier is ’n pastorale waarheid wat ek wil hê jy moet hoor: God is nie kwaad of teleurgesteld omdat jy rou nie. Nee, Hy laat bv. Elisa se trane opteken in die Skrif. Hy laat daardie geskeurde kleed ’n getuienis word. Rou is nie ongeloof nie; rou is liefde wat seergekry het. En God laat dit in sy Woord toe, sodat jy kan weet: jou trane is nie ’n fout nie. Hulle is deel van jou menswees en jou liefhê.
Elisa roep uit: “My vader, my vader!” Dit is nie net ’n titel nie; dit is ’n band. Elia was vir hom rigting, beskerming, ’n stem van God. Wanneer so iemand weg is, voel dit asof die wêreld se ankers loskom. En Elisa probeer nie mooi praat nie. Hy skeur sy klere. Dit is rou wat nie wegsteek nie. Dit is hartseer wat nie skaam is nie. Dit is ’n mens wat erken: “Ek kan nie maak asof dit niks is nie.”
Maar kyk dan na die volgende beweging—en ek sê dit sag, want dit is nie ’n haastige woord nie. Terwyl Elisa rou, tel hy die mantel op wat geval het. Rou en roeping staan langs mekaar. Hy skeur sy klere—maar hy tel die mantel op. Die Here gee hom ruimte om te treur, en daarna genade om vorentoe te stap. Gaan dan nou dienskneg gaan verkondig die Evangelie al is dit met ’n traan! Dit is hoe God dikwels werk: nie trane óf opdrag nie, maar trane én opdrag. Nie afskeid óf aanstelling nie, maar afskeid én aanstelling.
Dit beteken nie jy moet nou “sterk wees” of vinnig “aangaan” nie. Dit beteken eerder: jy mag eerlik rou, en jy mag ook klein stappies neem wanneer jy kan. Jou “mantel optel” kan iets klein wees: vandag net was en eet; vandag net ’n boodskap stuur; vandag net ’n Psalm lees; vandag net iemand bel en sê: “Ek sukkel, dit gaan maar moeilik.” Dit kan wees om vir hulp te vra, of om ’n ritueel te doen—’n kers aan te steek, ’n foto neer te sit, die naam hardop te noem, die graf of urn besoek. Dit kan wees om te leer: ek leef nou anders, maar ek leef nog.
Ons tyd probeer rou dikwels wegdruk of verdoof. Sommige mense word net besiger. Ander verdwyn in skerms, kos, alkohol, dwelms, werk of stilte wat nie ’n heilige stilte is nie, maar ’n afgesnyde afbrekende stilte. En as rou weggestoot word, kom dit dikwels terug as bitterheid of uitbranding. Die Bybelse pad is anders: erken jou verlies, bring dit na God, en laat dit deur die gemeenskap gedra word. Jy hoef nie jou klere te skeur om Bybels te wees nie, maar jy het ’n eerlike uitlaat nodig: ’n gesprek met iemand betroubaar, ’n gebed wat sê “Here, dit breek my”, trane sonder skaamte, ’n diens van afskeid, ’n Psalm wat jy weer en weer bid totdat dit jou dra.
Liewe Bedroefde, ek wil jou ook herinner: jy hoef nie die hele toekoms vandag te dra nie. Neem dit dag vir dag, of selfs net ’n halwe dag op ’n slag. Hou uit tot middag. Hou uit tot aand. En dan weer tot môre. Versamel mense wat kan luister sonder clichés—mense wat bly sit, mense wat luisteren nomaals luister, bly vra, bly onthou. Noem jou geliefde se naam. Praat oor die kosbare oomblikke. Laat dankbare herinneringe voortleef binne die verdriet, soos voëls wat aanhou sing in die reën.
En wanneer jy weer bang word—vir die stilte, vir die herinneringe wat moontlik vervaag, vir die leegheid—onthou die God van Elia. Elia is weg, maar God is nie weg nie. Die God van Elia bly die God van Elisa. En Hy bly ook jou God. In Jesus Christus is daar ’n troos wat die dood nie kan steel nie, en ’n roeping wat pyn nie kan vernietig nie. Ons treur, ja—maar ons word nie losgelaat nie. Ons huil, ja—maar ons word gehou in die handpalm van God.
Mag die Here jou dra wanneer jou hart moeg is. Mag Hy jou leer om te rou met eerlikheid, en te leef met hoop. En mag jy, wanneer die golwe oor jou breek, tog êrens hoor: “Ek is hier. Ek laat jou nie los nie.”
Met Ootmoed & Deernis
Troostbiddend
Obé Phillips
1 thought on “PREEK 22 MAART 2026 – BRIEF AAN DIE ROU-SMART BEDROEFDES”
Die boodskap Kom op die regte tyd D’s. One. Het D’s die Engelse weergawe Nie, Groot asb.
Groete vanuit OOS LONDEN, OOS KAAP. RSA