30 NOVEMBER 2025 GOD SE BOUPLAN: VAN HOOGMOED NA HOOP

Home » blog » Preke » 30 NOVEMBER 2025 GOD SE BOUPLAN: VAN HOOGMOED NA HOOP

PREEK 30/11/22025 DIE GEBOU SKEFFELS OP DIE DORSVLOER VAN OMAN

GEBED VOOR SKRIFLESING

Almagtige God en hemelse Vader, U is die God wat selfs die donkerste bladsye in die geskiedenis oopskryf om U genadeplan te wys. Op hierdie 1ste Advent Sondag van verwagting, kom ons met die wete dat ons net so vleeslik en feilbaar soos Dawid is. Ons bid: verlig ons harte deur U Heilige Gees. Skenk ons die oë van geloof om U bouskeffels van hoop te sien op die presiese plek waar ons ons eie sonde en hoogmoed bely. Rus ons toe om te wandel in die lig van U Woord. AMEN

Skeffel planke

SKRIFLESING: 2 Samuel 24 verse 1 tot 25 en 1 Kronieke 21 v erse 22 tot 30:  “Dawid sê toe vir hom: ‘Laat my die plek met die dorsvloer kry. Ek wil daarop vir die Here ‘n altaar bou. Laat my dit kry vir die volle waarde daarvan, dat die plaag kan wegkom van die volk af.”

PREEK

INLEIDING

Gemeente van die Here Jesus Christus, ons begin vandag die Adventsreis. As ons aan koning Dawid dink, dink ons aan die held, die psalmdigter, die man na God se hart. Ons dink aan oorwinning, stabiliteit, en ’n ryk wat onwrikbaar op sy troon sit. Ons sou verwag dat Dawid se geskiedenis met ’n finale loflied sou eindig. Maar die Bybel is God se storie, en dit is eerlik. Dit eindig met een van die donkerste verhale in sy lewe.

Ons teks bring ons na ’n tyd van hoogmoed en selfvertroue. Dawid, wat eens heeltemal op die onsigbare God vertrou het, begin nou sy hoop op sy sigbare weermag te stel. Die volkstelling—die tel van sy krygsmanne—was ’n arrogante poging om God se plek in te neem en sy eie krag te meet. Hierdie geskiedenis is nie net ’n ou, historiese fout nie; dit is ’n spieël vir elkeen van ons. Dit leer ons dat selfs die grootste geloofsheld slegs mens bly en aan eie grootheidswaan kan ly.

Maar let op! Juis in hierdie donkerte is God besig met Sy heilsplan. Dit draai wel oor Dawid, maar dit loop uit by Dawid se Groot Seun, Jesus Christus. God is in hierdie skadu-hoek besig om die fondasie te lê vir Sy uiteindelike Huis van Verlossing. Hierdie dorsvloer is die terrein waarop die bouskeffels van ons hoop geplaas word.

HOOGMOED SE BOUPLAN

Die probleem lê nie by die tel self nie, maar by die motief daarvan. Dawid het sy krygshoof, Joab, uitgestuur om die krygsmanne te tel. Hy het ’n militêre sensus verlang, gedryf deur ’n ongesonde beheptheid met mag. Die uiteinde was verstommend: byna anderhalf miljoen man. Dit was ’n magtige, indrukwekkende, sigbare leër om op te roem.

Die Bybel sê duidelik: “die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam”, maar ook dat “die satan teen Israel opgestaan het en Dawid aangespoor het om Israel te tel”. Let op die verband: God laat toe wat die Satan wil gebruik om te verwoes, en Hy gebruik dit om Sy eie regverdige oordeel uit te voer. Dawid se hart het gesê: “Kyk hoe sterk ís ons!” Sy vertroue het geskuif van die onsigbare God na die sigbare getalle. Hy het gesondig uit grootheidswaan, narcissme en ’n miskenning van die Verbondsgod.

Maar dan tref die genade Dawid onverwags. Ná tien maande se sensus, toe die getalle bekend is, “slaan die gewete van Dawid hom, nadat hy die volk getel het”. Die soetheid van sy sonde verdwyn; dit word bitter. Dit is die begin van ware bekering: val, ontdekking, berou en belydenis. Hy roep uit: “Ek het baie gesondig… neem tog die skuld van u dienaar weg, want ek het baie dwaas gehandel.” Dit wys dat die Here selfs in ons grootste dwaasheid besig is om ons oë vir onsself te open.

Bloglesers, hoe bekend is dit nie: Ons meet ons veiligheid in rand en sent, versekering en beleggings. Ons meet ons waarde in prestasie, posisies, volgelinge, statistiek. Selfs as gemeente meet ons graag: getalle, programme, strukture en vaste beleggings. Daar is plek vir orde en beplanning, maar die gevaar sluip in: ons vertroue skuif. Die dorsvloer van Oman begin hier: waar God ons wys dat ons op ons eie getalle vertrou en nie op Hom nie.

DIE GODDELIKE INGRYPING EN OORDEEL

Al het Dawid bely, moet die rekening nog vereffen word. God is regverdig; Hy kan nie die sonde ongestraf laat voortgaan nie. Deur die profeet Gad word Dawid voor ’n vreeslike keuse gestel: hongersnood, oorlogs verlies, of pes. Dawid, vasgevang, kies om in die hand van die Here te val, want God is barmhartig. Die Here kies die pes. Oor die hele land, van Dan tot Ber-seba, sterf sewentigduisend man. God vee met ’n dik streep die getalle weg waarop Dawid so trots was. Die oordeel van God is ’n skrikwekkende werklikheid, en dit word deur die engel des doods uitgevoer.

Die engel des doods trek deur die land en kom uiteindelik by Jerusalem aan. Hy strek sy hand uit oor die stad om dit te vernietig. Al die burgers in die hoofstad, veilig agter hul dik mure, is skielik kwesbaar. Die dood breek dwarsdeur. Maar dan, op daardie oomblik van uiterste benoudheid, by die dorsvloer van Arauna, gee God ’n bevel. Skielik word die Engel des doods se swaard teengehou, en klink die stem van genade: “Dit is genoeg! Trek nou jou hand terug!”

Dit is die keerpunt! Dit is nie ‘n bewys dat God veranderlik is nie; dis die bewys dat God barmhartig is en Hom aan Sy eie raadsplan bind. Die swaard word teengehou, maar dit is nog nie gebêre nie. God skep ‘n genadetyd, want die dorsvloer van Oman het ’n groter, ’n ewigheidsbestemming.

Miskien ken jy ook so ’n dorsvloer-moment: wanneer jy besef hoe ernstig sonde is, hoe naby die oordeel is – en tog hoor jy: “Dit is genoeg.” Nie omdat jy so goed berou het nie, maar omdat God self ’n pad van verzoening voorberei.

DIE VOLLE PRYS EN DIE PLEK VAN VERSOENING

Dawid sien die engel, en sy hart word gebreek. Hy skeur sy klere en pleit: “Sien, ék het gesondig… maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie”  Hy vra om ’n plaasvervanger. Hy wil self die volle gewig van die oordeel dra.

Dan kom die profeet Gad met ’n duidelike opdrag: “Gaan op en rig vir die HERE ’n altaar op op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet”. Dawid gaan dadelik op na die rotsagtige heuwel: Moria. Oman, die eienaar, bied alles gratis aan: die dorsvloer, die beeste, die hout. Maar Dawid weier, en sy woorde is die sleutel tot die evangelie: “Nee, maar ek sal dit seker van jou koop vir die volle prys; want ek wil die HERE my God nie brandoffers offer wat my niks kos nie”.

Dit moes kos. Dit moes ’n volle prys hê. Slegs wanneer dit ’n ware offer is, kan die toorn van God gestil word. Op daardie heuwel bou Dawid die altaar en offer hy. En God antwoord! “Toe het die HERE uit die hemel met vuur geantwoord op die brandofferaltaar”. Die vuur verteer die offer. Dit is God se getuienis: die offer is aanvaar. Die swaard van die Engel des doods word in sy skede gesteek. Die pes hou op. Die dorsvloer word die plek van vrede en versoening.

Sien julle die Skeffels? Op ’n plek van oordeel begin God bou. Op ’n dorsvloer word ’n altaar geplant. Op die plek waar ’n swaard gehang het, kom ’n huis van gebed. En nog verder: hierdie plek wys vooruit na ’n ander heuwel, net buite Jerusalem – Golgota. Daar sal geen stem uit die hemel sê: “Dit is genoeg, trek jou hand terug” voordat die volle oordeel op Christus neergedaal het nie. Hy is die Lam van God, die finale offer, die ware tempel. Die bouskeffels by Oman wys vooruit na die kruis en die opstanding, na God se groot bouwerk: ’n nuwe volk, ’n nuwe skepping.

Skeffels

SAMEVATTING

Waar lê u dorsvloer vandag? Waar het hoogmoed en selfvertroue u hart in die oordeel laat val? Is dit u finansies, u werk, u kinders, of u eie oordeel oor ander? Lê u swaard van swargalligheid, u swaard van selfregverdiging, en u swaard van moedeloosheid neer. God sê: Die volle prys is betaal. Die bouwerk is volbring in Christus. Kom na Hom wat u niks kos nie, maar wat Homself alles gekos het, en wandel in die sekerheid van Sy voltooide bouplan.

Die goeie nuus vandag is: die dorsvloer van Oman is nie net geskiedenis nie. Elke keer as die evangelie verkondig word, bou God weer ’n altaar voor ons oë – nie van klip nie, maar van Woord en Gees. Hy wys weer na Christus, die Lam. Hy sê: “Dit is genoeg. My Seun het betaal. Kom na My toe.” My vraag aan jou: Waar vertrou jy op jou eie getalle – jou beheer, jou planne, jou kragte? Waar probeer jy nog self jou skuld dra, asof jy die plaag kan keer? God se uitnodiging is eenvoudig maar radikaal:
Kom, soos Dawid, na die dorsvloer. Bely: “Ek is dit wat gesondig het.” Laat God self ’n altaar bou in jou hart – nie met diere-offers nie, maar met die een volmaakte offer van Christus. Laat Hy jou bousteen maak in sy huis, sy tempel, sy gemeente.

En dan, uit dankbaarheid, begin jy leef as iemand wat glo: God is besig om te bou – selfs op die ruïnes, selfs op die stof van ’n dorsvloer. Jou klein dade van gehoorsaamheid, jou eenvoudige “ja” op sy genade, is deel van sy bouwerk.

Mag ons sê: “Here, ons buig onder u oordeel, ons vlug na u altaar, en ons gee onsself vir u bouplan – hier, op ons eie dorsvloer.” AMEN

GEBED NA SKRIFLESING

Vader, ons dank U vir die belofte van hierdie geskiedenis, dat U U plan voortsit, selfs deur ons sonde. Ons bely ons eie hardnekkige hoogmoed, narcisme en ons neiging om op ons eie “getalle” te vertrou. Ons vra U: breek ons harte. Wys ons die plek van ons dorsvloer. Laat ons die volle, verskriklike en wonderlike prys van vergifnis verstaan, wat U alles geoffer het. Laat U Heilige Gees ons dring om op hierdie bouperseel van U genade te kniel. Ons bid dit in die Naam van Jesus, die Lam wat die volle prys betaal het, sodat ons die ewige vrede kan ontvang. AMEN

SEËNBEDE

Die Here, wat die swaard laat terugtrek het op die dorsvloer van Oman,
mag Hy jou hart vul met sy vrede.
Die Here Jesus Christus, die Lam van God,
mag Hy jou dra in sy genade en jou vrymaak van skuld en vrees.
Mag die Heilige Gees jou lei om jou lewe as ’n altaar van aanbidding op te rig     mag Hy jou inskakel in God se groot bouwerk,
sodat jy leef as ’n lewende steen in sy huis. AMEN

2 thoughts on “30 NOVEMBER 2025 GOD SE BOUPLAN: VAN HOOGMOED NA HOOP”

  1. Amen
    Here, ons buig onder u oordeel, ons vlug na u altaar, en ons gee onsself vir u bouplan – hier, op ons eie dorsvloer.” AMEN

    Reply

Leave a Comment