15 MAART 2026 – GOD SE ROEPSTEM: VAN KREUPELHEID NA ’N HEELHARTIGE “JA”

Home » blog » Preke » 15 MAART 2026 – GOD SE ROEPSTEM: VAN KREUPELHEID NA ’N HEELHARTIGE “JA”

15/03/’26 – HINK BETEKEN: LIPPE BY GOD, HART BY AFGODE

GEBED VOOR SKRIFLESING

Almagtige God en hemelse Vader, ons nader U vandag met eerbied en verlange om U stem te hoor. Here, in ’n wêreld wat ons aandag in duisend rigtings laat afdwaal, vra ons dat U Heilige Gees nou die stilte in ons harte sal skep. Open U Woord vir ons, sodat die lig van U waarheid die wegkruip plekkies van ons siel kan verlig. Laat die woorde van die profeet Elía nie net as ou geskiedenis klink nie, maar as ’n lewende appèl aan elkeen van ons. Here, raak ons lippe aan, maar bo alles, neem besit van ons harte. Mag die meditasie van ons siel vandag vir U aanneemlik wees, o Here, ons Rots en ons Verlosser. AMEN

SKRIFLESING: 1 Konings 18 vers 21 “En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.”

PREEK

 INLEIDING

Deur hongersnood en dors het God aan die gewete van die volk gekrap, maar die appèl was oënskynlik tevergeefs. Angs en vrees het hulle geregeer, selfs in hul ellende. Hulle het nie berou getoon en opgestaan om die valse godsdiens te verwerp nie, ’n gebrek aan oortuiging en geestelike onstabiliteit was hul ondergang. Maar nou kom Elía uit die woestyn soos ’n donderslag. Hy stop die koning se wa met ’n gebaar en vra die deurslaggewende vraag van ons teks: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes?”

Die Afrikaanse woord Hink kom van die Nederlandse woord “hinken” uit ’n ou Germaanse woordfamilie en beteken oorspronklik om mank, struikelend of onvas te loop. Dit is die idee van ’n beweging wat nie reguit, gelyk of heel is nie. Die woord beskryf dus nie net stadigheid nie, maar ’n skewe gang—’n voortbeweeg met ’n gebrek. Ons het ook die spreekwoord in Afikaans ‘Hy loop Hinke Pinke’.  Daarom is dit so ’n mooi beeld in ons teks wanneer Elia vra hoe lank die volk nog “hink op twee gedagtes”, bedoel hy nie bloot dat hulle onseker is nie, maar dat hulle geestelik mank loop omdat hulle lojaliteit verdeel is tussen die Here en afgode.  Dis nie net besluiteloosheid in jou kop nie. Dit is ’n lewe wat skeef loop. Dit is ’n hart wat nie reguit kan stap nie, om,dat dit in twee rigtings getrek word. Aan die een kant is daar die Here, die God van bevryding, verbond en genade. Aan die ander kant is daar Baäl—die god van mag, vrugbaarheid, beheer en manipulasie. Elia sê: julle kan nie op albei bene tegelyk in twee verskillende rigtings loop nie.

DIE MODERNE BAÄL: WAT IS DIE AFGODE VANDAG?

Elia se vraag gaan nie eerste oor uiterlike rituele nie; dit gaan oor die hart. In die Bybel is die hart die sentrum van begeerte, besluit, vertroue en wil. Wanneer die volk “op twee gedagtes hink,” beteken dit hulle is innerlik verdeeld. Hulle wil die Here nie heeltemal los nie, maar hulle wil Baäl ook nie laat gaan nie. Hulle wil die Here vir die altaar hê, maar Baäl vir die oes. Die Here vir godsdiens, maar Baäl vir veiligheid en sukses.

Dit klink vreemd, maar dit is presies hoe afgodery werk—ook vandag. Afgodery sê nie altyd: “Verwerp God openlik” nie. Dit sê eerder: “Hou God maar, maar maak ook seker jy het iets anders om op te steun.” Daarom lyk moderne afgodery soms baie netjies: Ek bid, maar my uiteindelike vertroue is in geld. Ek bely Christus, maar my identiteit hang aan mense se goedkeuring. Ek sing lofliedere, maar my hart word regeer deur begeerte, status of beheer.

Ja ons buig voor diegene in blink motors en met groot titels, asof uiterlike glans die innerlike waarde bepaal. Dan is daar die afgod van Mode en Aanvaarding. Ons versier onsself met duur klere, juwele, merk tekkies en merk handsakke , doodsbang dat ons belaglik sal lyk as ons nie die stroom volg nie, terwyl ons ons eie waardigheid opoffer op die altaar van uiterlike vertoon. Selfs Ambisie en Plesier word gode wanneer hulle ons dryf om die vrede van God te verruil vir die maskers van afstootlikheid en ligsinningheid. Baäl beteken vandag enigiets wat krag en besit hoër ag as die eenvoudige wandel met ’n regverdige God. Die hinkery begin wanneer ons dink ons kan beide die koninkryk van God en die ryk van die hedendaagse Mammon gelyktydig dien.

DIE KREUPEL HART: DIE MOEILIKHEID VAN ’n BESLUIT

Blogleser, ’n Mens kan baie naby aan die dinge van God wees en tog ver van God af wees. Jy kan die Amen & Halleluja uitroep, die gesange en koortjies sing, lang gebede bid—en tog in jou hart op twee gedagtes hink. Dit is waarom ons tema so belangrik is: hink beteken nie net onsekerheid nie; dit is verdeelde aanbidding. Dit is wanneer ek nog godsdienstig lyk, maar nie werklik oorgegee leef nie.

Baäl se godsdiens was ’n godsdiens van mag, seksualiteit, vrugbaarheid, prestasie, geld en manipulasie—’n godsdiens vir “wenners”. En is dit nie steeds die versoeking nie? Dit klink asof ons politiek praat! Om God te dien solank dit vir jouself meer geld en mag kan gee, maar die wêreld se metodes te gebruik wanneer dit dringend raak. Om die Here met die mond te eer, maar innerlik te dink: “As ek nie self beheer neem nie, gaan ek onder.”  Dis Hinke – Dis so jammer dat baie christene in die valstrik getrap het ….

Hierdie teks roep die gemeente tot eerlike selfondersoek: Is my aanbidding opreg? Of dien ek die Here met Sondag-lippe, terwyl my Maandag-hart aan ander gode behoort?

DIE MAJESTEIT VAN ’N ONVERDEELDE LEWE

Elia se vraag is skerp, maar dit is nie net veroordeling nie—dit is ook uitnodiging. Hy sê nie: “Julle is klaar verlore” nie. Hy sê: “As die HERE God is, volg Hom; en as Baäl dit is, volg hom.” Met ander woorde: kies. Moenie langer skeef loop nie. Moenie langer in die spanning van dubbele lojaliteit bly nie. God roep julle tot helderheid.

En hier sien ons die groot verskil tussen die Here en afgode. Afgode vra bloed, selfverwonding, manipulasie, eindelose prestasie. Maar die Here is die God van die verbond. Elia hoef homself nie te sny om God se aandag te trek nie. Hy beroep hom op die Here se Naam, op God se trou aan Abraham, Isak en Jakob. Dit is die God wat mense by die naam ken, wat bevry, wat ’n nuwe begin gee.

Dit is vir ons ook evangelie. Want baie van ons hoor “kies” en dink: “Ek het reeds te veel verkeerd gekies. Ek is te tussen twee. Ek is te ver.” Maar God se roepstem is nie: “Word eers perfek” nie. Sy roepstem is: “Kom terug.” By God is daar altyd ’n nuwe begin. ’n Mens kan jou verkeerde pad ontdek, en tog weer draai. Dit is wat doop, belydenis en bekering telkens sê: jy hoef nie vir altyd te hink nie. In God se genade kan ’n mens weer leer om reguit te loop.

SAMEVATTING

Hink beteken dat jou lippe dalk die regte woorde spreek, maar jou hart elders is. Moenie toelaat dat die “seuns van die wêreld” julle wyser maak in julle generasie as die kinders van die lig nie. God roep ons vandag terug na ’n heelhartige “Ja”. Besluiteloosheid is ’n stadige dood vir die siel. As die HERE God is, volg Hom dan ná met julle hele hart, julle hele siel en al julle krag. Laat die vuur van God vandag op die altaar van julle eie harte val en die oorblyfsels van huiwering verteer. Mag ons saam met die menigte op die Karmel uitroep: “Die HERE, Hy is God! Die HERE, Hy is God!”

En as jy struikel—onthou: by God is daar genade vir hinkendes. Hy verwerp nie die gebrokene wat terugkom nie. In Jesus Christus roep God ons nie net tot ’n keuse nie; Hy gee ook die krag van sy Gees om ’n heelhartige “ja” te leef. AMEN

GEBED NA DIE PREEK

Here ons God, ons dank U vir u Woord wat ons ontmasker en genees. Vergewe ons waar ons op twee gedagtes gehink het, waar ons lippe U geëer het maar ons harte aan afgode behoort het. Wys vir ons ons valse vertroue en breek dit af met u genade. Trek ons terug na ’n heelhartige liefde vir U. Gee vir ons die moed om te kies, die nederigheid om te bely, en die krag om te gehoorsaam. Laat u Heilige Gees ons leer om reguit te loop in geloof, hoop en liefde. In Jesus se Naam. AMEN

SEËNBEDE

Mag die Here jou hart heel maak vir Hom alleen.
Mag Christus jou bevry van verdeelde lojaliteit.
Mag die Gees jou leer om reguit te wandel.
Mag God se genade jou elke dag nuut maak.
Mag sy vrede jou bewaar. AMEN

2 thoughts on “15 MAART 2026 – GOD SE ROEPSTEM: VAN KREUPELHEID NA ’N HEELHARTIGE “JA””

Leave a Comment