PREEK SONDAG 15 FEB 2026 – HEUP EN SKENKEL: WANNEER WRAAK EN ROEPING BOTS

Home » blog » Preke » PREEK SONDAG 15 FEB 2026 – HEUP EN SKENKEL: WANNEER WRAAK EN ROEPING BOTS

PREEK 15/2/2026 – HEUP EN SKENKEL: DIE GEVAAR VAN ONBEHEERSTE WOEDE EN DIE GENADE WAT VREDE BRING

GEBED VÓÓR SKRIFLESING

Hemelse Vader, ons kom na U toe met harte wat dikwels vinnig ‘boil’ en stadig vergewe. U ken ons swakhede, ons seer, en ons drang om self reg te maak wat ons as onreg ervaar. Ons erken dat U weë dikwels vir ons onverstaanbaar is en dat U selfs die swakheid en woede van mense gebruik om U raadsplan uit te voer. Here, open vandag ons harte vir die geskiedenis van Simson. Laat U Heilige Gees hierdie antieke teks, hierdie ou ou tyding vir ons lewend maak, sodat ons nie net ’n verhaal van lank gelede hoor nie, maar u stem vandag in ons eie omstandighede sal herken. Spreek, Here, U kinders luister met verwagting. AMEN

SKRIFLESING: Rigters 15 vers 1 tot 8 “ .. En hij sloeg hen, den schenkel en de heup, met een groten slag; en hij ging af, en woonde op de hoogte van de rots Etam.” (Nederlands Statenvertaling bijbel)

INLEIDING  

Liewe bloglesers, die geskiedenis van Simson is een van die mees fassinerende, dog ontstellende verhale in die Skrif. Ons onthou hom dikwels as die Sondagskool-held met die lang hare en die groot spiere, maar as ons Rigters 15 lees, sien ons ’n man wat diep worstel met sy eie emosies, met sy wraakdrang en sy roeping as rigter. Simson is ’n man van uiterstes: hy is deur God afgesonder as ’n Nasireër, tog soek hy dikwels sy eie pad.

In ons teks vind ons hom in ’n krisis. Simson kom na sy vrou tegemoet met ’n bokkie—’n teken dat hy wil versoen en die huwelik wil herstel. Maar sy is aan iemand anders gegee. En die skoonpa maak dit erger met ’n “redelike” voorstel: “Neem liewer haar jonger suster.” Wat vir hulle ’n praktiese oplossing is, is vir Simson ’n diep vernedering. Maar die deur word toegeklap, Simson bars los in ’n woede bui. Ongekend! Dit begin as ’n persoonlike vete, maar dit groei uit tot ’n nasionale konflik. Simson se lewe leer ons dat God nie net deur “perfekte” mense werk nie, maar dat Hy selfs in ons mees chaotiese oomblikke sy doelwitte bereik. Vandag kyk ons na hierdie “eensame stryder” wat die vyand verslaan, nie met ’n leër nie, maar met die krag wat God alleen skenk. Ons vra onsself af: Waar vind ons God se hand wanneer dinge in ons eie lewens begin uitmekaarval? Vandag vra die Here: Hoe hanteer jy jou seer—met vuur, of met geloof?

DIE “BOKKIE” EN DIE TOE DEUR: WANNEER MENSE JOU TOEKOMS POT TOE MAAK?

Simson se bokkie is klein, maar dit sê baie: hy kom nie met ’n swaard nie; hy kom met ’n gebaar. Dit is ’n oomblik waar dinge dalk nog kon herstel. Maar die Filistynse familie het reeds besluit: hy kry nie toegang nie. Soms gebeur dit ook met ons: jy probeer regmaak, jy probeer praat, jy probeer naderkom—en iemand sluit jou uit. Dis seer. Dis vernederend. Dis frustrerend.

En nou kom die gevaar: wanneer die deur toe is, begin die hart raas. Dan kook onse ketel! Dan begin ons sinne maal is ons kop soos: “Nou sal ek wys.” “Nou sal hulle sien.” “Ek sal hulle leer. Hulle dink hulle kan met my mors!” Simson sê: “Nou is dit nie my fout nie, ek is onskuldig teenoor die Filistyne as ek hulle kwaad aandoen.” Let op hoe maklik ’n mens jou wraak kan regverdig. Seer word ’n verskoning; woede word ’n “reg.”

Bloglesers, dis een van die groot geestelike toetse: kan ek met my vernedering na God toe gaan? Kan ek my gekrenkte trots voor die Here neerlê? Of gaan ek my seer gebruik om te vernietig—met woorde, met stiltes, met skinder, met my vuiste of my mes?

Christus leer ons ’n ander pad: nie passiewe toelaat van onreg nie, maar ’n hart wat nie deur wraak beheer word nie. ’n Toe deur is nie altyd ’n uitnodiging tot oorlog nie. Soms is dit ’n uitnodiging tot gebed: “Here, U sien. U weet. U sal reg laat geskied.” Simson het daardie gedeelte gemis—en die vuur in hom het sy hart laat ‘boil’! .

JAKKALSE EN BRANDENDE FAKKELS: WANNEER BITTERHEID JOU OES VERBRAND

Simson se wraak is kreatief—maar vernietigend. Hy vang jakkalse, bind hulle sterte, steek fakkels aan, en stuur hulle in die graanlande. Die resultaat: die staande koring, die wingerde, die olyfboorde—alles brand. Dis ekonomiese oorlog. Dit raak nie net die “skuldiges” nie; dit tref hele gemeenskappe. Dis amper soos Drones kragstasies tref wanneer dit – 20 °C is…

Daar is ’n geestelike les hier: Haat en bitterheid brand selde net een hoekie van jou lewe. Dit versprei. Dit raak jou huis, jou gesondheid, jou werk, jou verhoudings, jou geloof. Dit steel vrede. Dit steel vreugde. Dit steel perspektief. Soos vuur in droë gras hardloop bitterheid vinniger as wat ons dink.

En kyk hoe die kringloop eskaleer: die Filistyne reageer weer met geweld. Nou word Simson se seer nog groter. Die wêreld van Rigters is ’n wêreld sonder koning, sonder vrede, waar elkeen doen wat reg is in sy eie oë. En in so ’n wêreld dink mense: “As ek nie terug slaan nie, verloor ek.”

Maar gemeente, God roep Sy volk altyd uit die bose kringloop. Hy roep ons om anders te wees: om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, om nie die wêreld se vuur met ons eie vuur te beantwoord nie. Ja, daar is plek vir reg en geregtigheid—maar wraak behoort aan die Here. As jy vandag ’n “jakkals-fakkel” in jou hart dra—’n plan om te brand, om te skaad, om te bewys—bring dit na die Here toe. Hy kan selfs jou brandende haatdraende hart blus en verander in ’n lig wat bou, nie breek nie.

 HEUP EN SKENKEL: ’N GROOT SLAG, MAAR ’N KLEIN HART

Die teks sê Simson het die Filistyne met ’n “groot slag” getref—’n uitdrukking wat die idee dra van totale, vernederende oorwinning. Dit klink soos krag. Dit klink soos triomf. Maar kyk mooi: onder die groot slag lê ’n klein hart—’n hart wat nog nie geleer het om seer voor God te verwerk nie.

Dis moontlik om “te wen” en tog geestelik te verloor. Dis moontlik om iemand stil te maak met jou woorde en tog jou eie siel te beskadig. Dis moontlik om ’n argument te wen, maar liefde te verloor. Simson se krag is indrukwekkend, maar sy innerlike wêreld is onstuimig. Hy is geroep as verlosser vir Israel, maar hy tree soos ’n eensame stryder op wat sy persoonlike wraak met God se roeping verwar.

En tog—hier is die misterie: God gebruik selfs hierdie chaos in sy groter plan. Die Here laat nie onreg ongestraf nie, en Hy werk deur gebroke mense om sy volk te beskerm. Dit is nie ’n verskoning vir Simson se sondes nie; dit is ’n troos vir ons: God se plan hang nie aan ons perfeksie nie.

Maar dit bly ook ’n waarskuwing: moenie jou temperament of jou seer verhef tot “God se wil” nie. Vra eerder: “Here, is my reaksie uit U Gees, of uit my vlees?” God roep jou nie net tot oorwinning nie, maar tot heiligheid.

SAMEVATTING

Gemeente, Rigters 15 wys vir ons drie dinge: seer is werklik, wraak is gevaarlik, en God bly getrou. Simson is verneder en verraai, maar hy kies die pad van vuur. Sy wraak word ’n veldbrand wat baie mense tref. Hy behaal ’n groot slag, maar dra steeds ’n onrus in sy hart.

Die appèl vandag is eenvoudig en prakties: Wat doen jy met jou seer? Is daar iemand wat jou “deur toegeslaan” het? Iemand wat jou onreg aangedoen het? Iemand wat jou naam beskadig het? Dalk dra jy dit al lank. Dalk bou jy al ’n plan in jou kop. Dalk brand jy al—nie met fakkels nie, maar met koue stiltes, sarkasme, passiewe aggressie, of skinder.

Bring dit vandag na die Here. Bely: “Here, my hart is warm van wraak.” En vra: “Maak my hart sag.” Dit beteken nie jy sê onreg is reg nie. Dit beteken jy laat die Here regter wees, en jy laat Christus jou Koning wees. Hy het die reg gehad om terug te slaan—maar Hy het die kruis gedra. Hy het ons vyandskap op Hom geneem om vrede te bring.

Kies vandag een stap: ’n gesprek, ’n gebed, ’n vergifnisproses, ’n grens wat reg en heilig is—maar sonder haat. God kan jou vuur verander in geloof, en jou seer omskep in wysheid. AMEN

GEBED NÁ DIE PREEK

Here ons God, dankie dat U ons vandag konfronteer met u Woord. Ons bely dat ons maklik soos Simson reageer—vinnig om te brand, stadig om te bid. Vergewe ons vir woede wat ons regverdig, vir bitterheid wat ons koester, vir vergelding wat ons beplan. Reinig ons harte. Leer ons om seer na U toe te bring en nie in vuur om te skakel nie. Here Jesus, vorm in ons u gesindheid—om waarheid te spreek, om reg te soek, maar om liefde te bewaar. Maak ons vredemakers in ons huise en gemeenskap. In U Naam. AMEN.

SEËNBEDE

Mag die Here jou hart bewaar teen bitterheid.
Mag Christus jou leer om seer by Hom neer te lê.
Mag die Gees jou woorde sag en waar maak.
Mag God vrede bring waar vuur was.
Mag jy wandel in sy genade. AMEN

Leave a Comment