PREEK SONDAG 9/11/2025 DIE NAME OP DIE BORSLAP
Eksodus 28 verse 15 tot 30: “Jy moet ook die borstas van beslissing maak van kunstige werk; soos die werk van die skouerkleed moet jy dit maak; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en van fyn dubbeldraad-linne moet jy dit maak. Vierkantig moet dit wees en dubbel gevou; ‘n span sy lengte en ‘n span sy breedte. En voorsien dit van ‘n steeninvulling van vier rye stene: ‘n ry met ‘n karneool, ‘n topaas en ‘n smarag moet die eerste ry wees….”

Gebed voor skriflesing
Hemelse Vader, ons kom in hierdie tyd voor U. Ons weet dat U tons hoor, en dat U deur U Heilige Gees in ons harte wil werk. Ons bid dat U hierdie antieke en wonderlike geskiedenis vir ons sal oopbreek. Maak ons siele ontvanklik vir die troos en die appèl wat uit U Woord tot ons spreek. Gee ons ‘n duideliker gesig op die heerlikheid van Jesus Christus, ons Hoëpriester. AMEN
Inleiding
Liewe Bloglesers, daar is ‘n onverklaarbare en universele begeerte in die menslike hart: die begeerte om te behoort,of om in te wees! Of jy nou jonk is en soek na aanvaarding deur ‘naam’ klere en sosiale media, of oud is en ‘n vaste plek in die gemeenskap begeer—niemand wil buite die sonnetjie wees nie.
Hierdie begeerte om ” te behoort” of “om in te wees..” is stewig in ons siel ingebed, en dit het ‘n geestelike alternatief of teenpool. Dit gaan nie oor lidmaatskap van ’n groep of klub nie (dis nie verkeerd nie), maar oor ‘n onherroeplike insluiting in Jesus Christus. Die Apostel Paulus praat dikwels van die gelowige wat “in Christus” is. Dit beteken om deur die Heilige Gees se werk aan Hom ingelyf te wees, vasgebind soos ‘n rank aan die Wynstok. Dit is genade: alles wat van Hom geld, geld ook van my.
Vandag neem ons ‘n baie ou, maar leersame geskiedenis uit Eksodus onder die loep, ‘n geskiedenis wat ons juis oor hierdie insluiting wil leer. Dit gaan oor die kledingstukke van die hoëpriester, Aäron. Ons fokus spesifiek op daardie uitsonderlike, juweelbesaaide kleed wat hy op sy hart moes dra: die Borslap. Wat Eksodus ons oor hierdie kledingstuk vertel, werp ‘n verrassende en troosryke lig op die werk van ons eie, verhoogde Hoëpriester in die hemel, Jesus Christus. Die Borslap is ‘n boodskap van insluiting en verteenwoordiging.
Die Hoëpriester
Ons Bybelteks begin met ‘n beskrywing van die Hoëpriester se kleding. Dit moes ‘n asemrowende gesig gewees het: die Hoëpriester wat in volle gewaad in die Heilige Deel van die Tabernakel diens doen. Vers 2 van ons hoofstuk noem dit “heilige klere”. Hy het die pragtige Efod gedra, daaronder die blou mantel met die goue klokkies en granaat-pels, en op sy kop ‘n tulband.
Maar die middelpunt was die Borslap, wat hy oor die Efod gedra het. Dit was versier met twaalf edelstene, en in elke steen was die naam van een van die stamme van Israel ingegraveer. Hy het ook twee oniksstene met die name op sy skouers gedra (vers 12). Hierdie kleding was nie net vir prag nie; dit was vir verteenwoordiging.
Die Hoëpriester se taak was uniek: Hy moes offer, bid en seën. Die volk het buite die heiligdom agtergebly, maar hulle het toegekyk hoe daardie Geroepe Profeet die Ene namens hulle tot God nader. Hy het alleen ingestap, maar hy het al die name op sy hart gedra.
Geliefdes, hoe indrukwekkend daardie toneel by die Tabernakel ook al was, is dit ‘n flou skaduwee van die toneel wat eendag op die Olyfberg plaasgevind het. Daar staan ‘n klein groepie dissipels en kyk hoe die Ene opvaar na die hemel. Hulle het hul Hoëpriester gesien opstyg. Jesus Christus is die finale, volmaakte Hoëpriester “volgens die orde van Melgisédek” (Psalm 110). Hy het die Offer (Goeie Vrydag) reeds volbring. Hy het Sy seën (met opgehefde hande) gegee. Wat doen Hy nou, waar Hy sit aan die regterhand van God? Hy bring die ewige “reukoffer” van Sy gebede op. Hy “leef altyd om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:25). Hy is ons Priester, en ons het Hom desperaat nodig.
Die Borslap
Ons teks sê spesifiek in vers 29: “So sal Aäron die name van die kinders van Israel op die Borslap op sy hart dra, as hy in die heilige tempel gaan, tot ‘n gedagtenis voor die aangesig van die Here gedurigdeur.”
Die Borslap—’n vierkantige, dubbelgevoude stuk werk, met vier rye edelstene, elkeen gegraveer met ’n stam se naam—was vasgemaak oor die hart van die Hoëpriester. Dieselfde name verskyn ook op twee oniks-skouerklippe: ses en ses. Hart en skouers: liefde en krag. Die priesterskap is nie net ’n taak nie; dit is ’n dra-roeping.
In die Borslap was ook die Urim en Tummim—geheimenisvolle instrumente waardeur God se wil bekend gemaak is. Die Borslap word daarom “borslap van beslissing” genoem: by die hart van die priester word die weg vir die volk gevra en ontvang. God se leiding vloei saam met God se liefde vir mense se name.
Watter volk is dit wat saamgaan? Dit is die volk wat in geloof tot Jesus Christus gevlug het. Ons is nie ingesluit deur ons eie deugde, taal, of dade nie. Ons is ingesluit deur die geloof wat die Heilige Gees in ons werk. Deur daardie geloof word ons in Hom ingelyf.
Dit is die diepste troos van die Christendom: as die Hoëpriester beweeg, beweeg ek saam. Waar was ek op Goeie Vrydag? Met Hom gekruisig. Waar was ek op Paasoggend? Saam met Hom opgewek. En met Hemelvaart? Die Apostel Paulus skryf in Efésiërs 2:6, dat God ons “mede opgewek en mede in die hemele gesit het in Christus Jesus”.
Hierdie geloof is ‘n wonderlike, dog eenvoudige ding: die leë hand van ‘n bedelaar wat die volheid van Christus aanneem. En die gevolg is reusagtig. Ons burgery is nie meer primêr hier op aarde nie, maar in die hemel (Filippense 3:20). Jou naam, my naam, is deur die Priester op Sy bors, op Sy hart, die hemelse Heiligdom in gedra. Ons is vir altyd ingesluit.
Die Troos
Soms sê iemand: “Ek het wel in geloof na Jesus gevlug, maar my hart kleef vir my gevoel meer aan die stof as aan die hemel.” (Ps. 119). Geliefdes, dit is die stryd van die gelowige! As ons worstel met sulke vrees en twyfel, is die Borslap ‘n ryk bron van troos.
Ten eerste, die band is onverbreeklik. Die goue kassies hou die edelstene stewig vas. Die name is ingegraveer, nie net daarop geskryf wat kan verdof nie. Die skrif is permanent. Daardie graveersel is van ewigheid af daar, want u is van ewigheid die “gegewenes van die Vader” (Johannes 17). God se liefde is onherroeplik.
Ten tweede, die posisie is op Sy Hart. Die teks herhaal dat hy die name op sy hart moet dra. Meer as net op Sy skouers (wat krag simboliseer); dit is op Sy liefdeshart. Dit bevestig die teerheid van ons Hoëpriester. Ons voel dalk waardeloos, maar in Sy oog is ons kosbare edelstene. Matthew Henry sê: “Hoe naby moet Christus se naam aan ons hart wees, aangesien dit Hom behaag om ons s’n so naby Syne te hê.”
Ten derde, die doel is ter gedagtenis. Die Borslap is “tot ‘n gedagtenis voor die aangesig van die Here gedurigdeur.” God het nie ‘n slegte geheue nie! Hierdie troos is vir ons. Dit beteken dat Hy aan ons dink en aan ons saak dink, selfs wanneer ons Hom vergeet, of wanneer ons so gebrekkig is dat ons nie eens kan bid nie. Wat ‘n rus: Hy dink bestendig aan my (Psalm 40). Ook as ons deur ons eie gebrokenheid die pad byster raak: gaan na die Priester. Hy is die “Borslap van die regspraak” (vers 15)—Hy kan en wil u die weg wys met Sy Urim en Tummim. U is altyd in Sy gedagtes.
Samevatting
Bloglesers, die Borslap preek is ’n evangelie van naam, nabyheid en leiding. In Christus word dit vervul: Hy is die Hoëpriester wat offer, in tree, seën, dra, onthou en lei. Dít is die evangeliese definisie van “daarby hoort”: nie jou meriete nie, maar Sy bors. Nie jou selfbeeld nie, maar Sy ingegraveerde liefde.
Hier is die oproep: Laat jou dra. Hou op om jouself na die heiligdom te sleep op die skouers van prestasie of skyn-heiligheid. Vlug na Christus. Bely jou naam, met al jou skuld en stukkendheid, en hoor hoe Hy sê: “Ek skryf dit nie met potlood nie; Ek kerf dit met My liefde.” Tweedens: gedra jou goed. As jy voel jy glip, onthou: jou naam is oor Sy hart. Laat dit jou dapper maak—dapper in roeping, want Hy lei.
Derdens: Soek Sy leiding. Bring jou vraag, jou kruispad, jou huis se nood na die Hoëpriester: “Here, wys U wil.” Hy antwoord deur Sy Woord, bevestig deur Sy Gees, dra deur Sy gemeente. En wanneer jy twyfel of vrees, kyk geloofsvol na die Borslap se glans: God vergeet jou nie. In Christus is jy ’n naam op Sy hart—altyd.
U word gedurig gedra. U is ‘n edelsteen op Sy liefdeshart. U moet nooit u onverbreeklike band met Hom vergeet nie, selfs wanneer u siel aan die stof kleef. Neem u plek in Sy voorbede in, en bid eenvoudig, vertrouend, “om Jesus ontwil.” Leef as ‘n hemelburger. Kyk boontoe. Volhard in gebed en in die geloof, totdat u eendag, volkome en liggaamlik, sal kom waar Hy reeds is. Dan sal ons juigend stem en snáre ten roem van Sy goedheid paar. AMEN
Gebed na skriflesing
Almagtige God en Vader, ons dank U vir die ryke betekenis van U Woord. Ons dank U vir die wonderlike beeld van die Hoëpriester wat ons leer van die volmaakte werk van ons Here Jesus Christus. Vergewe ons dat ons so maklik vergeet dat ons op Sy hart gedra word, en dat ons ons burgery in die hemel verwaarloos. Ons bely ons traagheid en selfgesentreerdheid in gebed. Ons vra U: versterk ons geloof, werk die Heilige Gees kragtig in ons, sodat ons elke dag meer en meer aan Hom vasgeklem kan lewe. Lei ons op die regte paaie van die lewe, totdat ons eendag U van aangesig tot aangesig sal sien. Ons vra dit in Jesus Christus se Naam. AMEN
Seënbede
Mag die God van vrede julle op die Borslap bewaar;
mag Christus, ons Hoëpriester, julle name naby Sy hart hou;
mag die Heilige Gees julle lei in waarheid en troos.
Gaan in Sy vrede—en wees geseën, nou en vir ewig. AMEN
2 thoughts on “PREEK 9 NOVEMBER 2025 – DIE BORSLAP VAN INSLUITING EN VERTEENWOORDIGING.”
Wat ‘n vreugdevolle versekerde boodskap Obe. Met waardering vir jou pastorale boodskap met deernis en omgee. Prof Bam sou met trots vir jou knik!
Dankie Ds Obe.
The message was indeed inspiring and worth reading. I love the detail description of the “borslap” and what it entails.
Thank you for sharing.
God bless.
Comments are closed.