ROU (14)
JOB: TROOSWOORD AAN ALMAL WAT ROUSMART BELEEF
INLEIDING

Job, het bekendgestaan as die rykste man van die Ooste, hy was ’n Godvresende man en deur sy vroomheid het hy die aandag van nie net God maar ook die van Satan getrek. In ’n ongelooflike toets van Job se geloof en karakter het God toegelaat dat Satan Job se geloof op die proef stel. Hierdie beproewings het nie net Job se rykdom en gesondheid geraak nie, maar ook sy gesin en sy lewe as geheel. Maar selfs in die aangesig van ondenkbare verlies en lyding, het Job Sy God nie geblameer nie. Sy reaksie op tragedie was een van aanbidding en aanvaarding van God se wil, met die woorde: “Die Here het gegee, en die Here het geneem, mag die Naam van die Here geprys word.” Sy verhaal bied waardevolle lesse oor hoe ons ander kan troos in tye van lyding. Job se lewe was totaal en al deurmekaar, paleis tot pondok, kinderryk tot kinderloos, landgoedeienaar tot vullishoop delwer. Net so word ons soms skielik gekonfronteer word met moeilike situasies, soos onverwagse werkloosheid,soos ‘n ongeluk, ‘n ernstige siekte of die verlies van ‘n geliefde.
TYDPERK VAN LYDING

Na die aanvanklike oomblik van tragedie begin die lang tydperk van lyding. Job beskryf hierdie tydperk as maande van leegte en nagte van oorweldigende ellende. Sy liggaam is oorval met siekte, pyne en ellendes. Hoe ondersteun ons iemand wat aanhoudend ly? Hoe gaan ons om met chroniese siekte en blywende uitdagings en beperkings?
Job se vriende probeer hom troos, elk op hul eie manier. Elifas, die oudste van die drie, beklemtoon die swakheid en sterflikheid van die mens. Hy herinner Job daaraan dat lyding ‘n onvermydelike deel is van die menslike bestaan.
Bildad, aan die ander kant, beklemtoon die geregtigheid van God. Hy suggereer dat Job sy lyding verdien het deur sy sondes. Maar Job verwerp hierdie eenvoudige verklaring. Hy voel onbegrepe en soek na dier ede of betekenis agter sy lyding.
Sofar. Uiteindelik kom Sofar met sy kru bykans onbeskofte oordeel. Hy beskuldig Job van dwaasheid en dring daarop aan dat hy sy skuld voor God bely. Maar Job weerstaan hierdie veroordeling. Hy bly getrou aan sy geloof in God se genade en geregtigheid.

WAT LEER ONS VAN JOB EN SY VRIENDE?
Ons leer dat lyding nie altyd die gevolg is van ons eie sondes nie. Soms is daar geen maklike antwoorde nie. Dit weet ons uit ondervinding, maar vriende weet altyd beter ..! Ons weet dat diegene wat ons as vriende beskou, toe alles feestelik gegaan het, hul rug op ons sal keer in tye van rousmart en beproewing. Maar bo alles leer ons dat troos nie altyd in woorde kom nie. Dat ons nie te vinnig moet oordeel nie, soos Job se sogenaamde vrienden ie, maar liewer luister. Soms is dit net om teenwoordig te wees, om te luister en te wys dat ons omgee vir mekaar. Die verhaal van Job se lyding en sy standvastige geloof in God is ‘n kragtige herinnering aan die menslike gees se vermoë om te volhard in geloof te midde van die ergste beproewings. Job se getuienis wys vir ons die belangrikheid van standvastigheid, vertroue en gehoorsaamheid teenoor God, selfs wanneer ons omstandighede donker en moeilik lyk. De les van Job is dat, al is ons magteloos teenoor die uitdagings van die lewe, ons die hoop en standvastigheid kan vind deur vas te hou aan ons geloof en vertroue in God.
SAMEVATTING
Laten ons daarom in tye van lyding en hartseer mekaar ondersteun en liefhê, soos Christus ons liefgehad het. Laat ons nie oordeel nie, maar vir mekaar naby wees in alle omstandighede. En laat ons vertroue hê in die belofte van Christus se wederkoms, waarin alle trane afgevee sal word en alle pyn genees sal word. Mag God ons almal troos en krag gee om mekaar lief te hê en te ondersteun, selfs in die moeilikste tye.

GEBED: Here God, ons erken U soewereiniteit oor ons lewens en ons aanvaar U wil, selfs wanneer dit moeilik is om te verstaan. Gee ons die moed en die geloof van Job om vas te hou aan U in tye van lyding en beproewing. Laat ons nie wankel in ons geloof nie, maar laat ons vertroue in U seëvier, selfs te midde van die donkerste tye. Help ons om te onthou dat U goed is, selfs wanneer ons omstandighede anders lyk. AMEN