CHRISTUS HET DIT MOONTLIK GEMAAK – MATTEUS 28 HK SON 17
INLEIDING
Die apostel Paulus maak in sy eerste brief aan die gemeente in Korinte ʼn veelseggende opmerking. Hy sê: … as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. (1 Kor. 15:14)

As Christus nie uit die dood opgewek is nie, is u wat vanoggend hier sit met ʼn leë geloof besig………….. en ek wat hier staan, besig met sinlose prediking. Ja, dan mors ons almal net ons tyd! Juis daarom vra ons belydenis die dringende vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Met ander woorde: Is dit regtig so belangrik dat ons glo en bely dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het? Deesdae is daar heelwat mense wat sê dat Christus se opstanding uit die dood nie so belangrik is nie. Die sogenaamde Nuwe Hervormers ontken sy maagdelike geboorte sowel as sy opstanding. Hulle sê Jesus was maar ʼn gewone mens – bloot ʼn gewonde historiese figuur.
Ons belydenis sê egter, duidelik in lyn met die Skrif, iets heel anders. In Sondag 17 bely ons dat die opgestane Here Jesus ʼn radikale en diepgaande verskil aan ons elkeen se lewe maak. Omdat Hy uit die dood opgestaan het, gee Hy aan ons ʼn nuwe lewe.

- NUWE IDENTITEIT – IN CHRISTUS
ʼn Mens se identiteit sê wie jy is. Dit het onder andere met jou afkoms, jou taal, jou ingesteldheid en jou manier van dink te doen. Jou identiteit bepaal jou menswees. Dit het te doen met die plek waar jy woon of watter beroep jy beoefen. Of jy nou in Doesburg Nederland bly, jou Namakhoi afkoms het saamgekom. Dit het ook te doen met jou manier van geldmaak of met die sport of stokperdjie wat jy beoefen. Byna deurgaans word jou identiteit bepaal deur dit wat jy doen. Dit het met jou suksesse of mislukkings te doen. Dit gaan oor jou as mens….

As jy egter onder leiding van die Heilige Gees met ʼn ware geloof die Here Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aangeneem het, kry jy ʼn nuwe identiteit. Ja, in Christus word jy verander. Jy word ʼn totaal nuwe mens ……. Jy is nou kind van God. Jy is burger van sy koninkryk. Jy is ʼn dissipel, ʼn navolger van Christus. Jy is ʼn geseënde en ‘n heilige. Jou identiteit word nou nie meer, soos voorheen, in die eerste plek deur jou afkoms en taal, jou eie manier van dinge doen, of deur jou suksesse of mislukkings bepaal nie. Nee, in Christus word jy nou ʼn nuwe mens. ʼn Mens wat op ʼn heel nuwe manier dink. En daarom die lewe op ʼn nuwe vars manier benader. Onthou! Jou ou sondige mens het saam met Hom aan die kruis gesterf en jy het ook saam met Hom op uit die dood opgestaan……..

Ons noem hierdie vernuwing en lewensverandering wat ons in Christus ondergaan mos die wedergeboorte. Die ou sondige mens het saam met Christus gesterf en is begrawe. ʼn Totaal nuwe mens het saam met Christus uit die dood opgestaan. Ek en jy leef nou nie meer nie, Christus leef in ons!
En die wonderlikste van alles is: Ek en jy hoef nie verskonings aan te bied waarom ons nie as nuwe mense lewe nie. Ons nuwe lewe het niks met ons eie flou poginkies om goed en reg te lewe te doen nie. Ons lewe nie met ons eie krag nie.
- NUWE KRAG – DIE KRAG VAN GOD
U het mos gehoor wat die Here Jesus aan sy dissipels gesê het:: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde….. En dan sê Hy: En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Hy het alle mag EN Hy is altyd by ons! As ek en jy dan sê: Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my, dan gaan dit nie meer oor ons en ons swakhede nie. Dan gaan dit oor God en dit gaan oor sy krag. Daarom kan die apostel Paulus op ʼn stadium sê: As ek swak is, is ek sterk, ……… want dan is die krag van Christus my beskutting. ( 2 Kor. 12:9 & 10). Hy sê ook mos op ʼn ander plek: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee. (Fil. 4:13) My oorlede vader se gunsteling teks. Hierdie krag waarvan Paulus praat, is geweldig groot! In sy brief aan die Efesiërs verduidelik hy hoe geweldig groot die krag wat Hy uitoefen in ons wat glo. Hy sê: Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het….. Met ander woorde, hierdie krag van God, wat in ons werk, is die lewewekkende krag van die Heilige Gees!

God Self gee aan ons die krag om as nuwe mense, wat saam met Christus uit die dood opgestaan het, te lewe. Hierdie nuwe lewe is nie iets waarna ons moet streef nie. Dit is iets wat ek en jy ontvang. Ons moet dit net belewe.
Ons is dalk ʼn sekere sin soos iemand wat jare lank in ʼn tronksel toegesluit was en niks kon doen nie. Op ʼn dag word daardie persoon vrygelaat, maar dan gaan sit hy in ʼn kamertjie waar hy homself toemaak en afsonder. Hy weet nie hoe om sy vryheid te beleef nie. Hy weet nie wat om te doen nie.
Ons is bevry uit die tronk van die sonde en die dood. Ons het saam met Christus in ʼn nuwe lewe opgestaan. Ons is vry, vry om met die krag wat God ons gee te lewe! Daarom gee die Here Jesus aan sy dissipels ʼn opdrag! En onthou elkeen van ons is ʼn dissipel van Jesus. En ons het ʼn
3. NUWE MISSIE – OM DISSIPELS TE MAAK
Dit is die Here Jesus se groot opdrag aan elkeen van ons persoonlik! Gaan dan na al die nasies toe en en maak die mense my dissipels. Klink dit vir u na ʼn moeilike opdrag? Is u bang of huiwerig om uit te gaan? Die Here Jesus sê: Ek is altyd by jou en onthou Ek het alle mag in die hemel en op die aarde.
Broeder en suster, wat die Here Jesus wil hê, is dat ek en jy God se advertensie in hierdie wêreld moet wees!Ja, ons moet vir die mense rondom ons vertel en met ons optrede demonstreer wie God is. Ons moet sy krag en sy liefde aan almal wys. En ons kan dit doen onder die kragtige leiding van die Heilige Gees!

Ons optrede moet getuig van die nuwe lewe wat ons ontvang het. Mense moet kan sien dat ons nie aan hierdie lewe verknog is nie. Ons kan maklik van ons besittings uitdeel en mense in nood help, want dit wat ons “besit” is eintlik God se eiendom. Ons is net sy bestuurders.
Boonop is ons hier net vreemdelinge en bywoners. Hierdie wêreld is nie ons woning nie. Ons is pelgrims wat oppad is na ons hemelse erfenis! Daarom is ons ook nie bang vir die dood nie! Ons het mos saam met Christus die dood oorwin!
SAMEVATTING

Geliefdes, in Christus is ons mense met ʼn nuwe identiteit. Ons leef nie meer nie, Christus leef in ons. En ons maak nie meer staat op ons eie krag nie, want die krag waarmee God in ons werk, is die krag waarmee Hy Christus uit die dood laat opstaan het. En daarom het ons ʼn nuwe missie, ʼn opdrag om die mense rondom ons ook dissipels te maak. Met ons woorde en met ons optrede word elkeen van ons ʼn advertensie vir Christus in hierdie wêreld. AMEN