OORDENKINGREEKS: MEDEDEELSAAMHEID (2)
DINSDAG 28 MEI 2024
Romeine 1:8-13 “Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil ‘n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne…”

Mededeelsaamheid gaan oor baie meer as net finansiële bydraes. As ons kyk na nuwe maniere van deel, sien ons dat ons ook ons hulpbronne en ons lewe met ander kan deel. Jy kan jou boormasjien beskikbaar stel vir jou bure, of jou motor ry as taxi vir iemand wat dit nodig het. Jy kan jou huis oopstel vir ‘n gas – gasvryheid is ‘n egte Bybelse deug. Hierdie vorme van deel is meer persoonlik en intiem. “Deel met de ander” vra ons om te kyk na watter ander aspekte van ons lewe ons kan deel – ons tyd, aandag, en sorg. ‘n Luisterende oor, ‘n oop hart in ‘n gesprek, en die deel van persoonlike ervarings en vrese gaan baie dieper as net die oormaak van geld. Dit is ware wederkerige deel.
Ons sien hierdie beginsel van wederkerigheid mooi geïllustreer in Paulus se brief aan die Romeine. Paulus skryf hoe hy vurig verlang om die Christene in Rome te besoek om hulle in alle geestelike genadegawes te laat deel. Hy erken egter dadelik dat ware deel nooit eenrigtingverkeer is nie. Paulus gee nie net nie; hy ontvang ook iets terug. Hierdie wederkerigheid is ‘n belangrike les vir ons as gemeente. Ons kan ons geloof met mekaar deel en mekaar opbou. Of dit nou op ‘n kleingroep of ‘n Bybelstudie is, hierdie ruimtes is bedoel om ons geloof te deel en mekaar te bemoedig. Deur ons vreugdes, vrae, en ontdekkings in die Bybel te deel, versterk ons mekaar in ons geloof.

GEBED: Liewe Here, ons dank U vir die geleentheid om te deel wat U aan ons gegee het. Help ons om ons tyd, aandag, en geloof met ander te deel. Leer ons om gasvry en mededeelsaam te wees, en om die seëninge wat ons ontvang het, te gebruik om ander op te bou. Mag ons altyd onthou dat ware deel wederkerig is, en dat ons ook iets terug ontvang wanneer ons gee. Seën ons pogings om ons geloof en hulpbronne met ander te deel, sodat ons U liefde in hierdie wêreld kan weerspieël. In Jesus se Naam bid ons dit. AMEN.