OORDENKING – 18 JUNIE 2024 (2)
DIE HERE SAL JULLE SEËN
Numeri 6 Verse 24-26: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”

Om te seën beteken in sy mees eenvoudige vorm om iets goeds oor iemand uit te spreek. (bārak, בֶּרֶךְ Hebreers) In die Bybel is seën meer as net ‘n wens of hoop; dit is ‘n werklike daad van God wat voorspoed, gesondheid, geluk en rykdom tot gevolg het. Wanneer God iemand seën, sien ons God goedheid in aksie, God se genade en God se voorsienigheid wat werklikheid word in die persoon se lewe. Seën kan beide die woorde wat uitgespreek word en die resultate daarvan beskryf – die sigbare en tasbare manifestasie van God se goedheid en guns.
Die seën in Numeri 6:24 dra ‘n spesiale betekenis. Dit is God self wat aan die priesters opdrag gee om hierdie seën oor die volk uit te spreek. Die Hebreeuse woord vir seën, “barak”, dui op ‘n daad van genade van ‘n groter na ‘n kleiner. Dit is ‘n bevestiging dat God se seën gewaarborg is, dat Hy inderdaad sal doen wat Hy beloof het. Hierdie seën is nie gebaseer op die volk se verdienste of hulle offers nie, maar op God se eie begeerte om sy goedheid oor hulle uit te stort. Dit herinner ons daaraan dat ons die grootste seën nodig het wat ons van God kan ontvang: versoening met Hom deur Jesus Christus. Hierdie seën is die grootste geskenk, want dit gee ons nuwe lewe en ‘n herstel van ons verhouding met God.
Hierdie seën geld nie net vir die Israeliete van die Bybelse tyd nie, maar ook vir ons vandag. As gelowiges, gekoop en betaal deur die bloed van Jesus, is ons deel van ‘n priesterlike geslag (1 Petrus 2:9). Die seën wat God deur sy priesters uitgespreek het, kom ook tot ons. God wil ons seën, ons beskerm, en sy goedheid oor ons uitspreek. Hierdie seën bevestig dat ons in ‘n intieme verhouding met Hom staan, en dat sy guns oor ons rus. Ons hoef nie hierdie seën te verdien nie, dit is ‘n geskenk van sy liefde en genade.
Gebed: Liewe Hemelse Vader, Dankie dat U die bron van alle seën is. U het deur die eeue heen u goedheid aan u kinders bewys. Dankie dat U ook vir my wil seën en U guns oor my wil uitspreek. Ek bid dat ek altyd U seën sal herken en waardeer, en dat ek sal leef in die lig van U goedheid. Beskerm my, Here, en hou my vas in u liefde. Help my om U seën te weerspieël in my lewe, sodat ander ook U goedheid kan ervaar. In Jesus se Naam, AMEN.