NAAMGEE IS HARTSAKE!

Naam gee is hartsake, daar le diepe nostalgiese betekenis agter elke naam. Ja ‘n mens wil weet wat is die storie agter elke naam want dit gee ‘n kykie deur die venster van ons lewensgeskiedenis. My naam storie is vir my tog so baie baie belangrik want dit vervang ‘n gevoel van sommer-maar-net na ek behoort ook … ek tel ook punte! Wat nou nog as jy ‘n bynaam het wat jou naam van geboorte tyd al totaal en al vervang het en later stertjies bygekry het … Baas, Oubaas, Biza en Obe (OB op sy engels, die ‘e’ het ek bedink vir mooigeit)….. dis hoe mense my noem en my ken as jy na my verwys as Jacobus Francis sal mense vra .. van wie praat jy tog? Obe … die ken al my kennisse! Ek wou eers lank gelede my geboortenaam as aanspreekvorm gehad het maar niemand het geval daarvoor nie. Volgens my Pa het een van my tantes net na afloop van my geboorte, my gesien en gese “Haai kyk hy is darem baie wit , hy lyk net soos ‘n Baas! Jacobus Francis was net daar en dan vervang met Baas! Dit was my naam regdeur my Primere skool dae in Griekwastad … Baas by die Skool, die kerk die huis. Nie almal het van die naam gehou nie, in die vroeg sewentigs het ek as primere skool seun vir sakgeld saam met oom Flippie by ‘n winkel gewerk. Op ‘n dag het ‘n Plaasboer vir my oom gevra wat my regte naam is hy kan tog nie die h@tn*t baas noem nie! My oom antwoord toe met ‘n smalende gesig “ Jy is reg jy kan hom nie baas noem nie, sy regte naam is eintlik kleinbaas!” Ek kan nou nog nie daai taal vertaal wat hy toe gebruik het nie.
In Griekwastad my grootword dorp het ek besef geboortename is vir die kerk en goewerment papiere, noemname kry jy as gevolg van jou uniekheid, ongelooflike voorliefde vir iets of sommer maar net. Ant Ronne Meid in my straat het haar naam aan haar unieke liggaamsbou te danke. Ant Rooi Ragel aan haar ongelooflik Rooie hare sy het geen problem daarmee gehad nie haar hare is mos rooi mooi. Niemand het dit egter gewaag om vir oom Johannes ‘Oom Draadloos’ te noem sonder dat jy tekkies aan het nie. Hy het sy naam te danke aan sy unieke Short Wave 2 stem. Om tussen al die Janne op die dorp te onderskei was vir ons geen problem nie …. Jan Draad (postuur); Jan Baardtjie (Bokbaard) alhoewel my ma verkies het om hom Jan MuggieRam te noem vanwee sy vurige vegterspraatjies ongeag sy fyn postuur; Jan pens (voorliefde vir penskerrie); Oom Jan Fluister as hy preek dan draai hy nie sy innerlik volume knoppie verder as twee nie; oom Jan Horlosie was ‘n besigheids bynaam, hy het die fyn goed reg gemaak; Oom Jan Skelm Gemmer het die voggies self gemaak en verkoop!
Oordadige liefde vir ‘n sekere tipe iets kan jou ook ‘n bynaam besorg, kyk maar wat het die outjie (ek ken nie sy regtenaam nie) oorgekom as gevolg van sy liefde vir sousvleis dompel. Dompel het hy geheet! Ou Kaing was lief vir daai vetjie veral met ‘n ietsietjie vleis aan. Ek het ‘n swart Wilson geken ..nie die vel nie die toffee en oja ek het amper van ou afval vergeet! Die langste naam was gegee aan oom Datsun Skyline weens sy aanhoudende hardop kar droom praatjies.
Dit neem ‘n ewigheid om ‘n naam op te bou. Oupa Jacobus het ‘iets betaal’ aan oupa Niklaas vir sy geslagtelike nagedagtenis maar helaas Jacobus is op papier want al my liewe vriende in Suid Afrika noem my Obe. Ek het verkillende noemname gehad, tog was dit nooit tot my nadeel nie vir almal was elke noemnaam spesiaal. Ek is oral Obe, almal noem my so. Soms met deernis en liefde, noem my vriende my Baas of Oubaas. My ma,broers, susters en my grootmaakdogter noem my Ouboet. My vrou noem my Schattebol en my kinders die mooiste noemnaam van almal Pappa! Ek erken my in almal, want diegene wat my aanspreek op een van hiedie name doen dit uit hulle hart uit.
Ek wonder hoe die Almagtige my aanspreek? Het Hy een van die klomp gekies? Hy ken my mos op die naam… Jesaja 43 “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God.”