OORDENKING REEKS OOR MOEGHEID
MAANDAG 24 JUNIE 2024
JESAJA 40 VERS 28 tot 31: “Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne (en vroue) struikel selfs;….”

Ons is moeg. Moegheid is ‘n teken van hierdie tyd. Hoe dikwels hoor ons nie mense sê: “Ek is so moeg, ek kan nie meer nie”? Mense smag na rus en ontspanning, veral in hierdie tyd waar dit voel asof die hele wêreld op jou neerdruk. Ons is moeg van die onrus, moeg van die werk, die gejaag en haastigheid. Moeg van leer en huiswerk, moeg van die sport, moeg van die ellende in die wêreld. Die alledaagse geure en gewoontes maak ons moeg. Politiek en gepaardgaande swak dienslewering maak ons moeg…. En dan praat ons nog nie eers van buitengewone omstandighede wat ‘n mens ekstra moeg maak nie: siekte, gestremdheid, werkloosheid, resessie, slegte vooruitsigte, politieke onstabiliteit. Ek dink ook aan huwelike wat opbreek, verhoudings wat verbrokkel, jongmense wat hul eie lewens neem, verkeersongelukke en nog soveel meer wat ‘n mens uitgeput en moedeloos maak.
Onthou God gee nuwe krag aan dié wat op Hom wag. Ons is dalk moeg en uitgeput, maar wanneer ons ons hoop en vertroue in die Here stel, sal Hy ons versterk en ons die vermoë gee om aan te hou. Soos arende wat hoog sweef, kan ons met nuwe energie en moed voortgaan, omdat God ons dra.
GEBED: Here, ons kom na U in ons moegheid en smeek U om nuwe krag. Ons voel dikwels oorweldig deur die laste van hierdie lewe, maar ons plaas ons hoop en vertroue in U. Help ons om op U te wag, wetende dat U ons krag sal gee om voort te gaan. Laat ons soos die arende opstyg, met die wete dat U ons lei en ondersteun. Dankie dat U ons nooit sal laat vaar nie. In Jesus se Naam bid ons dit. AMEN.