LEEU en JAKKALS: DIE VET BEDROG

Home » blog » LEEU en JAKKALS: DIE VET BEDROG

Obe se Khoi kinderverhale (2)

DIE LEEU EN DIE JAKKALS

“Kinders,” begin Kaptein Ghaap, “luister nou mooi na die verhaal van die Leeu en die Jakkals, en leer daaruit hoe belangrik dit is om regverdig te wees. Julle is immers die toekoms van ons Griekwa volk”

Op ‘n dag het die Leeu en die Jakkals saam elande bekruip. Hulle was honger en hoopvol vir ‘n groot maal. Die Leeu het sy boog gespan en geskiet, maar gemis. Die Jakkals, met sy skerpe oog, het geskiet en getref. Hy het met blydskap uitgeroep, “Hah! Hah VOLTREFFER!” Die Leeu, jaloers en trots, het gesê, “Nee, jy het gemis jy het niks raak geskiet nie. Dit was ek wat getref het.” Die Jakkals, altyd slinks, het gesê, “Ja, my Koning Leeu, jy het getref, ek het gemis” Hulle het huis toe gegaan met die voorneme om later terug te keer wanneer die eland dood is om dit op te sny.

Maar die Jakkals het ‘n plan in sy kop gehad. Onopgemerk deur die Leeu, het hy teruggekeer en sy neus gekrap laat die bloed loop en oor die eland se spoor gedrup het. Hy het toe ‘n bloedspoor van sy eie bloed gemaak weg van die Eland, wat die Leeu sou mislei, en het toe ‘n ander pad terug na die dooie eland geneem. Daar het hy in die karkas ingekruip en al die vet uitgesny. Intussen het die Leeu die neus bloedspoor gevolg, en geglo dit was die eland se bloed. Toe hy besef dat hy mislei is, het hy teruggekeer en die Jakkals se spoor gevolg. By die dooie eland aangekom, het hy die Jakkals in die karkas gevind, hom aan sy stert gegryp en hom met ‘n ruk uitgeslinger.

“HOEKOM BEDRIEG JY MY?” het die Leeu gebulder, sy stem vol teleurstelling en woede. “Nee, my Koning, ek bedrieg jou nie,” het die Jakkals geantwoord. “Ek het die vet vir jou voorberei.” Die Leeu het geantwoord, “Neem dan die vet en bring dit na jou koningin, die Leeuwyfie en my welpe,” en het vir die Jakkals die longe en derms gegee om na sy eie vrou en kinders te neem.

Maar die Jakkals, slinks soos altyd, het die vet na sy eie vrou en kinders geneem. Hy het egter die longe en derms na die Leeu se vrou geneem en die Leeu se kleintjies met die longe gegooi, terwyl hy gespot het, “Julle kinders van die groot-poot! Julle groot-pootjies!” Toe het hy aan die Leeuwyfie gesê, “Ek gaan om my Koning Leeu te help”. Jakkals het toe met sy vrou en kinders ver weggegaan.

Die kinders om die kampvuur was stil, diep in gedagte oor die verhaal wat Kaptein Ghaap so meesterlik vertel het. Hy het met ‘n ernstige blik afgesluit, “Onthou kinders, listigheid en bedrog bring altyd probleme. Eerlikheid en regverdigheid is wat ‘n mens ware respek en vriendskap gee.” Met hierdie wysheid in hul harte, het die kinders rustig gaan slaap onder die helder sterrehemel, met die wete dat hulle weer die volgende aand ‘n ander storie van Kaptein Ghaap sou hoor.