Obe se khoifabels (3)
Die Siek Leeu
Die kinders het heeldag gewag vir die skemer want vanaand is weer tyd vir Khoi stories. Hulle het vroeg oggend die heuwel ingevaar om hout te maak vir die storie vertel vuur, toe die skemer aanbreek staan die vlamme al hoog toe Kaptein Ghaap statig aangesit het.

“Kinders,” begin Kaptein Ghaap, “luister nou mooi na die verhaal van die Siek Leeu, en leer daaruit hoekom dit belangrik is, om slim en regverdig te wees.” Op ‘n dag, diep in die bos, het die magtige Leeu ernstig siek geword. Baie diere het gegaan om ou Leeu te ondersteun in sy ure van beproewing. Maar die Jakkals het nie op besoek gegaan nie, want hy het opgemerk dat die spore van die diere wat die Leeu besoek het, nie teruggekeer het nie.
Die Hiena, jaloers en boos, het die Jakkals beskuldig. “Alhoewel ek gaan kyk hoe dit met Koning Leeu gaan,” het sy gesê, “wil die Jakkals glad nie kom kyk hoe die groot koning ly nie.” Die Leeu, in sy swak toestand, het die Hiena aangesê om die Jakkals te gaan vang. Die Hiena het toe die Jakkals gevang en hom na die Leeu gebring. Die Leeu, met sy stem vol pyn en verwyt, het gevra, “Hoekom het jy nie gekom om my te besoek nie?”
Die Jakkals, altyd slim, het geantwoord, “O nee, my Koning. Toe ek hoor dat my oom baie siek is, het ek na die toordokter gegaan om raad te kry oor wat sal help en ek het gevra watter medisyne goed sal wees vir my u majestiet se pyn. Die toordokter het vir my gesê, ‘Gaan sê vir jou Koning Leeu om die Hiena te gryp, haar vel af te trek en dit aan te trek terwyl dit nog warm is. Dan sal Koning Leeuhy gesond word. Die Hiena is die een wat nie omgee vir my Hoogheid se lyding nie, daarom sal sy warm vel genesend wees.'” Die Leeu, desperaat vir genesing, het die Jakkals se raad gevolg. Hy het die Hiena gegryp, haar vel oor haar ore getrek terwyl sy gehuil het van pyn, en die vel aangetrek.

Die kinders het in stilte geluister, hul oë groot van verbasing oor die slimheid van die Jakkals en die noodlottige gevolge van die Hiena se agterbaksheid.
Kaptein Ghaap het met ‘n ernstige blik afgesluit, “Onthou kinders skinder, agterbaksheid en jaloesie bring altyd slegte gevolge. Dit is belangrik om slim te wees, maar ook regverdig en omgee vir ander se lyding.” Met hierdie wysheid in hul harte, het die kinders rustig gaan slaap onder die helder sterrehemel, met die wete dat hulle weer die volgende aand ‘n ander storie van Kaptein Ghaap sou hoor.