Die drie kamer politiek

Home » blog » Die drie kamer politiek

Obe se humor

Op laerskool het ek Apartheid op sy ergste gevoel en dit nogal van my eie mense. Omdat ek witter was as die normale Khoi in my gebied, dit nogal met sproete,  was ek ’n maklike teiken vir boelies. My koggelname het altyd iets te doen gehad met my kleur of my sproete. Ek het my Laerskool jare gehaat! Ek herhaal nog steeds nie daai name wat ek gekry het nie omdat my kinderpyne sommer weer opnuut opvlam. Daar het ek geleer wat Apartheid is. Mense word sosiaal gestraf en uitgesluit net omdat hulle anders lyk…’. Vir die wit mense was my neus te plat en my hare te kroes, en vir eie mense was ek te wit. Op hoërskool en Universiteit het dit baie beter gegaan, ek was selfs betrokke by die struggle sekerlik omdat ek Apartheid ervaar het teen my deur witmense en my eie Griekwa mense in Griekwastad.

Tydens my werkstyd by Finch Myn en Universiteit vakansies was ek deel van politieke gespreksgroepe in Griekwastad en redelik aktief in die gemeenskaps vergaderings. Nouja in die tyd van die driekamer parlement kom doen ’n man van Posmasburg werwing in Griekwastad – kannie meer onthou waffir kamma party nie, maar ek kan onthou die meeste mense in die vergadering was ANC gesind so hy het ’n moelike vergadering gehad. Ek kry toe geleentheid om ’n vraag te stel en vra toe aan die kandidaat kan nie meer onthou wat nie. Hy kyk my eers ’n paar sekondes en krap toe tussen die papiere op die tafel om die antwoord te soek, dis toe dat oom Boesman op hom skree “Hei antwoord die kind uit jou kop uit, hy het jou uit die kop uit gevra vir wat wil jy hom nou PAMPIERLIK antwoord!!!!!’.