KHOI KORTVERHALE (7)

Mietjie die vrou van Ghaap het al die jong meisies byeen geroep vir ’n skoling sessie. Hulle het afgestap na die vlei waar die waterslang sy tuiste het in die fonrein. Dis belangrik om te praat oor die !Nabasas want die kanse is goe dat hul dogter Trooi volgende sal wees. Sy begin vertal terwyl die meisie kinders grootoog luister:

Wanneer ons oudste vroue in die gemeenskap agterkom dat ‘n meisiekind vir die eerste keer gemenstrueer het, begin ons die voorbereiding vir die hokmeisie ritueel. Ons vroue bou ‘n ronde hut, die //ghaisi ngu, gemaak van gras en stokke, bedek met lappe en komberse om dit warm te hou. Die meisie slaap op ‘n matras binne die hut. Die middag wanneer die meisie die hut binnegaan, word ‘n skaap of bok geslag. Bloed moet vloei wanneer sy die hut binnegaan, die bloed is ’n belangrike deel van die tradisie. Die meisie word vergesel deur ‘n “strooimeisie,” wat deur die vroue gekies word weens haar bekwaamhede. Die strooimeisie bly by haar vir die duur van die seremonie, wat sowat 14 dae duur. Sy kry water en kos aangedra deur die strooimiesie, maar sy mag die hut nie verlaat nie.
Lering en Deel: Ons vroue deel ons lewenservarings met die meisie in daai hut soos kookkuns, dans, en haar pligte as volwasse vrou in die gemeenskap. Ons vroue gebruik ook gemengde kruie om haar gesig in te smeer en sorg dat sy nie deur jongmans gesien word nie.

Op die dertiende dag word ‘n skaap geslag en die bloed in ‘n emmer gegooi. Die vroue rieldans en berei kos voor vir die volgende dag se feesviering. Daar heel na grieldans en !xharrie gedrink. Die veertiende dag in die oggend neem die oudste vroue die hokmeisie na die fontein vir waterreinheid. Die vroue gooi kruie in die water en slaan dit met ‘n stok. As die water oor die meisie spat, word dit gesien as ‘n teken van haar aanvaarding deur haar voorouers. Terug in die gemeenskap, dra die meisie ‘n wit rok wat haar enkels bedek en ‘n sluier voor haar gesig. Die oudste vroue lei die meisie en die ander dansers terug in die huis. Wanneer die sluier afgehaal word, dans sy saam met die ander tot die kos bedien word. Die fees hou heel dag tot diep in die nag aan, en die meisie verander haar klere en deel haar ou klere uit aan familielede.

Na die seremonie is die meisie se lewe verander. Sy kan nie meer met jonger maats wat nog nie die inisiasieseremonie deurgegaan het, tyd deurbring nie. Haar gedrag, maniere van praat, loop en doen verander, en haar ouers is opgewonde oor die vooruitsig van ‘n toekomstige huwelik.