MAANDAG 1 TOT VRYDAG 19 TOT 25 MEI 2025: WEES STERK EN VOL MOED
Beste Blogleser, Ek nooi jou hartlik uit om elke dag my splinternuwe dagstukkie-reeks getiteld “MOED” te volg, Maandag 19 Mei tot Sondag 25 Mei 2025. Hierdie reeks is geïnspireer deur Josua 1:1-7, waar God vir Josua aanspoor om sterk en vol moed te wees terwyl hy Israel lei. Hierdie woorde is vandag net so relevant vir ons almal wat geroep word om gelowig, eerlik en dapper in die lewe op te tree – selfs te midde van onsekerheid of vrees. Ek ervaar tans dat baie mense moedeloos voel oor die wêreld rondom hulle – oor die politiek, die kerk, en selfs ons gemeenskapl lewe.

Die Herkoms van die woord MOED
Die Nederlandse/Afrikaanse woord moed het sy oorsprong in die Ou Nederlandse vorm muot, wat in die 10de eeu gebruik is met betekenisse soos “onverskrokkenheid,” “selfvertroue,” “stemming,” en “gees.” Dit verwys dus nie net na dapperheid nie, maar ook na die innerlike toestand van die mens – sy gemoed of ingesteldheid. In Middelnederlands het moed onder andere “gemoed” en “heftige gemoedsbeweging” beteken, soos in “min muoet” (my gemoed) en “muot bedwingen” (sy opwinding bedwing).
Die woord is breër verwant aan ander Germaanse tale: mōd in Oudengels, muot in OudhogeDuits, en móđr in Oudnoors, almal met betekenisse soos “gees,” “wil,” “moed,” of selfs “woede.” Hierdie vorme gaan waarskynlik terug na die Proto-Germaanse wortel mōda-, wat verband hou met innerlike krag of strewe. Daar is selfs moontlike verwantskappe met woorde uit Latyn (mōs – sedes), Grieks, en Slawiese tale, wat almal dui op sterk wil, karakter en durf.
Aanvanklik het moed dus ’n geestelike betekenis gedra – dit was ’n aanduiding van ’n mens se innerlike dryfkrag, wat later vernou is tot wat ons vandag ken as dapperheid of durf.
Die herkoms van die Engelse woord DISOURAGED
Die woord discouraged het ’n interessante oorsprong. Dit kom uit die Middel-Engels discoragen (15de eeu), wat beteken om iemand van hulle moed te ontneem of om hulle hart en gees te breek. Dit is afgelei van die Oud-Franse descoragier, waar des- beteken “weg” en corage beteken “gees” of “hart”. Met ander woorde, om moedeloos te wees, is om jou “hart” of “gees” te verloor.

MOED is sigbaar in kleine dinge
Ek dink baie mense voel vandag presies so – hul harte is moeg en hul gees verswak onder die gewig van onreg, verdeeldheid, korrupsie, twyfel en teleurstelling. Maar dit is juis hier waar ek mense wil aanmoedig.
Moed word dikwels verkeerd verstaan as iets groots en dramaties, maar ware moed is daagliks sigbaar in eenvoudige dade: om eerlik te leef, om te glo ten spyte van onsekerheid, om liefdevol te wees al is dit moeilik. Hierdie reeks dagstukkies wil weer moed in mense se hart en gees blaas – om weer te glo, weer te staan, en weer te hoop.
PROGRAM VIR DIE WEEK:
Maandag 19 Mei – Verstaan die Deug van Moed
Ons begin die week deur moed in sy mees ware vorm te ondersoek – nie net groot heldedade nie, maar daaglikse keuses wat getrou bly aan ons waardes, al is dit moeilik. Ware moed is om te leef ten spyte van vrees en om ons innerlike waarheid uit te leef.
Dinsdag 20 Mei – Fisieke Moed
Ons fokus op fisieke moed – daardie krag om fisieke gevare te trotseer, soos wat soldate of reddingswerkers dikwels doen. Dit herinner ons aan die krag van opoffering en selfloosheid.
Woensdag 21 Mei – Morele Moed
Hier ondersoek ons die moed wat dit verg om op te staan vir wat reg is – selfs al bring dit verwerping of kritiek mee. Morele moed vra dat ons reg bly doen, selfs wanneer dit ongewild is.
Donderdag 22 Mei – Sosiale Moed
Om stem te gee aan geregtigheid, om ander te verdedig, en om onreg aan te spreek – dit is voorbeelde van sosiale moed. Hierdie vorm van moed bou gemeenskappe en bring hoop waar daar eens stilte was.
Vrydag 23 Mei – Intellektuele Moed
Ons verken die moed wat nodig is om jou eie idees te bevraagteken, nuwe insigte te verwelkom, en oop te bly vir verandering. Dis dapper om te sê: “Ek weet nie, maar ek wil leer.”
Saterdag 24 Mei – Emosionele Moed
Hier kyk ons na die innerlike moed om emosies soos hartseer, verlies of vrese in die oë te kyk. Emosionele moed laat ons toe om eg en heel te leef.
Sondag 25 Mei – Preek: Waarom Moed tot Geluk Lei
Ons sluit die week af met ‘n inspirerende oordenking oor hoe moed uiteindelik tot groter geluk en innerlike vrede lei. As ons dapper genoeg is om ons ware self te wees, bou ons ‘n lewe van sin, verhouding en vreugde.
Deel asseblief!
Ons nooi jou vriendelik uit om hierdie reeks met jou kerk, familie, regtegroepe, vriendekringe, gesin, en op sosiale media te deel. Moed is ‘n tema wat almal aanraak – of jy nou ‘n jong volwassene is wat nuwe rigtings oorweeg, ‘n ouer wat moeilike keuses moet maak, of iemand wat net moeg is om dapper te wees elke dag.
Mag hierdie week jou inspireer om moed te vind – nie net vir jouself nie, maar ook om ander aan te moedig.
Wees sterk en vol moed – soos Josua.
Moed is nie die eiendom van die dapperstes of sterkstes nie, maar die keuse om na die hart toe te beweeg wanneer verstand en liggaam deur vrees geskei word. Ware moed is om met oorgawe te leef vir die goeie, selfs wanneer elke deel van jou fluister: bly liewer weg.