Obé se Kaskenades: Kimberley se Hiepe

Home » blog » Lag » Obé se Kaskenades: Kimberley se Hiepe

Obé se Kaskenades:  Vrydagmiddag met die RR’s op die Bruggie

 Kimberley se hiepe was nie sommer net ’n kortpad nie. Dit het soos ’n aksie film deur ons dae geloop — stof in die somer, modder in die winter, en altyd vol stories. Vir ons was die Hiepe die weg van Homestead na die kerk en die skool. Vrydagmiddae het ons die hiepe aangedurf na die NG Sending Kerk se Junior Jeug, lekker koortjies sing, genade gebede en daai tipe sorgvrye ontmoet mekaar wat jong mense net vir ’n klein rukkie op ’n slag regkry. Nico Koopman was ons voorsitter, en hy het die amp met ’n gesig gedra asof hy gebore is om orde te hou onder ’n klomp kinders wat eintlik liewer wou jokes maak en lag as luister.

Harry Dames het weer die Homestead-meisies vervoer in hulle mini Austin — ’n karretjie wat gelyk het asof as dit uit Nottinghill ingevoer was, te sjarmant vir woorde.  Tog het hy altyd opgedaag, met die meisies netjies ingepak haarlinte en kerkgeure en al – die seuns moes stap!

Daai spesifieke Vrydagmiddag het ons bietjie vroeg by die kerk aangekom. Die son het nog heerlik oor die Floors gehang en daar was daai tipe onrustige stilte wat voel asof iets onheilspellend oppad was. Ons het toe op die bruggie oorkant die kerk gaan hang, sommer net om tyd te breek en die son’nie’tjie te geniet. Sammy en Nico het op die relings gesit, Ivor het klippies in die water probeer gegooi, en ek het soos altyd kaarte geskiet, heeltemal gemaklik met die wêreld.

Toe kom hulle.

Die Rainbow Rush-gangsters. Die gevreesde RR’s. Selfs nou nog sukkel my tong om hulle naam ordentlik uit te spreek, en daai dag was dit nie vrees nie — dit was pure benoudheid. Hulle het uit die staanspoor aggressief aangekom, nie eers met ’n halwe groet nie. Jy kon dit in hulle oë sien: hulle het nie vir gesels gekom nie. Messe het in die middaglig geglim, en die vloekwoorde het gerol soos klippe teen sink — presies die soort taal wat ons ure later by die jeug sou veroordeel.

Ek onthou hoe die meeste van ons amper wou huil. Nie sommer daai mooi, stil huil nie — ek praat van daai benoude weeklaag tjank. Ons kele het toe getrek, so ’n bewe maag gevoel wanneer jy besef jy is te jonk, te klein en het heeltemal in die verkeerde movie beland. Maar nie Sammy en Skat Haai nie. Nee, hulle staan daar met breë glimlagte, asof hulle by ’n piekniek opgedaag het. Skat, Sam se broer, het selfs gelyk asof hy gekielie word toe een van die gangsters sy nek met ’n mes streel. Sammy het gesmaail sonder enige sigbare stres. Ek weet nie of dit geloof, dapperheid of pure traak-my-nie-agtigheid was nie, maar dit het my terselfdertyd gerusgestel en nog banger gemaak.

Nico het op die brugreling gesit, half soos ’n koning sonder ’n troon, en Ivor was kwaad — so kwaad dat sy stilte harder gepraat het as enige vloekwoord daar rondom.

Toe kom ek in die skande.

Die jongste gangster, eintlik nog ’n gangstertjie, kom na my toe. Ek draai om, seker maar uit gewoonte, en toe sien hy die prent op my rug. Dit was my grootste fout. Sien, ek het vir Rudy Jordache op my T-hemp afgestryk. Ek was nie ’n Falconetti-persoon nie, en ek het beslis nie geweet daai mannetjie hou nie van Rudy nie. Hy gee toe vir Rudy ’n plat hand klap deur sy gesig — reg deur my hemp, reg deur my rug, so hard dat my hele lyf pyn. Dit was asof ek skielik al Rudy Jordache se leed persoonlik op my geneem het. My rug het gebrand, my trots nog erger. Maar Rudy? Rudy het gemaak of hy niks gevoel het nie. Daai man op my T-Shirt het meer karakter gewys as ek op daardie oomblik.

Toe tree die groot RR nader. Hy het gelyk soos iemand wat by die huis ’n motorbike het, of minstens iets wat baie lawaai maak en petrol suip. Hy was duidelik die leier van die pak wolwe. Hy stap na Nico toe en vra, met daai stem van iemand wat gewoond is daaraan dat ander mense skrik:
“Van wa is jy, sonny?”

Nico antwoord, heel eerlik en sonder om te hakkel:
“Van Homestead, Ottostraat 9.”

Die groot RR-wolf trek sy mond skeef.
“Ek laaiks reeds nie die Homestead @#$%^ nie.”

En toe, vinniger as wat ’n mens “halleluja” kan sê, spring Nico van die reling af en verbeter sy komvandaan!:
“Ek is eintlik van Finch Mine, Lime Acres, Finchamstraat 3. Ek loseer net in Homestead vir die skool…”

Dit was so ’n pragtige, blitsige verandering van identiteit dat ek amper daar en dan vir hom applous wou gee. Selfs in daai vreeslike oomblik het die absurditeit daarvan soos ’n laggie in my bors kom sit.

Uiteindelik draai hulle om en loop weg, en die verligting sak oor ons soos koel water. Ons skouers ontspan, asem begin weer regelmatig neus in neus uit, en iemand het selfs sag gelag — daai kort, histeriese verligtings lag van mense wat pas van gevaar ontsnap het.

Maar die RR’s was nog nie klaar nie.

Hulle stop skielik, kyk om, en toe begin hulle ons gooi met daai wit, los haelgeweerklippe — die soort wat in skerwe spat as dit teen die bruggie se trappe tref. Die klippe het geklap en gebreek, en ons moes koes en hardloop en bid en probeer leef alles dieselfde tyd. Dit het gekos daardie dag, koes, swenk en hol ….

Toe ons uiteindelik in die kerk instrompel, was niemand meer lus vir speletjies of slim antwoorde nie. Die jeug se tema het daai aand vanself verander. Niemand het ’n aankondiging gemaak nie; ons het dit net almal geweet. Daai aand was daar worship koortjies gesing … baie Worship koortjies. ♫ Fill my cup Lord  ♪  was drie keer gesing. En dankgebede. Baie dankgebede. Want soms leer ’n mens op die harde manier dat die pad kerk toe gepaardgaan met Kruis optel — en dat genade jou selfs op ’n bruggie kan red, tussen messe, klippe en RR’s. …

3 thoughts on “Obé se Kaskenades: Kimberley se Hiepe”

  1. Wat het Nico besiel! Hy kon mos soos net Skattie vir die LEM gesmile het. Hoe bou mens ‘n voorman of het hy die bybelse Petrus gena-aap! Nie ‘n wonder dat ons die hele tyd koortjies moes sing asof ons moes pleit vir die onheilspelendheid!

    Reply

Leave a Comment