DONDERDAG 20 FEB 2025: SARKASTIES LAG = JY PRAAT NONSENS!
GENESIS 21 verse 1 tot 7

Die lag van ongeloof en sarkasme sluit dikwels mense uit en skep ’n muur tussen ons en die moontlikhede wat God bring. In Genesis 18 hoor ons van Sarah, wat lag toe God belowe dat sy op haar hoë ouderdom ’n kind sou hê. Hierdie lag was nie uit vreugde nie, maar uit ongeloof en selfs sarkasme. Dit sê vir ons dat God se beloftes nie afhanklik is van ons geloof nie, maar van Sy getrouheid.
Na 30 jaar het ek onverwags ’n ou matriek klasmaat in Kimberley raakgeloop. Ons het gesels oor gesondheid en gesinne, en toe vra ek uit oor haar werk. Sy antwoord trots: “Ek is steeds in die onderwys. En jy?” Toe ek sê ek is ’n dominee, bars sy uit van die lag: “Jy? Die stoutste terggees? Dit kan nie wees nie!” Sonder om totsiens te sê, stap sy steeds laggend weg, asof dit die grap van die eeu was.
In Genesis 18, toe die Here aan Abraham en Sarah verskyn, belowe Hy dat Sarah volgende jaar ’n seun sal hê. Sarah, wat die gesprek vanuit die tent afluister, lag stilletjies vir haarself. Dit is nie ’n lag van vreugde of verligting nie, maar eerder een van ongeloof, amper sarkasties: “Kan dit regtig gebeur? Ek is 90 jaar oud! Dit is mos onmoontlik!”
Sarah se lag is nie uniek nie. Ons het almal op ’n stadium sarkasties of skepties gelag oor dinge wat ons as onmoontlik beskou. Wanneer God iets beloof wat ons verstand oortref—of dit nou genesing, verandering, of ’n wonderwerk is—kom die eerste reaksie dikwels in die vorm van ongeloof. Ons spot daarmee in ons gedagtes en sê: “Dit is te laat. Dit sal nooit gebeur nie.”
Hierdie sarkastiese lag is nie net ’n uitdrukking van twyfel nie, maar dit verhoed ons om werklik oop te wees vir wat God kan doen. Ons sluit die deur vir hoop en mis die geleentheid om God se werk in ons lewens te ervaar. Dit is soos om ’n uitnodiging van God weg te lag en te sê: “Dankie, maar nee dankie.”
Maar God gee nie moed op met ons nie. Hy hou by Sy beloftes, al is ons reaksie aanvanklik sarkasties of vol ongeloof. In Sarah se geval verander haar spotlag uiteindelik in ’n lag van ware vreugde wanneer sy vir Isak in haar arms hou. Sy sê dan: “God het my met blydskap gevul; almal wat hiervan hoor, sal saam met my lag” (Genesis 21:6). Haar lag, wat eers ’n teken van sarkasme was, word nou ’n getuienis van God se getrouheid en mag.
Wenke
- Bly oop vir God se beloftes: Moenie jou hart sluit met sarkastiese ongeloof nie. Wees bereid om te glo dat God die onmoontlike kan doen.
- Moenie te vinnig oordeel nie: As iemand met oortuiging oor God se wonderwerke praat, luister met ’n oop hart eerder as om dit weg te lag.
Gebed Here, U is die God van die onmoontlike. Vergewe ons wanneer ons sarkasties en skepties reageer op U beloftes. Maak ons harte oop om U krag en liefde te ervaar. Dankie dat U ons nooit los nie, selfs wanneer ons twyfel. Vul ons met vreugde en geloof, soos U met Sarah gedoen het. AMEN
1 thought on “20/2 WIE DIE LAASTE LAG – DAAGLIKSE OORDENKINGS: 17 TOT 23 FEBRUARIE 2025”
Pragtig boodskap, ds. Dankie dat U my opnuuts Kom herinner het van my ongeloof in God en Sy beloftes 🙌. Sarkatiese lag het al soweel onmin veroorsaak😔. Here, help my om opreg te wees doen en latte🙏.
Comments are closed.