JY IS ‘n MOOI MENS!

Home » blog » JY IS ‘n MOOI MENS!

Pinksterreeks 2024 ‘Hoe God jou karakter vorm’

PROLOOG

Dit is ‘n pragtige kompliment om te ontvang en om te gee: “Jy is ‘n mooi mens!” Wanneer ons probeer om uit te lê wat daarmee bedoel word, hoor ons gou woorde soos: egtheid, eerlikheid, vriendelikheid, geduld en liefde. ‘n Bybelleser mag dan dink aan wat Paulus die “vrug van die Heilige Gees” noem in Galasiërs 5:22-23: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing. Iemand wat hierdie eienskappe besit, is beslis ‘n mooi mens!

In tien oordenkings gaan ons die Bybelse boodskap oor, ‘wat dit beteken om ‘n mooi mens te wees’ oordenk. Dit het alles te make met ons innerlike, met ons karakter. Ons besef ook onmiddellik dat ons baie ruimte het om te groei, aangesien ons almal worstel met dinge soos ongeduld, selfsug, liefdeloosheid of ‘n veroordelende houding.

Maar is dit moontlik om ‘n mooi mens te wees? Ja, dit is! Die Bybelse boodskap is dat God ons vorm sodat ons sy beeld kan weerspieël, dat ons al hoe meer soos die mooiste mens kan word wat ooit op aarde geleef het: Jesus! Die liefde, vreugde en vrede wat Hy uitgestraal het, was onoortreflik!

Ek hoop dat die hoor van die preke en jou stiltetyd in die vrug van die Gees jou sal aanmoedig om nog meer daarna te streef om ‘n mooi mens te wees. Nie omdat God dan meer van jou sal hou nie (want Hy het jou al lankal onvoorwaardelik lief), maar omdat die sigbaarwording van die vrug van die Gees in ons lewens God’s manier is om die mense om jou te herinner aan Jesus.

Volg die reeks en deel met jou vriende, familie, Kerk en kollegas