VRYDAG 21 FEB 2025 – SARA SE TWEEDE LAG – “WERKLIK? KAN DIT WEES!”
GENESIS 21 verse 1 tot 7
Sara het gesukkel om te glo dat God se belofte werklik sou waar word. Haar lag het die deur gesluit vir hoop en was ’n weerspieëling van jare se teleurstelling en seer.
Maar in Genesis 21 verander alles. God vervul Sy belofte. Isak, die kind van die belofte, word gebore. Dit is nie meer die lag van twyfel nie, maar van oorwinning, van vreugde oor wat onmoontlik gelyk het. Hierdie tweede lag is dieselfde soort lag wat ons ervaar wanneer God ingryp op maniere wat ons nooit kon voorsien nie. Dit is die lag van iemand wat weet dat God getrou is, selfs wanneer ons geloof wankelrig is.
Hierdie tweede lag van Sarah wil aan ons vertel dat God se tydsberekening perfek is, al lyk dit vir ons onmoontlik. Dit moedig ons aan om nie vas te hou aan ons eie beperkte begrip nie, maar om oop te wees vir die vreugde wat God wil bring. God wil ook daardeur vir mense wys dat hy die onmootlike, kan moontlik maak.

Dit laat my dink aan ’n straat prediker wat sy misdadige verlede in detail beskryf het—hy het moord gepleeg, onskuldige mense aangerand, dwelms gebruik en jare in die tronk deurgebring. Maar toe glimlag hy en sê: “Kyk waar staan ek nou! Kyk wat hou ek in my hand … ’n Bybel!” Hy het van ’n lewe van geweld en vernietiging beweeg na ’n lewe van hoop, vrede en genesing. “Ek is nou ’n verspreider van goeie nuus, van vrede, van soberheid,” het hy gesê. Toe begin hy lag—nie uit minagting vir sy verlede nie, maar uit verwondering oor God se genade. “Ek lag, want dit is werklik! God het my lewe verander.” Sy lag was nie een van spot nie, maar van dankbaarheid en vreugde.
God se lag breek die mure van twyfel af en maak ruimte vir geloof en nuwe lewe. Sara se verhaal leer ons dat dit nooit te laat is om God te vertrou nie. Hy laat ons lag van blydskap wanneer ons Sy werk in ons lewens sien. Moet niemand afskryf nie, God kan die skybaar onmoontlike moontlik maak. Waar ons eerste reaksie dikwels twyfel is, nooi God ons uit om oop te wees vir Sy krag en liefde. Wie die laaste lag, lag die lekkerste—met God se seën.
Wenke
- Hou aan glo in God se beloftes: Al lyk dit onmoontlik, God is getrou en sal Sy woord hou.
- Laat jou twyfel toe om jou geloof te verdiep: Moenie by jou eerste lag van ongeloof bly nie. Wees bereid om God se goedheid te ontdek en daaroor te lag.
GEBED Here, U is die God van wonderwerke en vreugde. Dankie dat U ons twyfel verander in blydskap. Help ons om U te vertrou, selfs wanneer ons nie verstaan nie. Vul ons harte met geloof en vreugde, net soos U dit met Sara gedoen het. Laat ons lag van blydskap oor U getrouheid. AMEN