U KEN MY, U DEURGROND MY!
Te weinig het ons werklik gepraat
hoewel ons ook woorde gewissel het,
te veel mekaar vanselfsprekend aanvaar.
Alles het toe vir altyd goed gelyk,
ons het gewerk, ons het geleef
gewoon, die mooiste dae deur.
En nou, as ek in die stilte luister,
hoor ek steeds die woorde,
fluister ek die sinne
wat ek jou te min gesê het.

Mag die God daar wees,
die God wat jou gebede verhoor het,
wat jou stilte verstaan het en
geweet het wat jy wou sê.
Mag die God daar wees
en jou liefhê soos jy my
so lank met liefde omvou het.