‘N REIS NA DIE MIDDELEEUE IN DOESBURG

Elke jaar verander Doesburg – een van Nederland se oudste Hanze-stede – vir een dag in ‘n bruisende Middeleeuse dorpie tydens die Hanzedag-fees. Hierdie gratis familiegeleentheid neem besoekers terug na die 15de eeu, toe handelaars, ambagsmanne en musikante die strate van die stad lewendig gemaak het. Stel jou voor: jy stap deur die ou stadskern van Doesburg, omring deur honderde mense in Middeleeuse klere. Oral is daar lewendige diere, straatteater, klugte (komiese tonele), Middeleeuse musiek, en selfs ‘n modeskou, genaamd “De Parade”. Dis ‘n dag vol kleur, klank en karakter. In die Middeleeue was Doesburg ‘n belangrike handelsplek.

Die stad het in 1237 stadsregte gekry, en het in 1447 by die Hanzeverbond aangesluit – ‘n netwerk van Europese handelsstede wat reeds sedert 1160 bestaan het, oorspronklik begin in Lübeck, Duitsland. Destyds het handelaars belasting op hul goedere betaal, gebaseer op die gewig daarvan. Hierdie weegwerk het by die Waaggebou plaasgevind – vandag ‘n gewilde Grand Café en Stadsbierhuys, waar jy steeds ‘n lekker biertjie kan geniet. Tydens die Hanzedag word hierdie markgeskiedenis lewendig herroep. Jy sal markkooplui en ambagsmanne sien wat produkte verkoop op soortgelyke wyse as eeue gelede – maar nou teen moderne pryse. Behalwe ambagte, is daar ook ‘n kos mark waar jy Middeleeuse of streekspesifieke happies kan probeer. Kinders en volwassenes geniet die optogte, die geselskap van diere soos skape of perde, en die verskeidenheid handwerkstalletjies en toneelstukke. Doesburg is die lekkerste stad in die wêreld ….



