GOEDHEID REEKS: MAANDAG 4 AUGUSTUS – SONDAG 10 AUGUSTUS 2025
Wat beteken dit om werklik goed te wees?
Die woord “kindness” kom uit die Oud-Engelse kyndnes, wat oorspronklik verwys het na “natuur” of “familie” – ’n aanduiding dat goedheid as ’n natuurlike eienskap van mense binne dieselfde gemeenskap of gesin beskou is. Gedurende die Middeeeuse-Engelse tyd het die betekenis van goedheid begin uitbrei na edele dade en hoflikheid teenoor ander. Vandag is dit ’n universele waarde wat grense van kultuur, herkoms, geloof en status oorbrug.

In die Bybel word goedheid beskou as een van die vrugte van die Gees (Gal. 5:22), en word dit gesien as ’n weerspieëling van God se karakter. Goedheid is dus nie bloot hoflikheid nie, maar ’n roeping tot selflose, deernisvolle dade – gewortel in geloof.
In die Skrif word dit as ’n handeling van geregtigheid en liefde beskou. Aristoteles noem goedheid ’n daad van hulp aan ander sonder verwagting van voordeel. Hierdie reeks nooi jou uit om elke dag stil te staan by die verskillende aspekte van goedheid – as deel van ons geestelike groei én as ’n lig vir ander.
Maandag 4 Augustus: Die definisie van goedheid
“Maar die vrug van die Gees is… goedhartigheid, getrouheid.” – Galasiërs 5:22
Ons begin met ’n teologiese en filosofiese grondlegging: Goedheid is nie net ‘n mooi idee nie – dis ’n eienskap van God. Tog is dit een van die moeilikste eienskappe om konsekwent in die mensdom te vind. Filosoof Aristotle beskryf dit as hulp verleen sonder die verwagting van voordeel. Dis ’n daad van liefde, genade, en deernis. Ons vra: Is dit ’n deug op sigself, of net ’n manier om aanvaarbaar te wees? Hierdie dag stel die fondament.
Dinsdag 5 Augustus: Goedheid vir ander, is uiteindelik ook goed is vir jouself
“Maar julle moet julle vyande liefhê en goed doen…” – Lukas 6:35
Hier krap ons in die konsep van goedheid as eiebelang – die idee dat om goed te wees vir ander, uiteindelik ook goed is vir jouself. Ons leer dat ware goedheid nie swakheid is nie, maar wysheid. Soos ons onsself ontwikkel, help ons ook die samelewing om te floreer. Die dagstukkie daag ons uit om die balans tussen eie en ander se behoeftes te vind.
Woensdag 6 Augustus: Waarom goedheid saak maak
“Wees vriendelik en innig meelewend teenoor mekaar…” – Efesiërs 4:32
Goedheid is nie bloot “nice wees” nie. Dit is ’n radikale manier van leef – geanker in die vrug van die Gees. Ware goedheid het krag, dit staan vir iets. Dis die krag wat nodig is om ’n moeilike waarheid met deernis te sê. Ons kyk na hoe Jesus goedheid gemodelleer het: sag, maar vasberade; liefdevol, maar regverdig.
Donderdag 7 Augustus: Die voordele van goedheid
“’n Vriendelike mens doen homself goed, maar ’n wrede mens bring onheil oor hom.” – Spreuke 11:17
Watter invloed het goedheid op ons gesondheid en geluk? Wetenskap toon dat om vriendelik te wees – en selfs om dit net te sien – gevoelens van welstand verhoog. Dopamien, serotonien, en oksitosien word vrygestel. Goedheid is nie net goed vir ander nie – dit is ’n geskenk aan jouself.
Vrydag 8 Augustus: Praktiese maniere om goedheid te leef
“Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend wees.” – Filippense 4:5
Hoe pas ons dit toe? Vandag gee ek praktiese voorbeelde: wees vriendelik met jouself, gebruik eenvoudige maniere soos dankie sê, luister met begrip eerder as met antwoorde, en wys erkenning. Goedheid begin by die huis – in jou eie hart.
Saterdag 9 Augustus: Die gesondheidsvoordele van goedheid
“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is…” – Miga 6:8
Goedheid is goeie medisyne. Dit verlaag stres, verbeter hartgesondheid, en versterk ons sosiale bande. Vandag wys ek u dat om vriendelik te wees selfs ’n vorm van selfversorging is – een wat lei tot innerlike vrede, verminderde angs, en ’n gevoel van verbondenheid.

PREEK Sondag 10 Augustus:
“Moenie oorwin word deur die kwaad nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” – Romeine 12:21
SAMEVATTING
Goedheid is ’n praktyk, ’n pad van transformasie. Dis hoe ons God se liefde tasbaar maak in die wêreld. Dit bind, genees, en inspireer. Goedheid is aansteeklik – een daad lei tot ’n ander. In ’n wêreld van verdeeldheid is goedheid ’n geestelike daad van verset teen onverskilligheid.
Hierdie reeks wil jou inspireer om goedheid uit te leef – nie as plig nie, maar as geloofspraktyk. Ek nooi jou hartlik uit om elke dag saam met my te reis in hierdie reeks – vir jou eie groei, vir die genesing van jou gemeenskap, en tot eer van God.
Deel asseblief
Ek vra jou vriendelik: deel hierdie dagstukkies met jou vriende, familie en gemeentelede op sosiale media. Laat die lig van goedheid verder skyn as net binne jou eie wêreld. Sodoende help jy om ’n beweging van deernis, begrip en hoop aan te wakker.
“Wees vriendelik teenoor mekaar, innig lief, soos God ook julle in Christus liefgehad het.” – Efesiërs 4:32