Die Siklus van Gesinsgeweld: Fases van Geweld in ‘n Verhouding
Gesinsgeweld is ‘n ernstige probleem wat deur baie verhoudings wêreldwyd ervaar word. Dit is ‘n patroon van geweld en mishandeling wat dikwels ‘n siklus volg. Om die siklus van gesinsgeweld te verstaan, kan vroue in gewelddadige verhoudings help om die tekens raak te sien en die aanvalle beter te voorspel. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die siklus nie altyd voorspelbaar is nie, aangesien elke situasie uniek is. Die siklus van gesinsgeweld bestaan uit vyf fases: opboufase, ontploffingsfase, beroufase, agtervolgingsfase, en die wittebroodfase.

a) Opboufase
Die siklus begin met die opboufase, wat ‘n tydperk van hoë spanning is. Hierdie spanning kan veroorsaak word deur verskillende faktore, soos werkstressors, gesinsdruk, finansiële probleme, of negatiewe denkpatrone van die geweldenaar. Tydens hierdie fase is die spanning in die verhouding tasbaar, en die oortreder kan verbale dreigemente uitspreek. Hierdie dreigemente verhoog die vlak van vrees by die vrou, wat die oortreder in staat stel om groter beheer oor die situasie te verkry.
b) Ontploffingsfase
Die ontploffingsfase is die fase waar die oortreder uiteindelik ontplof in ‘n woede-uitbarsting wat lei geweld. Dit kan fisiese of emosionele geweld wees, soos slaan, skree of vernedering. Hierdie fase is dikwels die mees traumatiese deel van die siklus vir die slagoffer.
c) Beroufase
Na die ontploffingsfase volg die beroufase, waar die oortreder skuldig en skaam voel oor sy optrede. Hy mag bang wees dat sy maat hom gaan verlaat, en sal dus pogings aanwend om die verhouding te herstel. Hierdie pogings kan bestaan uit om verskoning te vra, gedrag te versag, of die oorsaak van die geweld te ontken of te verminder. Sommige vroue kies om te glo dat die geweld nie weer sal gebeur nie, en die oortreder se berouvolle gedrag kan hulle oortuig dat die verhouding kan gered word.

d) Agtervolgingsfase
Die agtervolgingsfase is die periode waarin die oortreder sy maat probeer terugwen deur middel van liefdevolle gebare, geskenke en beloftes van veranderde gedrag. Hy probeer sy maat oortuig dat hy sal verander en dat die verhouding beter sal word. Hierdie fase kan vir die slagoffer verwarrend wees, want sy kan glo dat die oortreder opreg is en dat dinge werklik sal verander.
e) Wittebroodfase
Die laaste fase van die siklus is die wittebroodfase. Dit is ‘n tyd van intense intimiteit en ontkenning van die vorige mishandeling. Vroue is geneig om te bly saam met die man omdat hulle die verhouding wil handhaaf en omdat hulle die liefdevolle gedrag van hul maat ervaar. Hulle kies om te glo dat die oortreder werklik lief is en dat die vorige mishandeling nie ‘n ware weerspieëling van hom is nie.
Die Begin van ‘n Nuwe Siklus
Die siklus van gesinsgeweld herhaal dikwels, wat beteken dat die rustige, liefdevolle gedrag geleidelik plek maak vir kleiner insidente totdat die spanning weer opbou en die siklus van geweld en mishandeling weer begin. Hierdie siklus kan herhaaldelik voortgaan, met elke siklus wat die verhouding verder breek en die slagoffer al hoe meer benadeel.

Dit is van kardinale belang dat mense wat deur gesinsgeweld geraak word, ondersteuning en hulp soek. Daar bestaan nie ’n verskoning vir geweld nie!! Punt. Gesinsgeweld is ‘n ernstige kwessie, en daar is hulp beskikbaar vir slagoffers om hulle veiligheid te verseker en uit die siklus van geweld te breek.