LENT 40 dae – Dag 34
Skriflesing: “Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het.” Johannes 15 : 12
Lent, tyd vir nadenke oor die waarde van vriendskap en die kwaliteit van verhoudings in ons lewens. Daar is ‘n groot verskil tussen kennisse en vriende. Kennisse is mense wat ons ken, met wie ons in aanraking kom, soos sommige klasmaats, kollegas, en bure. Maar vriende… dit is ‘n ander storie. Ware vriende is skaars en maak ons lewe ryker. Hulle is nie net mense wat ons ken nie, maar mense met wie ons ‘n besondere band deel. Vir wie sal jy 03h00 opstaan vir een of ander klein noodgeval …
Die ou spreekwoord sê: “In die nood leer jy jou vriende ken.” Egte vriende staan vir mekaar in, selfs in moeilike tye, en sal nooit mekaar in die steek laat nie. Om letterlik en figuurlik alles vir mekaar oor te hê. Hierdie beginsel word deur Jesus bevestig wanneer Hy sê: “Niemand het groter liefde nie as hy sy lewe vir sy vriende gee.” Hierdie liefde vra opoffering en selfverloëning.
Jesus het hierdie woorde nie net gespreek nie, Hy het dit ook geleef. Die aand voor Hy aan die kruis gesterf het, het Hy sy lewe aangebied vir sy vriende, sy volgelinge. Dit is ‘n voorbeeld van onvoorwaardelike liefde en vriendskap wat ons vandag nog steeds kan navolg.
Gebed: Liewe God, ons dank U vir die vriende wat U in ons lewens gegee het. Help ons om liefde en toewyding aan mekaar te betoon, soos U ons as voorbeeld liefhet. Mag ons vriende seën en waardeer, en mag ons vriendskappe ‘n weerspieëling wees van U onvoorwaardelike liefde vir ons. Amen.
Refleksievrae:

- Hoe onderskei jy tussen kennisse en ware vriende in jou eie lewe?
- Op watter maniere kan jy ‘n vriend wees wat bereid is om vir ‘n ander op te offer?
- Hoe kan ons Jesus se voorbeeld van vriendskap en selfopoffering toepas in ons eie verhoudings met ander?