40 DAE – PAAS NA HEMELVAART
VRYDAG 5 APRIL 2024
LUKAS 24: 15 “Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, … “

Jesus is teenwoordig deur die Heilige Gees
Die Emmaüswandeling is ‘n reis van wisselende emosies, teleurstelling na vreugde, van verblindheid na verligting. Kleopas en sy metgesel se wandeling op die stofpad na Emmaüs, word gekenmerk deur hulle hartseer oor die gebeure van die kruisiging van Jesus. Hulle hoop en verwagtinge het in die graf verdwyn saam met Hom. Maar in die midde van hulle hartseer kom Jesus self na hulle toe, stap saam met hulle, en toe verander alles.
Miskien het jy al deelgeneem aan jou eie Emmaüswandeling. ‘n Reis van gesprekke oor die Woord van God, ’n byeenkoms van gebroke harte. Dan besef jy en jou gespreksgenote dat julle nie alleen is nie. Jesus is teenwoordig deur die Heilige Gees, Hy is teenweerdig deur mense, droom of omstandighede. Dus wanneer ons gesels met ‘n vriend, of ‘n onverwagse ontmoeting het, kan God Homself openbaar, werkende deur mense en omstandighede. Dit is ‘n herinnering dat Jesus altyd teenwoordig is, selfs al is Hy nie sigbaar nie. Hy loop met ons, Hy praat met ons, en Hy verander ons harte.
Net soos Kleopas en sy metgesel, kan ons soms blind wees vir die teenwoordigheid van Jesus in ons lewens. Ons kan vasgevang wees in ons eie verstand, ons eie beperkte perspektiewe, en ons eie ‘vriende’. Ons kan praat oor Jesus in die verlede tyd, as ‘n interessante figuur van geskiedenis, sonder om te besef dat Hy vandag lewendig en teenwoordig is. Maar God is in staat om ons oë te open vir Sy teenwoordigheid, ons harte te verlig met Sy lig, en ons lewens te verander met Sy genade. Kom ons maak ons harte ontvanklik soos Kleopas en sy metgesel, vir die teenwoordigheid van Jesus in ons lewens.
GEBED: Liewe Jesus, dankie dat U altyd by ons is, selfs wanneer ons dit nie besef nie. Mag ons oë geopen word vir U teenwoordigheid in ons lewens, en mag ons harte brand met ‘n liefde vir U wat nooit uitdoof nie. Help ons om U te erken, U te volg, en U te dien in elke stap van ons lewensreis. AMEN