ROU (1)

Tydens my diensjare as predikant was ek gefasineer deur die verklillende emosies wat die dood mense laat ervaar. Geen emosie is dieselfde, dit bring die egtheid in ’n mens te vore, ja daar is soms toneelspel, opsetlike drama, maar dit is so weinig. Egte roue emosie, is ‘mooie’ emosie dit is hoekom rou pastoraat soveel aftrek by my gekry het. Ek gaan begin met ’n reeks oor die fasinerende onderwerp ROU of TREUR, ek hoop u kan daar by baat vind en miskien ook iets leer om andere te troos … Deel graag jou verhaal by comment seksie! Ek begin met my verhaal.
My verhaal
Dit was ‘n Sondagoggend soos enige ander. Die kerkklokke het gelui in Griekwastad en Kleinvlei terwyl die son sy strale oor die land laat val het. Ek het 08H45 ui Blackheath na kleivlei gery om voor te gaan by die VGKSA gemeente Eersterivier. My pa, ‘n ouderling by die VGKSA Griekwastad, het hom oudergewoonte voorberei vir die erediens soos hy altyd sou doen. Sy swartpak, withemp, en wit das was gereed op die bed terwyl hy die laaste voorbereidings tref. Maar dié dag was anders.

’n Onverwagse hartaanval het hom in die badkamer getref. Sy gewone ritueel van voorbereiding vir die kerkdienste, wat so vertroud was het op in ’n tragiese oomblik tot ’n einde gekom. Hy het egter iets gedoen wat hy nooit voorheen gedoen het nie – hy het vir my ma die dankoffer gegee om in die skatkis te plaas. Dit was altyd iets wat hy self gedoen het. Daarna het hy horisontaal die badkamer verlaat, sy lewe agterlaat in ’n oomblik van skielike stilte en verskrikking.

VGK Eersterivier
’n Jaar voor sy skielike heengaan het ek ’n droom gehad. In my droom was ek besig met die erediens en ontvang ek die onheilspellende boodskap dat my pa gesterf het. Daardie droom het my lewe verander en my oortuiging in die betekenis van drome versterk. Dit het my oortuig dat God, deur die Heilige Gees, soms deur drome met boodskappe na ons toe kom.
Die erediens was byna verby, ek het net die slotlied, “Ou Sions 236,” begin sing toe my neef, Nico Koopman, my pa se suster kind was, vir my gewuif het om konsistorie toe te kom. Dit het my vreemd laat voel. Saam met ons goeie vriend, Llewellyn Macmaster, het hulle die onvermydelike boodskap gebring. Ek onthou die oomblik so duidelik, ’n golf van verbysterende leegheid wat deur my liggaam gesweef het. Ek het “dooie voete” gehad het, ek kon beswaarlik na die motor loop. Ek het tot vandag las van my voete.

Daardie dag het die wêreld om my heen stilgestaan. Die lewe het onverwags ‘n nuwe gedaante aangeneem. Die leemtes wat my pa agtergelaat het, was so groot en pynlik dat dit die aard van my bestaan op sy kop gekeer het. Die skielike verlies van ‘n geliefde is ‘n oorweldigende ervaring, een wat jou in jou kern raak en jou lewe vir ewig merk.
Die erfenis van my pa, sy toewyding aan die kerk en sy menswees, het ‘n blywende impak op my geloof en my lewe gemaak. Sy onverwagse vertrek het my geleer dat die lewe kwesbaar is en dat elke oomblik gekoesterd moet word. En terwyl die eredienste voortduur en die liedere gesing word, bly die herinnering aan my pa in my hart, ‘n erfenis van geloof, liefde en onvergeetlike oomblikke.
Môre: Wat is rou?