HOE KAN ONS MEKAAR TROOS?

Home » blog » depression » HOE KAN ONS MEKAAR TROOS?

ROUVERWERKING

In die eerste plek kan ons mekaar troos deur begrip te toon vir die ander se ongelukkige gevoelens en depressie. Die verwerking van rou neem baie tyd, soms jare. ‘n Opname onder weduwees en wewenaars het getoon dat meer as die helfte na twee jaar nog steeds gevoel het dat hulle dit nie kon verwerk nie. Sommige mense leef na tien jaar nog in ‘n aparte wêreld, denkbeeldig saam met die oorlede geliefde, wat kunsmatig in stand gehou word. Hoeveel weduwees en wewenaars besoek nie elke dag die graf van die geliefde nie? Vele ervaar dit as ‘n skuld aan die oorledene as hulle hom of haar sou loslaat.

Daarom hou hulle alles nog in stand, ook in die huis. Dit moet bly soos dit toe was. Iemand het een keer gesê: “Ek wil haar nie vergeet nie. Daarom gaan ek elke Sondag na die begraafplaas en dra ek haar foto altyd by my. Ek het ook alles van haar bewaar: haar klere, haar juwele en pragtige goedjies. Dit hoort mos so!” Jy kan nie sommer vergeet nie. En dit moet ook nie. Maar dit is wel nodig dat jy afstand begin neem van dit wat was en nooit meer terug sal kom nie.