OORDENKING REEKS – DEPRESSIE (5)
WOENSDAG 12 JUNIE 2024
PSALM 88: “Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie. Dit is asof ek al tussen die dooies is, tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê, dié aan wie U nie meer dink nie en van wie U u hand teruggetrek het. U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis….”

Die digter van die Psalm is ervaar ‘n gevoel van verlatenheid en wanhoop ervaar. Die digter voel asof hy reeds dood is, afgesny van die lewe en alle goedheid. Hy dig van die doderyk, sy graf, afgrond (sheõl) en ‘n land van vergetelheid, wat die intense ervaring van depressie weerspieël. Soos baie depressiewe mense, voel die digter asof hy in ‘n afgrond val, heeltemal afgesny van hoop en lewe.
Hierdie psalm verbind hierdie gevoel of ervarings direk met God. Die digter voel nie net deur mense verlaat nie, maar ook deur God. Hy voel asof God sy vyand geword het, met God se toorn wat swaar op hom druk. Hierdie gevoel van goddelike verlatenheid is iets waarmee baie depressiewe mense kan identifiseer. Maar, ten spyte van die duisternis, klou die digter steeds aan sy geloof in God vas. Dit is ‘n goeie les vir almal wat deur depressie gaan – selfs wanneer ons voel dat God ver van ons is, kan ons steeds ons hoop en geloof in Hom behou.
Onthou dat diegene wat aan God dink en Hom in geloof bely as Raadsman, nog nie heeltemal verlore is nie. Dit beteken dat selfs in ons ergste wanhoop, wanneer ons voel asof ons aan die poorte van die doderyk staan, ons steeds aan God kan vashou. Psalm 88, met sy harde en eerlike woorde, het deur die eeue heen baie depressiewe mense vertroos. Dit herinner ons dat ons nie alleen is in ons lyding nie, en dat ons altyd met ons angs en pyn na God kan gaan, met die wete dat Hy ons hoor en vir ons omgee.

GEBED: Liewe Hemelse Vader, ons kom na U met ons diepste wanhoop en gevoelens van verlatenheid. Net soos die digter van Psalm 88, voel ons soms asof ons in ‘n afgrond val en van alle goedheid en vreugde afgesny is. Here, help ons om te onthou dat U altyd by ons is, selfs wanneer ons U nie kan voel nie. Gee ons die krag om aan ons geloof vas te hou, selfs in die donkerste tye. Troos ons met U teenwoordigheid en herinner ons daaraan dat ons nie alleen is nie. Vul ons harte met U lig en vrede. In Jesus se naam bid ons. AMEN.