7/7/2025 DEFINISIE VAN KREATIWITEIT
Spreuke 3 verse 18 tot 20: “Dit is ‘n bron van lewe vir wie dit aangryp, dit gaan goed met dié wat daaraan vashou. Die Here het die fondament van die aarde met wysheid gelê en die hemel gebou met insig. Deur sy kennis is die groot waters van mekaar geskei en drup die wolke van vog.”
Inleiding
Kreatiwiteit is die vermoë om nuwe, oorspronklike en betekenisvolle idees te genereer wat nuttig is in verskeie lewensomstandighede. Dit sluit in die vaardigheid om bestaande patrone, reëls of denkwyses te oorskry en iets vars en bruikbaar te skep. Kreatiwiteit manifesteer nie net in kuns of wetenskap nie, maar ook in hoe ek kommunikeer, probleme oplos, of selfs myself vermaak. Om werklik kreatief te wees, moet ek die wêreld vanuit verskillende hoeke kan sien en alternatiewe benaderings kan voorstel. Toetse vir kreatiwiteit meet nie net hoeveel idees iemand het nie, maar ook hoe uniek daardie idees is. Hierdie vermoë spruit uit skerper denkvaardighede soos buigsaamheid, verdraagsaamheid teenoor onsekerheid, en ‘n liefde vir die onbekende. Kreatiwiteit is dus nie ’n toevallige vonk nie – dit is ’n bewuste proses wat my denkraamwerk uitdaag en uitbrei.

Die woord “kreatiwiteit” het sy oorsprong in die Latynse werkwoord creare, wat beteken “om te skep” of “voort te bring”. Hierdie wortel hou ook verband met die Griekse woord krelnein, wat beteken “om te vervul”. Die oorspronklike betekenis van die woord het dus ‘n sterk aksie- en doelgerigte aspek: om iets nuuts tot stand te bring wat waarde het. Die konsep van kreatiwiteit soos ons dit vandag verstaan, het oor tyd ontwikkel. In Engels het die woord eers teen die laat 19de eeu algemene gebruik as selfstandige naamwoord begin geniet. Aanvanklik het mense kreatiewe dade aan goddelike inspirasie of buite-menslike bronne toegeskryf. Maar met die opkoms van moderne denke en wetenskaplike ondersoek, het kreatiwiteit begin geld as ‘n menslike kapasiteit wat ontwikkel en beoefen kan word. Vandag verstaan ons Christene kreatiwiteit steeds as Goddelike inspirasie, as ’n fundamentele aspek van menswees – ’n sleutel tot aanpassing, uitvinding en persoonlike uitdrukking.
Wanneer ek aan kreatiwiteit dink, sien ek nie net ‘n kunstenaar met ‘n kwas of ’n skrywer/digter agter ’n computor nie. Ek sien ‘n ouer wat ‘n nuwe manier vind om sy kind te leer, ‘n ondernemer wat ‘n probleem oplos, of ‘n boer wat kreatief met watertekorte omgaan. Kreatiwiteit is soveel meer as kuns – dit is ’n manier van leef. Volgens Spreuke 3 is wysheid, insig en kennis die boustene van skeppende denke: “Deur wysheid is die aarde gegrond, deur verstand is die hemele berei.” Hierdie teks wys my dat kreatiwiteit nie ’n toevallige vonk is nie, maar ‘n goddelike eienskap wat met wysheid en orde gepaardgaan. Vandag wil ek hierdie begrip van kreatiwiteit beter verstaan en ontdek hoe die Bybel my help om dit nie net te verstaan nie, maar ook uit te leef.
Bybelkonteks
Die wêreld definieer kreatiwiteit as die vermoë om oorspronklike en waardevolle idees voort te bring. Dit word dikwels verbind aan innovering, kuns of selfuitdrukking. Die moderne samelewing sien dit as ’n individuele prestasie – iets wat uniek en persoonlik is. In navorsing word dit dikwels gedefinieer as iets wat nuut én effektief moet wees. Sonder een van hierdie twee eienskappe, word ’n idee nie werklik as kreatief beskou nie.
In teenstelling hiermee, leer Spreuke 3 my dat kreatiwiteit ’n manifestasie is van Goddelike wysheid. God het nie net geskep nie – Hy het met wysheid en insig geskep. Hierdie teks verbind skepping met strukturele waarheid, insig en nut. Hier sien ek dat kreatiwiteit nie slegs ‘n menslike prestasie is nie, maar ’n Goddelike werking in my wat sigbaar word deur volgehoue denke, toewyding en geloof.
Toepassing
Ek sien dat ek dikwels kreatiwiteit beperk tot “inspirasie” – ‘n oomblik van ‘genialiteit’ ’n Eureka moment. Maar volgens die Bybel is kreatiwiteit nie toevallig nie – dit is geplant in wysheid en gevoed deur insig. Wanneer ek na my daaglikse lewe kyk, besef ek hoe gereeld ek kreatiwiteit nodig het: wanneer ek kommunikeer, probleme oplos, my kinders opvoed, my werk doen, of nuwe idees uitdink vir bediening. Dit alles is skeppend – en dus is dit volgens my geestelik. Volgens my is al God se skepsels kreatief!
God gee my nie idees vir my eie glorie nie, maar om ‘n verskil te maak, om te bou, om ander te dien. Kreatiwiteit is ’n vorm van rentmeesterskap. Net soos God die aarde met ’n doel geskep het, word ek geroep om met doel en verantwoordelikheid te skep. Dalk is my kreatiwiteit nie flambojant of artistiek nie, maar dit is eg en waardevol. Wanneer ek my kreatiewe idees met geloof uitvoer, bring ek lig in ander se duisternis.
Ek moet dus my denke oor kreatiwiteit skuif – van iets eksklusief en elitêr, na iets alledaags en goddelik. Dit begin met eerbied vir God, soos Spreuke sê: “Die vrees van die Here is die begin van wysheid.” Met ander woorde, hoe nader ek aan God leef, hoe meer kreatief word ek – nie net in denke nie, maar in dade.
SAMEVATTING
Kreatiwiteit is meer is as ’n talent of vonk – dit is ‘n manier van mens wees, gewortel in wysheid en geanker in God se karakter. Volgens ons teks is dit deur wysheid dat die aarde gevorm is – dus is elke daad van skepping, groot of klein, ’n weerspieëling van God se beeld in my. Kreatiwiteit beteken om iets oorspronkliks en waardevols in die wêreld te bring. Maar dit gebeur nie outomaties nie – ek moet dit ontwikkel, koester en uitleef.
Ek is nie net geskape om te bestaan nie – ek is geskape om te skep. En elke keer as ek iets nuuts met liefde en wysheid doen, eer ek die Skepper in wie se beeld ek gemaak is.
Twee lesse:
- Kreatiwiteit is nie ’n spesiale gawe vir ’n paar mense nie – dit is ’n Goddelike kapasiteit binne elke mens, meer nog dié wat in God se wysheid wandel.
- Kreatiwiteit is nie los van wysheid nie – dit vloei daaruit voort. Hoe meer ek God ken en vrees, hoe meer kreatief sal ek in my lewe en roeping wees.
GEBED: Hemelse Vader, Dankie dat U my geskape het na U beeld – ’n beeld van skepping, wysheid en liefde. Help my om my kreatiwiteit te sien as ’n geskenk van U,
en leer my om dit te gebruik tot U eer en tot seën vir ander. Mag ek nie wag vir inspirasie nie, maar wandel in U wysheid en verstaan, sodat ek met insig kan bou, vorm en skep in my alledaagse lewe. Laat U Gees my lei om oorspronklike én waardevolle dinge te bring,
sodat ek lig dra in ‘n wêreld wat so dikwels vasgevang is in die ou en bekend. In Jesus se Naam. AMEN
1 thought on “MAANDAG 7 JULIE 2025 – DAGSTUKKIE KREATIWITEIT”
Amen
Baie dankie Ds Obe Phillips.
Ek het dit geniet. Alles wat ons get en is, is van ons Hemelse Vader.
Comments are closed.