KLIMAAT: “NO FUTURE”

Home » blog » Climate Change » KLIMAAT: “NO FUTURE”

KLIMAATSVERANDERING OORDENKINGS : SATERDAG 20 JULIE 2024

Op ‘n ou muur was met graffiti geskryf die woorde “no future” – geen toekoms. Dit is ‘n kreet uit die Engelse punkbeweging “no future.” Maar Banksy het daarby iets bygevoeg. Van die “o” het hy met ‘n paar eenvoudige lyne ‘n ballon gemaak wat deur ‘n meisie vasgehou word. Speelse effek… en terselfdertyd lyk die meisie nie gelukkig nie. Hierdie beeld roep ‘n dieper oorweging op: wil die kunstenaar die neerdrukkende boodskap van die graffiti sagter gemaak ge-ontkrag, of versterk hy met sy toevoeging juis die indringende werking? Die meisie met die ballon simboliseer dalk ‘n sprankie hoop te midde van wanhoop, ‘n brose poging om vas te hou aan iets mooi in ‘n skynbaar hopelose situasie.

Ons moet koppig wees in ons weiering om deel te neem aan problematiese stelsels: nie primêr vanweë die impak wat ons daarmee het nie, maar as profetiese aanklag en om getrou te bly aan God en onsself. Daarmee het elke volhoubare poging betekenis, hoe beskeie ook al soos die meisie met die ballon. In ons daaglikse besluite ons keuses, hoe klein ook al, kan ons standpunte inneem wat die wêreld ‘n bietjie beter maak en getuig van ons geloofswaardes.

En laat ons hoopvol wees. Hoopvol dat dit goedkom, selfs al is dit nie hier, nie nou, en nie met ons nie. God het ons ‘n hoopvolle toekoms belowe, selfs wanneer die huidige omstandighede somber lyk. Soos die meisie met die ballon, kan ons vas hou aan die belofte van beter dae en ‘n regverdiger wêreld. Ons pogings, hoe klein ook al, is waardevol in God se oë. Hulle is getuienisse van ons geloof en ons hoop in Sy belofte van ‘n hernude skepping. Ons moet bly glo dat ons aksies, gewortel in liefde en geregtigheid, bydra tot ‘n beter toekoms, selfs al sien ons nie die volle vervulling daarvan in ons eie lewe nie.

GEBED

Liewe Hemelse Vader, Ons kom voor U met ‘n dankbare hart vir die hoop en die beloftes wat U aan ons gee, selfs in tye van wanhoop en onsekerheid. Help ons om realisties en dapper te wees, en bereid om die waarheid te spreek, selfs wanneer dit moeilik is. Gee ons die moed om deel te wees van die oplossing, om ons te verbind tot volhoubare en regverdige lewenskeuses, nie net vir ons eie voordeel nie, maar as ‘n getuie van ons trou aan U en U skepping. Here, gee ons die wysheid om elke dag besluite te neem wat U eer en wat bydra tot ‘n beter wêreld. Help ons om hoopvol te bly, om te glo in ‘n toekoms wat U vir ons voorberei het, selfs al sien ons dit nie hier en nou nie. Laat ons elke daad van liefde en geregtigheid beskou as ‘n klein, maar betekenisvolle deel van U groot plan. Mag ons hoop en ons geloof skyn in die donkerste tye, en mag ons altyd herinner word dat U by ons is en dat U ons lei na ‘n hoopvolle toekoms. In Jesus se naam bid ons dit. AMEN