KLIMAATSVERANDERING OORDENKINGS : DONDERDAG 18 JULIE 2024
Genesis 2:15: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.”

Die aarde is aan ons toevertrou. God het ons die taak gegee om die wêreld waarin ons leef te bewerk, te bewaar en op te pas. Dit is ‘n groot verantwoordelikheid, en ons moet ons afvra hoe ons omgaan met wat ons toevertrou is. Om ‘n verskil te maak, moet ons bereid wees om opofferings te maak. Ons verhouding met die omgewing weerspieël ons verhouding met God. Ons moet onsself afvra of ons keuses getuig van ‘n liefde vir onsself of ‘n liefde vir God. Kies ons vir ons eie gemak of vir God se eer?
Ons woonbuurt is ons tuiste, en dit moet ‘n plek wees waar ons trots op kan wees. Deur gesamentlike pogings om rommel op te ruim en openbare ruimtes te versorg, kan ons ‘n skoner en mooier omgewing skep. ‘n Netjiese woonbuurt verbeter nie net die leefomstandighede nie, maar verhoog ook die waardering van ons eiendomme en algemene leefkwaliteit. Gesamentlike aksies soos buurt skoonmaak projekte bied geleenthede vir gemeenskapslede om mekaar beter te leer ken en saam te werk aan ‘n gedeelde visie van ‘n skoner, gesonder omgewing. Hierdie kollektiewe pogings versterk die gemeenskap en bevorder ‘n gevoel van trots en verantwoordelikheid vir ons woonbuurt.
Deur verantwoordelik met die omgewing om te gaan, toon ons ons liefde vir God en eer ons Sy naam. Laat die skoonheid van die skepping ‘n lus vir die oog bly, tot lof en eer van ons Skepper.

GEBED: Liewe Hemelse Vader, Ons dank U vir die pragtige aarde wat U aan ons toevertrou het. Help ons om hierdie wêreld met respek en sorg te bewerk en te bewaar. Gee ons die wysheid en die wil om verantwoordelike keuses te maak wat U skepping beskerm en U grootheid weerspieël. Here, ons erken dat ons dikwels verskonings maak en dinge in ons eie voordeel uitleg. Vergewe ons hiervoor en help ons om ons harte op U te rig. Laat ons keuses maak wat U eer en die omgewing bewaar, selfs al kos dit ons iets waarvan ons hou. Mag ons liefde vir U sigbaar wees in hoe ons met die aarde omgaan. Ons bid dat U ons sal lei om rentmeesters te wees wat U skepping eer en bewaar. Mag die skoonheid van die aarde ‘n lus vir die oog bly, tot lof en eer van U naam. Dankie vir U genade en die hoop wat ons in U het. In Jesus se naam bid ons dit. AMEN.