OORDENKINGREEKS – SPORT & CHRISTENDOM DINSDAG 6 AUGUSTUS 2024
1 KORINTHIËRS 9:24 “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.”

Paulus gebruik die metafoor om die geestelike lewe van ‘n Christen met die toewyding en dissipline van ‘n atleet te vergelyk. Alhoewel Paulus sport metafore gebruik, was die vroeë kerk dikwels skepties oor sport, hoofsaaklik as gevolg van die afgode wortels en onrein praktyke wat daarmee gepaard gegaan het. Die vroeë Olimpiese Spele was gewy aan afgode soos Zeus en Nike, en atlete het naak gehardloop, wat vir die Christene onaanvaarbaar was.
Daarbenewens het die gewildste sportbyeenkomste van die tyd, soos die gladiator gevegte, dikwels beteken dat Christene in die arena met wilde diere soos bere en leeus gegooi is. Hierdie grusame praktyke het ‘n duidelike afkeer van sport in die vroeë Christelike gemeenskap veroorsaak. Dit is verstaanbaar waarom die kerk aanvanklik ‘n negatiewe of afwysende houding teenoor sport gehad het, aangesien dit gesien is as ’n bose en dikwels wrede vermaak wat niks met Christelike deugde te doen gehad het nie.

Alhoewel die kerk deur die geskiedenis ‘n oorwegend negatiewe of afwysende siening van sport gehad het, is dit belangrik om sport vanuit ‘n Skriftuurlike perspektief te beskou. Paulus se gebruik van sport metafore dui aan dat daar wel waarde gevind kan word in die dissipline en toewyding wat sport vereis. As Christene kan ons sport beskou as ‘n manier om fisiese gesondheid te bevorder en gemeenskap te bou, maar ons moet dit ook in die regte perspektief plaas. Sport moet nie ‘n afgod word nie, maar eerder ‘n geleentheid om ons geloof uit te leef en God te verheerlik in alles wat ons doen.
GEBED: Hemelse Vader, ons kom na U met dankbaarheid vir die geskenk van fisiese gesondheid en die vreugde wat sport bring. Help ons om sport en alle vorme van vermaak in die regte perspektief te hou en nooit toe te laat dat dit belangriker as ons verhouding met U word nie. Gee ons die wysheid om die dissipline en toewyding wat ons in sport beoefen, oor te dra na ons geestelike lewe sodat ons die wedloop van geloof met volharding kan hardloop. Mag ons U in alles wat ons doen verheerlik, en mag ons lewens getuig van U liefde en genade. In Jesus se Naam bid ons dit. AMEN