BROEDER, DIE GRAS GROEI OP JOU PAD

Home » blog » BROEDER, DIE GRAS GROEI OP JOU PAD

Oordenking: LENT 40 daetyd  – Dag 27

Skriflesing: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word.”  Matteus 7:7

Besinning:  Iewers in ‘n Oos Afrika-dorp, het die vroeë Christelike gelowiges hul daagliks tot God gewend in afsonderlike gebed. Elkeen het ‘n spesifieke plek in die bosse gehad, ‘n stukkie grond wat hulle beskou het as hulle heilige gebeds grond, waar hulle hul harte kon uitstort voor die Here. Hier, in die stilte van die natuur, het hulle God ontmoet en gesels oor hul vrese, drome en hoop.

Oor die jare het die paaie na hierdie gebedsplekke goed uitgetrap geraak, ‘n teken van die toewyding van die gelowiges. As een van die gelowiges, om een ​​of ander rede, versuim het om te bid, was dit gou duidelik vir die ander. Hulle sou hom saggies herinner: “Broeder, die gras groei op jou pad.”

Hulle het mekaar herinner aan die belangrikheid van voortdurende kommunikasie met God, en hulle het mekaar aangemoedig om vol te hou, selfs wanneer die lewe moeilik was. Vir hulle was die gebed ‘n bron van krag, vrede en nadering tot God, en hulle het dit met passie nagestreef. Ek onthou toe dat my pa ook altyd die heuweltjie (waar Rainbow later gebou is) opgegaan het, met sy bybel om preek voor te berei …

GEBED: Hemelse Vader, ons dank U vir die voorreg van gebed. Mag ons volhardend wees in ons soeke na U genade, en mag ons nooit moed verloor terwyl ons aanhou vra, soek en klop. Help ons om daagliks ons harte voor U uit te stort in gebed, en laat ons pad altyd na U toe lei. AMEN

Refleksievrae:

  1. Hoe gereeld maak ek tyd vir privaat gebed en nadenke?
  2. Watter uitdagings ervaar ek wanneer dit kom by volhardende gebed?
  3. Op watter maniere kan ek my gebedslewe versterk en meer intiem raak met God?