WITTE DONDERDAG
EXODUS 24 : 1 – 5 : 9 “Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde…..”

Daar staan julle dan, saam met jou gesin, al jou bekendes, en die hele volk van Israel. Julle het saamgekom onder die skitterende blou hemel van die woestyn, op die voet van die majestueuse berg Sinai. Skoongewaste wit klere dra julle, want dit was die bevel. Julle is gereed vir iets groot, iets heiligs.
Moses, die man van God, staan voor julle met ‘n groot skaal en ‘n kwassie in sy hand. In die skaal is daar bloed – die bloed van offerdiere wat geslag is as ‘n simbool van gehoorsaamheid en aanbidding. Julle het dit self gesien, hoe die altaar rook na die offerande en die bloed opgevang is in die groot skale.
Dit is ‘n plegtige oomblik. Julle weet dat die Here, die God wat julle en die hele volk uit Egipte bevry het, vandag ‘n verbond met julle gaan sluit. Hy beloof om julle God te wees en julle beloof om sy mense te wees. Dit is ‘n verbintenis wat julle tot in die ewigheid sal dra.
Moses neem die kwassie en doop deeglik diep in die skaal met bloed. Met ‘n ernstige uitdrukking op sy gesig, sprenkel hy die bloed oor julle heen. Oor jou, oor jou kinders, oor almal wat daar teenwoordig is. Jou skoon gewaste wit klere kry rooi spatsels, en selfs jou gesig word gemerk met die heilige bloed van die verbond.
“Wat is dit?” vra jy, terwyl jy die rooi vlekke op jou hande en klere sien.
“Dit,” sê Moses plegtig, “is die bloed van die verbond wat die Here met julle gesluit het. Dit is ‘n teken van sy ewige liefde, sy beskerming en sy belofte om altyd by julle te wees. Dit is ‘n teken van julle verbintenis aan Hom, en Hy aan julle.”
Julle staan daar in die skadu van die berg, met die bloed van die verbond op julle. Julle is nie net ‘n volk nie, maar ‘n gemeenskap van gelowiges, ‘n familie wat deur God self uitverkies en geseën is. Julle is verbonde deur die bloed, en niks kan julle skei van die liefde en die beloftes van julle God nie.
‘n Oomblik om nooit te vergeet nie! Hier gebeur iets, iets baie belangrik, selfs die kinders voel dit aan. Nou is julle aan die Here verbind. Aan daardie groot God wat julle uit Egipte bevry het. Hy het sy reëls gegee – almal het dit gehoor en daarmee ingestem. Hy het sy seën beloof, Hy lei julle na die beloofde land. En jy – behoort – aan – Hom. Soos daar bloedspatsels op jou klere sit. Soos daar offerbloed gevloei het. Vir ewig die syne! Wat ‘n voorreg. Wat ‘n verantwoordelikheid ook. Hier begin iets nuuts: ‘n volk, heeltemal vir die Here!

DIE DISSIPELS
Daar sit julle dan! As leerlinge van Jesus, aan tafel by daardie laaste Pasga-maaltyd met Hom. Daar sit julle dan, as leerlinge van Jesus, aan die Heilige Nagmaal tafel! En wat gebeur? Jesus reik julle ‘n beker aan. ‘n Beker bloedrooi wyn, en Hy sê daarmee: “dit is my bloed, die bloed van die nuwe verbond.” ‘n Beker bloed, dit is ‘n aangrypende simbool! Gelukkig is dit wyn. Maar terselfdertyd tog: Jesus se bloed. Wat is dit? “Dit,” sê die Here, “is die bloed van die nuwe verbond, wat vir baie vergiet word.”
‘n Oomblik om nooit te vergeet nie, toe aan daardie tafel by Jesus. En dit word ook nie vergeet nie. Deur alle eeue heen het die volgelinge van Jesus die beker deurgegee, daaruit gedrink. Want hier gebeur iets, daar het iets gebeur, iets baie belangrik. Jesus se bloed stel ‘n nuwe verbond in. Die beker bloed, die beker wyn, sê dit, net soos die bloed toe al by die berg: jy – behoort – aan – die – Here! God het jou gekies. Hy lei jou na die beloofde land. Daar begin iets nuuts: ‘n volk van God, uit al die nasies versamel, om vir Hom te lewe. En so waar jy die wyn proe, jy behoort daarby! Wat ‘n voorreg, wat ‘n verantwoordelikheid!
Toe al by die berg is offers, baie waardevolle offers gebring. Maar een dag, op Golgota, is ‘n offer gebring, nog baie groter. Jesus offer Homself vir ons. Om die sondes te versoen, om ‘n volk te versamel, om ‘n nuwe begin te gee. Sy bloed beseël ‘n nuwe verbond, vir al die nasies. Almal wat God se beloftes hoor en daarmee instem, word aan God verbind. Deurdat Jesus se bloed gevloei het vir ons.
SAMEVATTING
Nee, ons drink nie bloed nie. Nee, ons kry nie spatsels op ons wit hemp nie. Maar bloed, dit wil in die Bybel sê: lewe. Hy, die Here, het sy lewe gegee. Ons ontvang sy lewe, ons mag dit indrink met die wyn. Altyd weer, met ontelbare gelowiges regoor die wêreld vanaand. Jesus het ons die Nagmaal gegee. Hy gee ons Homself. GESEENDE PAASNAWEEK!! AMEN

GEBED: Almagtige God, ons dank U vir U Seun Jesus Christus, Hy het tot uiterstes gegaan deur die dood, aan U verbind ongeag marteling. In Hom (Jesus) is U God – met-ons, bondgenoot en tafel metgesel van mense. Bly naby ons. Hou Sy droom onder ons lewend, sodat ons kan in vrede lewe met mekaar, verbonde aan mekaar deur Sy gemartelde liggaam op via Dolorosa en Sy bloed gestort aan die ou ruwe kruis. Ons wil U mense wees nou en vir altyd. AMEN