DEEL ONS, ONS SEËNINGE MET MINDERBEVOORREGTES?

Home » blog » DEEL ONS, ONS SEËNINGE MET MINDERBEVOORREGTES?

OORDENKINGREEKS: MEDEDEELSAAMHEID (1)

MAANDAG 27 MEI 2024

Parakletos Dienssentrum – Kleinvlei Eersterivier

In die tweede brief van Paulus aan die Korinthiërs lees ons oor ‘n basiese vorm van deel: die deel van ons Seëninge met mense wat minder het. Paulus is hier besig met ‘n geldinsameling vir die arm Christene in Jerusalem. Daar is armoede en gebrek, en Paulus roep al die gemeentes wat hy gestig het op om deel te neem aan hierdie kollekte. Hy skryf twee hele hoofstukke oor die belangrikheid van hierdie aksie. Gelowiges is geroep om prakties te wees in hulle geloof deur te deel van wat hulle het. Die Bybel is baie duidelik daaroor: “God het ‘n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7). Hierdie oordenkingreeks se tema, “deel met die ander”, beklemtoon ook hierdie praktiese aspek van ons geloof – om ons welvaart te deel met dié wat dit nodig het. Daar is verskeie maniere waarop ons kan deel soos:

Geld Gee vir Noodsaaklike Doeleindes: Net soos Paulus die gemeentes gevra het om te gee aan die arme Christene in Jerusalem, kan ons ook gee aan diegene in nood. Dit kan deur ‘n kollekte wees, deur donateur te wees van ‘n NGO, of deur ’n kindprojek finansieel te ondersteun. Dit is belangrik om te vra: hoeveel van ons Seëninge deel ons werklik met diegene wat baie min het? Laat ons God se oproep tot mededeelsaamheid ernstig opneem en dit deel maak van ons lewens. Mag ons deel met ‘n blymoedige hart, en so die liefde van God sigbaar maak in hierdie wêreld.

Tyd en Vaardighede Deel: Benewens finansiële ondersteuning, kan ons ook ons tyd en vaardighede deel. Vrywillige werk by ‘n plaaslike sopkombuis, mentorskapprogramme vir jongmense, of hulp aan bejaardes in ons gemeenskap, ambagwerk ens is alles praktiese maniere om te deel wat ons het.

Quinton Adams “The Shackbuilder

Materiële Bydraes: Ons kan ook deel deur materiële bydraes soos klere, kos, en ander benodigdhede. Baie organisasies aanvaar sulke bydraes en versprei dit aan diegene wat dit die meeste nodig het.

GEBED: Hemelse Vader, ons dank U vir al die seëninge wat ons ontvang het. Help ons om hierdie seëninge te deel met diegene wat in nood is. Gee ons ‘n hart wat blymoedig gee, net soos U ons liefhet. Lei ons om ons geld, te gebruik tot voordeel van ander. Mag ons lewe ‘n weerspieëling wees van U genade en liefde. Ons bid dat U ons sal seën in ons pogings om te deel, sodat U Naam verheerlik mag word. In Jesus se Naam bid ons. AMEN.