WEES VERSIGTIG MET JOU WOORDE

Home » blog » WEES VERSIGTIG MET JOU WOORDE

Oordenking oor Angs (4)

DINSDAG 4 JUNIE 2024

Jy kan dus kies of jy mense gaan opbou met jou woorde of hulle daarmee gaan afbreek. Jy kan kies om stil te bly wanneer dit beter is en woorde net ‘n situasie gaan vererger. En jy kan ook kies of dit wat by jou mond uitkom God verheerlik of jou getuienis vir Jesus skade doen. Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor.

Stil wees in geloof is dikwels moeilik, want ons is geneig om ons eie menings te hê en ons situasies self te probeer beheer. Ons teks waarsku ons om versigtig te wees met ons woorde. As ons probeer om self te stry, doen ons dit vanuit ongeloof, en dan kan God nie vir ons stry nie. Die enigste manier om hierdie stryd te wen, is deur op ons knieë te gaan en alles aan God oor te gee. Wanneer ons stil word voor die God van wonderwerke, wat ver bo elke situasie staan, gee ons Hom die geleentheid om Sy grootheid, mag en goedheid aan ons te openbaar. God wil vir ons wys hoe magtig en goed Hy is, selfs te midde van ons angs en vrees.

GEBED: Hemelse Vader, dankie dat U ons versterk en help in tye van angs. Leer ons om stil te wees en ons vertroue in U te plaas, wetende dat U vir ons sal stry. Help ons om ons woorde en dade aan U oor te gee en op ons knieë U hulp en leiding te soek. Wys ons U grootheid, mag en goedheid, en gee ons die geloof om te weet dat U in beheer is van elke situasie. Ons loof en prys U Naam vir die wonderwerke wat U in ons lewens sal doen. In Jesus se Naam bid ons, AMEN.